Rugby-moord: Uitspraak gelewer

Blayne Shepard op 27 Augustus 2015 in die hof Foto: Giordano Stolley/ANA

Blayne Shepard op 27 Augustus 2015 in die hof Foto: Giordano Stolley/ANA

Blayne Shepard, die man wat daarvan beskuldig word dat hy Brett Williams, ʼn voormalige seesoldaat in die Royal Marines, ná ʼn rugbywedstryd vermoor het, is Vrydag gevonnis.

Landdros Tevor Levitt het Shepard tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Levitt het gesê hoewel Shepard ʼn eerste oortreder is, het hy rehabilitasie nodig. “Die howe is nie hier om wraak te neem nie. Hulle is hier vir geregtigheid.”

Shepard se ma het sag gehuil terwyl sy pa die verte in gestaar het terwyl die uitspraak gelewer is. Levitt het gesê hy het simpatie vir die familie weens die “openbare misbruik” wat hulle ervaar het. “Vir die publiek om jou te dreig is onaanvaarbaar. Die publiek is redelik onkundig oor die wet,” het Levitt gesê met verwysing na bewerings dat Shepard dreigemente ontvang het.

Shepard is in Junie skuldig bevind aan strafbare manslag vir sy rol in die voorval op 23 Maart 2013 wat tot Williams se dood gelei het.

Hy is aanvanklik saam met drie ander mense aangekla. Die saak teen Andries van der Merwe,
Dustin van Wyk en Shepard se ouer broer, Kyle Shepard, is in Desember teruggetrek. Levitt het gesê die bewyse teen die drie voldoen nie aan die vereiste standaarde vir ʼn prima facie-saak teen hulle nie. Hulle het tereg gestaan op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, crimen injuria en openbare geweld.

ʼn Vyfde beskuldigde, Grant Cramer, het aanvanklik tereg gestaan op aanklag van aanranding, maar hy het homself as staatsgetuie beskikbaar gestel.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.