My ervaring: Selfbesering onder tieners

Felicia Richardson (Foto verskaf)

Deur Felicia Richardson

Selfbesering onder tieners is ʼn ingewikkelde en uitdagende kwessie vir ouers om aan te pak. Dit is noodsaaklik om te besef dat selfbeseringsgedrag dikwels ʼn gevolg van emosionele stres is en die redes vir selfbesering aansienlik kan verskil van een individu tot die ander. Selfbesering onder tieners is besig om oorweldigend toe te neem, daarom wil ek graag meer insig in hierdie tema bied. Ek deel my persoonlike ervaring met selfbesering as ʼn tiener, maar ook insig oor wat navorsing sê.

Begrip van selfbesering

Selfbesering is wanneer jy jouself opsetlik seermaak as ʼn manier om emosionele pyn, trauma, wanhoop, spanning of oorweldigende gevoelens te hanteer. Selfbeseringsgedrag is dikwels geheimsinnig, dit word toegedien op plekke waar niemand dit noodwendig op die oog af sal raak sien nie, en kan sny, prik, brand, krap, byt, slaan, of ander vorms van selfleed insluit.

Persoonlike ervaring

My eie reis met selfbesering het op ʼn baie jong ouderdom begin. Op die ouderdom van twee jaar oud is my ouers geskei, op die ouderdom van vier is ek blootgestel aan alkoholmisbruik onder my ouers en huishoudelike geweld. Tussen die ouderdom vier en 14 jaar het ek intense verwerping deur my biologiese pa ervaar. Daar was armoede. Ek is deur molestering. Ek kan aan en aan gaan met die lys van ongelooflike trauma waardeur ek as kind was. Hierdie emosionele trauma het my met intensiewe emosionele pyn, gevoelens van onwaardigheid, woede en onsekerheid gelaat.

Hierdie emosionele letsels het ʼn invloed gehad op my vermoë om vriende te maak, die soort vriende wat ek gemaak het, die diep begeerte om in te pas, my akademiese prestasies, my selfbeeld, gevoelens van geen waardigheid, dat ek nie geliefd is nie, en so kan ek maar aangaan.

Ongelukkig was ek nie in daardie stadium blootgestel aan hulpbronne om hierdie emosies te navigeer nie, en ek het myself meestal tot selfbesering gewend wat ek ook vir die eerste keer by ʼn groep vriende gesien het wat basies maar die groep kinders was wat bekendgestaan het as die voëltjies met die af vlerke.

Trauma

Elke mens ervaar trauma of verwerping op verskillende maniere. Ek is van mening dat selfbesering meestal uit ʼn plek van ʼn onbehandelde posttraumatiese of traumatiese ervaring kom wat dan gevoelens van depressie, frustrasie, minderwaardigheid en hulpeloosheid tot gevolg het. Die groep “vriende” wat ek gemaak het wat as die voëltjies met die af vlerke beskou was, het elkeen ʼn unieke storie gehad, maar ook nie só uniek dat die res van die groep nie verstaan het nie. Ek dink terug aan die een seun wie se ouers skatryk was, maar nooit by die huis was nie. Hy was die een wat ook altyd sy huis oopgemaak het vir almal om te kom kuier. Die verwerping en begeerte om net geliefd te voel deur sy ouers het hom gedryf om uiting aan die pyn op ander maniere te gee. Die jong meisie wie se ouers konstant baklei het. Die seun wie geboelie was omdat hy “arm” was. Die beeldskone meisie wat geen selfbeeld gehad het nie omdat sy konstant deur verskeie mense afgekraak is. Die meisie wat gedruk was om te presteer en net nie meer kon cope nie en gevoelens van minderwaardigheid ontwikkel en haarself tot selfbesering gewend het. Hierdie lys gaan aan en aan, maar die punt wat ek wil maak is dat ek het besef dat elke jongmens wat hulle self tot selfbesering wend, onverwerkte negatiewe gevoelens het wat tot groter emosionele uitdagings lei. Hierdie is ook gewoonlik jongmense wat voel dat hulle nie ʼn ondersteuningstelsel het wat hulle verstaan nie.

Insigte uit navorsing

Felicia Richardson kan getuig daar is hoop vir tieners wat selfbeseer. Sy het vandag haar eie gesin, is gelukkig getroud en is passievol oor haar beroep. (Foto verskaf)

Onlangse navorsing bied waardevolle insigte oor selfbeseringsgedrag onder tieners:

Toename: Selfbesering het in die afgelope jare toegeneem. Dit is noodsaaklik dat ouers hulself toerus met kennis oor hierdie kwessie.

Geslagsverskille: Navorsing toon dat selfbesering beide seuns en meisies affekteer en dat daar al hoe minder verskille is in hoe selfbesering toegedien word. Seuns is wel meer geneig om mure te slaan of roekelose gedrag aan te neem, terwyl meisies geneig is om te sny of te brand. Ongelukkig toon navorsing ook dat seuns wat selfbeseer, meer geneig tot selfdood is.

Geestesgesondheid: Navorsing toon dat selfbesering hand aan hand loop met ander geestesgesondheidskwessies, soos depressie, angs of ʼn geestesversteuringsprobleem. Dit is belangrik om seker te maak jou tiener kry vroeg genoeg hulp indien jy agterkom dat hulle onverwerkte trauma of negatiewe emosies ervaar. Indien jy as ouer self sukkel met onverwerkte trauma of konstante negatiewe emosies, is dit belangrik dat jy ook hulp kry. Die impak wat dit op jou tiener kan hê, is groter as wat jy besef.

Verslawing: Ja, dit kan ongelukkig veroorsaak dat mens verslaaf word aan die gevoel. Ek kan hiervan getuig. Navorsing toon dat endorfiene tydens selfleed afgeskei kan word. Hierdie endorfiene is die liggaam se natuurlike goedvoel-chemikalieë wat help om stres en angs te verminder. Dit kan ʼn tydelike gevoel van plesier of verligting skep. Dit dra by tot die verslawende aard van selfbesering vir sommige individue.

Hoe ouers kan help

Die eerste stap is om nie te oordeel nie. Die tweede stap is om selfbesering te verstaan sodat jy jou tiener optimaal kan ondersteun. Hier is ʼn paar wenke uit persoonlike ervaring, maar ook navorsing:

 Ek wil graag klem lê op hoe belangrik die rol van ouers, familie, onderwysers en vriende op hierdie pad na genesing is. Begrip, ondersteuning en liefde deur die bogenoemde rolspelers, is van kardinale belang.

Alhoewel ek self nie baie ondersteuning gehad het nie, het die volgende my gehelp tot genesing:

  • Terapie: Dit is regtig belangrik dat jou tiener oor die weg kom met haar of sy terapeut en ook voel dat die persoon haar/hom verstaan. Die eerste twee sielkundiges wat ek gesien het, het my konstant laat voel dat hulle my oordeel. Ek het eers werklik begin genees toe ek by ʼn baie liefdevolle en passievolle spelterapeut beland het, en later in my lewe by ʼn lewensafrigter.
  • Stokperdjies: Ek was uitgedaag om werklik te gaan dink oor dit waarvoor ek lief was om te doen en meer tyd daaraan te spandeer. Help jou kind om hulle passies te ontdek en meer aandag daaraan te gee.
  • Positiewe invloed: Ek het begin om tienerkerk by te woon. Dit is wel belangrik om ʼn kerk te vind waar jou tiener voel hulle pas in en gaan nie geoordeel word nie. Hoe meer jy met positiewe mense omring word, hoe vinniger word die donker wolk oor jou kop ligter.
  • Tyd: Spandeer soveel moontlik gehaltetyd saam met jou tiener. Doen dinge waarvan hulle hou. Moedig geselskap aan. Probeer jou bes om hulle uitdagings en triggers te verstaan. Skryf dit op ʼn breinkaart en vind saam oplossings.
  • Eetgewoontes: Moedig gesonde eetgewoontes aan. Serotonien, jou goedvoel-hormoon, word in ons dermkanaal gemaak. Navorsing toon dat om en by 90% van ons serotonien in ons dermkanaal gemaak word. Volgens dr. Michael Conlon van die Australiese Organisasie vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (SIRO) is vesel verreweg die beste pad na ʼn gelukkige mikrobioom (soos daar na jou dermkanaal en al sy mikroörganismes saam verwys word). Net soos serotonien word ʼn hele aantal ander neurostowwe ook in die dermkanaal in samewerking met dermflora gemaak. Ons is net so gelukkig en gesond soos ons dermkanaal is. Groente is die beste strategie vir ʼn beter dermflora. Eet groente met elke maaltyd. Suiker en meel laat verkeerde bakterieë floreer. Moedig oefening aan. Dit help regtig. Probiotika kan ook help, maak net seker dit bevat genoeg organismes, anders help dit glad nie. Dit moet tussen “een honderd miljoen”, “100 000 000”, “108” of “een miljard CFU’s” bevat.

Daar is hoop

Dit is nie ʼn maklike pad om te stap nie, nie as ouer of die tiener wat deur die selfbeseringgewoontes gaan nie. Mense oordeel maklik, veral dié wat geen begrip het van wat hierdie probleem in die eerste plek teweeggebring het nie. Liewe ouer, liewe tiener, ek wil vandag vir jou sê daar is hoop! Ek was hierdeur, ek het self my eie lewe probeer neem, meer as een keer!

Tog sit ek vandag hier, voor my rekenaar besig om vir jou hierdie artikel te skryf omdat dit regtig my hart is om te sien dat elke jongmens hul regmatige spasie sal opneem op hierdie aarde, dat hulle sal besef hoe waardig hulle is. Dat hulle sal besef dat hulle saak maak, dat die Here hulle geskape het met ʼn spesifieke doel in gedagte. Dit is werklik my hart dat hulle sal besef dat geen omstandighede of jou verlede bepaal wie jy is of wie jy moet wees nie. Jy het ʼn keuse, en mag jy kies om jouself lief te hê en jou drome na te jaag. Jy mag hoop kies, jy mag opstaan vir jouself en jou lewe. Jy mag kies om die woord van God te glo en wat Hy sê oor jou.

Ek is vandag getroud aan ʼn wonderlike man. Ek is ʼn mamma van twee pragtige kindertjies, ek het nie net my matriek behaal nie, maar ook verder gaan studeer en my kwalifikasie in bemarking behaal. Ek is al langer as 11 jaar in die werksmag en het ʼn goeie loopbaan vir myself gebou. Ek is internasionaal geakkrediteer as ʼn transformerende lewensafrigter.

Die liefde vir myself en die Here, ware vreugde en geluk beteken vir my baie meer as enige sukses, kwalifikasie of aardse besittings. Ek skroom nie meer om spasie op te neem nie, want ek is GESOND. Ek het seker gemaak ek genees myself sodat ek nie “bloei” op mense vir wie ek die liefste is, wat nie die oorsaak van my wonde was nie.

Byt vas. Daar is hoop. Neem net die eerste stap na genesing.

  • Felicia Richardson is ʼn internasionaal geakkrediteerde lewensafrigter en NLP-praktisyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Selfverminking is eintlik die term wat gebruik moet word – al weer ‘n versagtende term uitgedink en gebruik om te normaliseer dit wat eintlik ‘n groot probleem is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.