Nuuskommentaar: Korrupsie en die SAUK-imbongi

Hoe swakker ‘n leier vaar, hoe raseriger is sy imbongi, die lofpryser. Of so lyk dit op die oog af. Voor die groot indoena sy sê kom sê sal dié raserige mannetjie in diervelle hom heeltemal hees verskree en die program van die verrigtinge heeltemal deurmekaar krap deur lank tekere te gaan oor die deugde en opgemaakte deugde van die leier.

Dis eintlik ‘n kunsvorm, en behels eintlik sang of poësie, maar die werklike kuns het grootliks uitgesterf. Nou het dit grootliks in ‘n verleentheid ontaard.

Gister is die internasionale dag teen korrupsie gedenk. Enkele dae  tevore het Suid-Afrika op Transparency International se indeks met vyf plekke na die 69de plek teruggesak. Sedert 2001 het Suid-Afrika 31 plekke teruggesak, en amper die helfte van die skade die afgelope twee jaar opgedoen.

So vuisvoos is die Suid-Afrikaanse publiek oor slegte korrupsienuus dat min media oor die jongste daling op die indeks berig het. Volgens die elektroniese argiewe het net een van Media 24 se Afrikaanse dagkoerante, Beeld, hieroor berig.

As dit kom by beriggewing en rubrieke oor korrupsie, lyk die prentjie egter heelwat anders. In haar rubriek in Die Burger, skryf prof. Amanda Gouws onder die opskrif, Só hou die ANC jou gyselaar onder meer soos volg: “Te oordeel na die faksiegevegte, korrupsie en gebrek aan dissipline in die ANC sou ek dink die party se legitimiteit beleef ’n absolute laagtepunt – minstens vir dié van ons wat demokratiese regering verwag.

Een van die kommerwekkende aspekte wat tot ’n gebrek aan legitimiteit lei, is die manier waarop die ANC oorsiginstellings behandel.

Die howe word as “teenrevolusionêr” beskou en die media asof dit in die interne sake van die ANC sou inmeng.

Vir die ANC is ondersoekende joernalistiek ’n euwel omdat dit ’n beeld van die ANC voorhou waarvan partylede niks hou nie.“

Verskeie van Media 24 se publikasies het ‘n hoofartikel gedeel waarin onder meer geskryf word: “Die ANC word al hoe meer ’n tregter na die voerkrale waarvoor die belastingbetaler opdok en waaruit die burgery, veral armes, min baat vind.”

Pas het Rapport die probleem in ‘n hoofartikel aangespreek onder die titel, Die ‘klein’ skandale. Daar word dikwels openlik ‘n verband tussen pres. Jacob Zuma en die vlakke van korrupsie getrek, soos Rapport se hoofredaksionele kommentaar, Zuma wíl korrupsie nie stuit. Hoewel hierdie verband wyd getrek of geïmpliseer word, is daar een plek waar die kennelik ontbreek: die SAUK.

Hoe nader die ANC se kongres die einde van  die jaar kom, hoe duideliker word dit dat die SAUK, en veral die TV, niks anders as Zuma se ibongi geword het nie. Dit word nie eens subtiel of diskreet gedoen nie, soos die opdragte van Jimi Mettheuws, nuus-grootbaas, dat die SAUK nie na Nkandlagate mag verwys nie, of na Nkandla as “compound” mag verwys nie. Hierna is ‘n radio-besprekingsprogram kort voor die uitsending gestuit omdat die ANC nie op die andersins a-politieke paneel verteenwoordig was nie.

Die Burger het selfs ‘n hoofatikel gewy aan “His Master’s Voice,” onder die opskrif: SAUK dien die ANC, nie die nasie.

Oor die onthullings rondom Zuma wat in die gedrukte media geplaas word, soos die jongste ouditverslae wat onthul hoe Zuma skenkings ontvang het, onder meer van baie bedenklike bronne, het die SAUK se TV- en radiostasies soos die graf geswyg.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die SAUK-grootbase gaan reageer op gisteraand se Kommentaar op RSG. Hier het die paneel, onder wie Max du Preez, sonder handskoene onder die SAUK oor sy politieke gedienstigheid ingeseil. Na die program self is as ‘n eiland van onafhanklikheid binne die SAUK verwys. In effek is die Onafhanklike Uitsaai-owerheid uitgedaag om die SAUK tot orde te roep, of om self as imbongi ontmasker te word.

Kortom, sou die SAUK-base nou teen die aanbieder optree, kan die SAUK die gevaar loop om sy uitsaailisensie te verloor, na daar reeds ‘n klagte teen die SAUK by Ikosa ingedien is.

Oor presies hoe objektief en politiek-onverbonde die program self is, is ‘n bietjie van ‘n ander vraag. Die afgelope week se Afrikanerdilomasie by veral die UNPO  en in die Lae lande is verswyg.

Hoewel daar ‘n verskil kan wees tussen ‘n persepsie van korrupsie en die werklike toedrag van sake, is dit ook so dat mense volgens hul persepsie van die werklikheid eerder as die werklikheid self optree. En die persepsie wat die SAUK probeer skep deur Zuma presidensieel te laat vertoon, en die gevolge is nie uniek nie. Ook in die vorige bedeling is die voorsitter van die SAUK gereeld deur die president en sy minister verantwoordelik vir die SAUK gebel en uitgetrap omdat die president nie meer dikwels op TV is nie. Tot ‘n peiling getoon het die betrokke president se gewildheid daal hoe meer hy op TV verskyn.

Op die oog af lyk dit of min of meer dieselfde nou gebeur.  Terwyl Zuma die volslae gunsteling is om deur afgevaardigdes tot ANC-leier herkies te word, dui ‘n Ipsos-peiling dat meer ANC-ondersteuners meen adjunk-president Kgalema Motlanthe sal beter vaar.  Die peiling is in November gedoen, en sedertdien was daar weekliks onplesierige onthullings oor die president – maar die SAUK is baie ondersteuners van die ANC se enigste toegang tot nuus – en vir hulle word ‘n ander prentjie opgedis.

Op gisteraand se RSG-kommentaarprogram is sterk gevoel oor die skade wat professionele joernaliste by die SAUK weens dié eensydigheid aan hul reputasies ly, en Max het so ver gegaan om te sê die joernaliste moet ‘n staking oorweeg as die SAUK nie tot sy sinne kom nie.

Hoe behoort die SAUK oor korrupsie te rapporteer?

Die antwoord is doodeenvoudig: deur die regte norme hieroor te gebruik.

En die regte norme is nie om in ‘n pos aan te bly tot daar eendag ‘n skuldigbevinding plaasvind, soos die ANC klaarblyklik met hul Block aan die been, die Noord-Kaapse John Block maak nie.

In Indonesië het die minister van Jeugsake en Sport, Andi Alfian Mallarangeng, pas self bedank nadat sy naam as verdagte genoem is in ‘n ondersoek na die bou van ‘n stadion. Hy was ‘n politieke swaargewig, en onder meer presidensiële woordvoerder voor hy minister geword het. Hy is nog lank nie skuldig bevind nie, en hou vol dat hy onskuldig is. Maar hy bedank in belang van die partybeeld en die wêreld se persepsie van sy land se erns teen korrupsie. Ten spyte van Indonesië se veldtog teen korrupsie die afgelope drie jaar het dié land in een jaar van die 100ste na die 118de plek op die korruposiepersepsie-indeks teruggesak.

Dit behoef geen profeet om te voorspel waarheen Suid-Afrika gaan terugtuimel as die SAUK, in sy poging om imbongi te wees, die persepsie verdiep dat dit as openbare uitsaaier deel is van ‘n toesmeeraksie nie.

Die SAUK doen nie die land ‘n guns nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.