Vloedskade aan paaie, huise in Kaapstad

Bakoven Foto: NSRI

Bakoven Foto: NSRI

Paaie en huise in sommige dele van Kaapstad is deur oorstromings beskadig, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Vrydag gesê.

“Rowwe seetoestande tydens ʼn hoë springgety het Vrydagoggend vroeg oorstromings veroorsaak,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê.

ʼn Kampeerterrein by Silverstroomstrand moes ontruim word.

Ander gebiede wat hierdeur geraak word, sluit Melkbosstrand, Milnerton, Houtbaai, Kleinbaai, dele van Bloubergstrand, Derde Steen, Tweede Steen, Riebeekstrand en dele van Baden Powell-rylaan in.

Sekere paaie is tydelik gesluit vir skoonmaakoperasies. “Puin en seesand het ook oor die paaie gespoel,” het Lambinon bygevoeg.

Swemmers en persone op bote in Plettenbergbaai en Cape Columbine word gemaan om versigtig te wees, aangesien nog erge weerstoestande verwag word.

Hy het gesê daar sal vroegaand ʼn hoogty wees. “Sterk systrome kan ook al langs die kus verwag word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.