Naamsa: Ford vorder fantasties

Die bekende Ford-kenteken

Die bekende Ford-kenteken

November 2014 sal aangeteken word in Ford Suider-Afrika se geskiedenis as die eerste keer dat dié vervaardiger se Ford Ranger sy aartsopponent – Toyota Hilux – in Naamsa se maandelikse verkopesyfers getroef het.

Nie net het die Ranger die eerste keer meer as 3 000 eenhede per maand verkoop nie
(3 054), maar was dit ook Suid-Afrika se topverkoper vir die maand. Hierteenoor het Hilux 2 897 verkope aangeteken.

In die gebruiklike Top Tien-kategorie was Toyota oudergewoonte baas met totale verkope van 9 986 eenhede – ʼn afname van 2 036 eenhede wat waarskynlik toegeskryf kan word daaraan dat die “kom ons wag vir 2015“-sindroom besig is om in te skop. Nogtans het Toyota heel skaflik gevaar danksy Corolla/Auris/Quest (1 749), Etios (1 183) en Fortuner (602). In Fortuner se geval is dit aansienlik minder as Oktober se 881.

Volkswagen is steeds in die gebruiklike tweede plek met 7 491 verkope, en maak steeds staat op Polo Vivo (2 258), Polo (1 781), Golf 7 (572) en Audi A4 (425). Die Audi A3 (385) het self heel skaflik gevaar.

Ford beklee steeds gemaklik die derde plek met totale verkope van 6 332 eenhede. Benewens die reeds vermelde Ranger, het Figo (959), en EcoSport op 796 mooi presteer. Die maatskappy se Kuga kan egter beter doen en sy 226-verkopesyfers is aansienlik minder as mededinger Toyota RAV se 379.

Die vierde plek onder die Top Tien behoort steeds aan die skugtere AMH-groep wat nie individuele modelverkope bekend maak nie. AMH se totaal is ‘n stewige 5 385.

Nog ‘n November-presteerder was Nissan wat na die vyfde plek opskuif ten koste van GM/Isuzu.

Nissan se 4 742 verkope kan hoofsaaklik toegeskryf word aan Datsun Go (461), Almera (356), Nissan NP200 (1 964) en die NP300 Hardbody op 657.

GM/Isuzu sal vanselfsprekend alles moontlike in werking stel om sy vyfde plek te herwin, en sy 4 166 totale verkope is te danke aan Spark se 358, Cruze (246), en ‘n stewige 161 verkope deur Captiva. Maar dit was GM se Isuzu KB (1 186) en Chev Utility (1 038) wat die syfers goed laat lyk het.

Intussen het Mercedes-Benz op omstrede wyse besluit om slegs totale verkope – sonder aanduiding van individuele modelle se prestasies – deur te gee. Mercedes-Benz se 3 120 was dus goed genoeg vir ‘n sewende plek op die Top Tien-lys.

BMW staan steeds sterk in die agtste plek met totale verkope van 2 187 – heel knap as ‘n mens daaraan dink dat BMW slegs passasiersmotors verkoop en dus nie op busse en vragmotors kan terugval vir beter verkopesyfers nie.

Ondanks ‘n redelik dramatiese daling in verkope van 1 838 in Oktober tot 1 410 verlede maand, staan Renault steeds stewig danksy Clio IV (398), Duster se 334, en Sandero II (535).

Ondanks ‘n daling van prsies 100 eenhede – van 1 001 tot 901 – is Honda steeds gemaklik in die tiende plek algeheel. Vir Honda het CR-V (152), Ballade (245) en Civic (156) ‘n verskil gemaak.

Onder die vervaardigers buite die Top Tien-rangorde het Chrysler uitgeblink met 698 verkope – aangehelp deur Compass se 205, Grand Cherokee (179) en Wrangler op 141.

Die überluukse Porsche-groep verkoop steeds uitstekend met ‘n totaal van 128 – 2 beter as in Oktober. Vir Porsche SA het Cayenne (71) en die Motor van die Jaar-finalis, die Macan (29), goed gevaar.

Intussen is ‘n ander (Brits/Indiese) vervaardiger van luukse voertuie – Jaguar/Land Rover – egter besig om agteruit te boer. Oktober-verkope van 516 eenhede het tot 377 gekrimp. Selfs die maatskappy se sport- en passasiersmotorverkope was maar ‘n beskeie 49 eenhede. Weer eens was dit Range Rover Evoque (109), Discovery 4 (109) en Range Rover Sport (79) wat mooi presteer het.

Intussen bly Naamsa versigtig pessimisties ten opsigte van Desember 2014 en die eerste paar maande van 2015. Daar word verwag dat pryse van nuwe voertuie bo die inflasiekoers sal styg – met ‘n moontlike gepaardgaande swaai na die gebruikte mark. Desondanks is dit onwaarskynlik dat Suid-Afrika dieselfde paadjie as Kenia sal loop waar daar tien gebruikte motors verkoop word vir elke nuwe wat die vertoonlokaal verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.