‘Plaasjapie’ se Danielle pleit: ‘Kry konteks voordat jy kritiseer’

‘Plaasjapie’ se Danielle Reinecke. (Foto: Verskaf)

“Ek wens iemand verkoop jou sommer op Facebook Marketplace, want geen ouer kan ʼn kind soos jy liefhê nie.”

Dít was een van talle kommentare wat Danielle Reinecke, ʼn somatoloog van Rustenburg, Noordwes, sedert die uitsending van die tweede seisoen van die kykNET-werklikheidsreeks Plaasjapie op sosiale media moes trotseer.

Sy is een van 14 deelnemers wat die plaaslewe kaalhand aanpak in dié reeks en vertel vir Maroela Media dat die een na die ander hou deur sogenaamde “sleutelbordkrygers” haar die afgelope week byna geknou het.

“Ek het gedink dat ek geweet het waarvoor ek myself hier inlaat, maar genade, ek sou nie kon voorspel dat mense op so ʼn wyse in iemand se persoonlikheid sal wil klim nie. Party mense vat dit net bietjie te ver,” sê die 24-jarige oor die laaste week se terugvoer op haar Plaasjapie-spel.

Baie kommentaar spruit uit haar wrywing met haar Oranjezicht-spanmaat Liezle Wiese (56).

Dié twee vroue het eers koppe begin gestamp nadat Liezle, ʼn verkoopsverteenwoordiger en bemarker van Germiston, Gauteng, Danielle daarvan beskuldig het dat sy haar voor hul spanmaats verneder het.

ʼn Verskrikte Liezle het kort ná die stadsjapies se aankoms op die plaas in episode een, ʼn emmer melk per ongeluk omgestamp toe hul koei onrustig geraak het. Danielle het Liezle se reaksie met “graad 7-drama” vergelyk en die verhouding tussen dié twee spanmaats het net daar versuur.

Danielle verduidelik dat ʼn vroeër, soortgelyke insident met melk (wat nie die program gehaal het nie) Liezle moontlik selfbewus gelaat het.

“Dinge was so spanningsvol in daardie oomblik, ek wou dit net met humor verlig. Die doel was glad nie om haar sleg te laat voel nie, en ek het regtig eers met die uitsending besef hoe dit haar ontstel het,” verdedig Danielle.

“Ek dink nie sy was noodwendig kwaad vir my nie. Sy het dalk net skaam gekry, en my opmerking het veroorsaak dat sy haar eindpunt bereik, dis absoluut menslik.”

Danielle het haar span aangeraai om Donovan huis toe te stuur in die eerste episode. (Foto: kykNET/Verskaf)

Dinge het egter kookpunt bereik in die tweede aflewering, waar die vroue mekaar onderskeidelik van konkelry, luiheid en “diva-gedrag” beskuldig het.

Liezle het Danielle ook aangesê om na haar as “tannie Liezle” te verwys as gevolg van hul ouderdomsverskil, waarna Danielle teruggekap en gesê het sy spreek ouer mense nie só aan nie.

“Dít was ʼn teer punt vir my en van daardie oomblikke waar konteks uiters belangrik raak, want ek weet ek het respek vir ouer mense en ek is nie lui nie.”

Volgens Danielle is die uitdagende verhoudings met die ouer vroue in haar lewe, insluitende familielede, veral tydens daardie laaste konfrontasie met Liezle herroep.

“Ek ken verwerping en oordeel van ouer vroue té goed. Ek is op 18 uit die huis, het alleen ʼn sakeonderneming begin en saam met my man al baie struikelblokke oorkom.

“Ek dink dis hoekom ek soms vasskop teen advies van ouer mense, want hulle besef nie watse lesse die lewe my reeds geleer het nie. Ek weet nou mens moet onderskeid tref en ook raaksien wat mense se bedoelings is, want dit is nie altyd sleg nie.”

G’n twyfel oor haar pekelpennie

Danielle het in Donderdagaand se aflewering die prysgeld van R1 miljoen verlaag nadat sy haar pekelpennie ingespan het – ʼn besluit wat sy graag verdedig.

“Ek was veral emosioneel nadat ons vir die tweede keer ʼn uitklopuitdaging verloor het. In die eerste een was ek die roeper, en my stem was baie sagter as Etienne s’n. In die twee een moes ek ʼn ronde uitsit nadat ek geval het, so ek het soos die swakker een gevoel.”

Danielle en haar man, Darryn. (Foto: Verskaf)

Sy het ʼn voorgevoel gehad dat haar naam by die koöperasie-kuier uitgeroep sou word en het ʼn skeiding tussen haarself en haar spanmaats ná hul tweede mislukking in die arena aangevoel.

“Ek kon nie huil oor die feit dat mense gekonkel het om my uit te stem nie, want ek het dieselfde met Donovan gedoen. Ek is net glad nie goed met kritiek nie, ek sal dit erken. Dit oorheers my gedagtes, en ek weet ek moet daaraan werk.”

Danielle verklap dat sy self gevolglik haar tassies wou pak, nog voor die koöperasie-kuier.

ʼn Vervaardiger het haar voorgekeer en herinner aan haar aanvanklike doelwitte om Plaasjapie vir haar man aan te pak, asook ʼn ander sensitiewe kwessie waaroor kykers binne die volgende paar episodes meer sal uitvind.

“Ek is so lief vir my man. Hy het my deur soveel moeilike seisoene gedra, en ek wou nie opgee nie. Ek wou hê mense moes sien dat ek bereid is om te baklei vir dit wat ek wil hê, dat ek taai is en ʼn tweede kans wou hê om te wys wat in my steek.”

Daarom die besluit om die ongewilde keuse te maak en die pekelpennie te speel en in die spel te bly.

“Dit bly tog ook ʼn speletjie, en ons elkeen wil wen. Met Op My Eish! kon ek byvoorbeeld nie verstaan as die meisies gehuil het as een uitgestem is nie. Is jy daar om man te vang of om maatjies te maak?” sê sy laggend.

Plaasjapie-effek bly positief

Nes talle deelnemers voor haar, getuig Danielle van die geleentheid vir persoonlike groei wat dié reeks bied.

“Ek was op ʼn baie slegte plek, en dit was nodig om uit my stadslewe te ontsnap. Ek het nou soveel meer respek vir boerdery en al die moeite en prosesse wat daarin gaan. As jy so naby aan die natuur leef, besef mens hoe weerloos ons eintlik is.”

Die borrelende blondekop vertel boonop trots dat sy sedert die program se opnames 16 kg afgeskud het.

“Ek het myself laat gaan voor die program weens die uitdagings in my lewe op daardie stadium, maar het ek al daardie negatiewe gevoelens op die plaas gelos. Ja, daar is nog seer, maar ek voel asof ek dit tog oorwin het. Ek dink nie ek sou die fisieke, emosionele of geestelike uitdagings in myself raakgesien en aangepak het as dit nie vir Plaasjapie was nie.”

  • Plaasjapie is Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.