“Ons het die bepaling en voorwaardes vir ʼn ouerskapplan bespreek waarvolgens die ma’s kontak met hulle biologiese kinders sal hê,” het Henk Strydom, die ma se regsverteenwoordiger, gesê. “Daar sal nooit ʼn situasie wees waar die ma’s geen kontak met hulle biologiese kinders sal hê nie.”
Die seun en meisie is op 2 Augustus 2010 by die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg tydens geboorte omgeruil. Die ouers het ingestem om die kinders wat hulle grootgemaak het, te hou. Dit het aan die lig gekom dat die kinders omgeruil is toe een van die pa’s op ʼn vaderskaptoets aangedring het en daar vasgestel is dat nie een van die ouers ʼn biologiese ouer is nie.
Ma NN, soos wat sy in hofstukke bekend staan, bly saam met die vierjarige seuntjie in Vosloorus terwyl Ma NS saam met die dogtertjie in Tembisa bly.
Ann Skelton, direkteur van Tuks se Sentrum vir Kinderreg, is deur die hooggeregshof in Pretoria aangestel om die saak te ondersoek en aanbevelings te maak. Sy het aanbeveel dit is in die kinders se beste belang om by die ouers te bly deur wie hulle grootgemaak is.
Volgens Skelton se verslag wat aan die hof voorgelê is, wou Ma NN aanvanklik haar biologiese kind terughê maar het sy van plan verander nadat sy gesien haar dogter is baie geheg aan Ma NS.
Sy het egter intussen weer van plan verander. “Ek sal haar graag een of ander tyd wil terughê. Bloed is dikker as water,” het die 33-jarige ma aan die koerant gesê.
Baie hartseer. Ek voel vir julle. Wens jul kry werk naby mekaar.