‘Plaasjapie’: Pekelpennie red dié stadsjapie van trekpas kry

Daar was nie ‘n tekort on konkelry in Donderdagaand se episode van ‘Plaasjapie’ nie. (Foto: Verskaf)

Konkelry, kinkels en konfrontasie was volop in Donderdagaand se aflewering van die kykNET-werklikheidsreeks Plaasjapie.

In dié program verruil 16 deelnemers hulle gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan vir ʼn kans om R1 miljoen te wen. Dié bedrag is egter nou na R975 000 verlaag nadat Danielle van die Groenkloof-span reeds haar pekelpennie gebruik het om meer tyd op die plaas te koop.

Maroela Media het vroeër berig dat die plaasjapies vanjaar elkeen ʼn pekelpennie ontvang het wat gebruik kan word om sout by aanbieder Ewan Strydom te “koop” indien hulle vermoed dat hulle uitgestem gaan word.

Met elke pekelpennie wat ingespan word, word daar geld van die R1 miljoen prysgeld afgetrek.

Danielle, ʼn 24-jarige somatoloog van Rustenburg, Noordwes, het R25 000 van die bedrag afgeskaaf ná haar span die uitklopuitdaging verloor het en gevolglik vir ʼn tweede opeenvolgende koöperasie-kuier genooi is.

Oranjezicht is weer koöperasie-kuier toe gestuur. (Foto: Verskaf)

“Om ʼn pekelpennie so vroeg te speel, is ʼn baie selfsugtige keuse. Ons almal is hier vir volwaardige redes, en as jy dan van daardie prysgeld gaan wegneem om dalk net in die volgende ronde uitgestem te word, is dit ‘n selfsugtige ding van jou,” het Pieter Gouws (28), ʼn meganiese ingenieur van Kaapstad, gesê voordat sy span gestem het vir die volgende persoon om die trekpas te kry.

Hoewel skynbaar elke lid van Oranjezicht sout uit Danielle se silo geskep het, het Liezle Wiese (56), ʼn verkoopsverteenwoordiger en bemarker in die konstruksiebedryf van Germiston, Gauteng, eindelik huis toe gegaan.

“Ek is oukei. Ek wou die miljoen rand gewen het om my toekoms te verseker, vir my en my man, want ons het niks nie en ek het so hard probeer,” het ʼn tranerige Liezle gesê.

Liezle is Donderdagaand huis toe gestuur. (Foto: Verskaf)

“Ek het nie gedink ek gaan so emosioneel wees nie. Ek het gedog ek gaan ’n bietjie sterker wees. Mense trap oor my, maar dit is wat dit is, en ek sou niks anderste gedoen het nie.”

Die wrywing tussen Liezle en Danielle het in aanloop tot die koöperasie-kuier kookpunt bereik nadat Liezle haar daarvan beskuldig het dat Danielle haar voor die ander spanmaats verneder het.

Danielle het Liezle voor ander spanlede gekonfronteer oor hul konkelry om haar uit te stem, waarna Liezle gevra het dat die twee mekaar liefs alleen moet aanspreek.

Die gras is vir nou nog lekker groen by Groenkloof. (Foto: Verskaf)

“Ek gáán jou afstem vanaand, want ek dink jy is lui. Jy staan met jou geel harkie in jou hand die hele dag en doen niks. Die res van ons werk bitter hard.”

Liezle het ʼn duidelik ontstelde Danielle ook as ʼn “diva” bestempel en gesê sy is nie enigste lid van Oranjezicht wat dié sentiment deel nie. Sy het haar verder aangesê om na haar as “tannie Liezle” te verwys as gevolg van hul ouderdomsverskil.

“My prioriteite is by die plaas en die diere, nie om shine te vang nie. You’ve got that? So dis ‘tannie Liezle’ vir jou.”

Danielle het teruggekap en gesê dat sy egter nie ouer mense só aanspreek nie.

“As jy my nie kan ‘tannie’ noem nie, dan stap ek liewer weg. Dan het jy geen maniere nie,” het ʼn vurige Liezle teruggeantwoord.

Alhoewel Danielle later vir Liezle en die span verskoning vir haar optrede gevra het, was haar lot op die plaas reeds duidelik tydens die koöperasie-kuier – daarom haar besluit om die pekelpennie te benut.

Nie álles is verlore nie

Hoewel hul nou nóg ʼn spanlid kwyt is, het Oranjezicht wel koning gekraai met die beloningsuitdaging en die beste wingerd gebou.

Groenkloof het weer koning gekraai met die uitklopuitdaging. (Foto: Verskaf)

Vlok Hanekom, ’n wingerdboukundige by Steenberg én Boer soek ’n vrou-deelnemer van seisoen twee, het as beoordelaar opgetree.

By Groenkloof is daar hard aan verhoudings gekweek, maar Etienne de Villiers (36), ʼn bruilof- en geleentheidsbeplanner van Pretoria, Gauteng, is klaarblyklik by meer as een bondgenootskap betrokke en het sy spanmaat Milandie laat twyfel oor sy lojaliteit.

Boer Ewan het Groenkloof herinner om nie net hul prysgeld nie, maar ook hul diere te prioritiseer nadat daar opgemerk is dat dié span se hoenders sonder water gelaat is.

Dalk is dit hier ’n geval van water is so skaars soos hoendertande.

  • Plaasjapie is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ore ·

Grawe ‘n gat vir iemand anders dan val jy self daarin….Liezle het dit geleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.