Die verhouding tussen ma en haar Afrikanerseun

Die Afrikanervrou met haar kinders by die Voortrekkermonument se ingang. (Foto: Emilie Chaix / Photononstop / Photononstop via AFP)

“Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: ‘Samuel, Samuel!’

En Samuel sê: ‘Praat, Here, u dienaar luister!’.” – 1 Samuel 3:10.

Wanneer ek dink aan die verhouding tussen ma en seun is daar geen ander verhouding wat vir my so uitstaan as die verhaal van Hanna en Samuel nie.

Ek het ʼn klein dogtertjie, en is vas oortuig seuns is ʼn heeltemal ander spesie van menswees om groot te maak.

Ek hoor nou die dag by een van my vriendinne dat sy vir haar drie seuns een Sondagoggend voor kerk 18 eiers moes gaar maak. Ek is seker kleinsus en pappa het ook saam geëet. Maar aarde, 18 eiers! En ná kerk was hulle blykbaar toe weer honger!

Maar nietemin. Behalwe vir al die eet, kan ek net dink, kan ek net droom oor ʼn seuntjie in my huis.

Tussen ons drie sussies het ons net dogtertjies in die familie – ons wag nog vir ʼn seuntjie vir wie ons my pa se naam kan gee. ʼn Seuntjie wat met trots sy oorlede oupa se naam kan dra. Die oorlede oupa wat my ma gered het uit die see en sy lewe gegee het sodat my ma kan leef.

Dapper man was hy, dapper seun was hy. Want hy was gehoorsaam aan wat die Here vir hom gesê het hy moet doen. Al het dit sy lewe gekos. My ouma Joe het my pa dapper groot gemaak.

Wanneer ek dink aan die verhouding tussen ma en seun, en droom oor hoe so ʼn verhouding ook eendag sal lyk in my lewe, sien ek hoe dans ek met my seun op sy troudag. Ek sien hoe ek sy klein kindertjies vashou en ek sien hoe ek hom elke dag opdra aan die Here.

Net soos wat Hanna gedoen het met Samuel.

Samuel wat so getrou was teenoor die Here, elke dag. Wat as klein seuntjie reeds deur sy ma aan die Here gegee is.

Ek wonder soms of sy hom net nog so ʼn bietjie vir haarself wou hou, maar sy was getrou teenoor God en deur Sameul vir die Here te gee het sy ʼn enorme rol gespeel in ons as Christene se lewens vandag.

As elke ma totaal en al haar seun oorgee om God se werk te gaan doen sodat hy die konings kan salf, sodat hy kan raad gee en leef soos wat die Here ons Vader dit vir hom besin.

Seun, jy is die dapper een wat hierdie roeping opneem uit jou moederskoot en wat weer hardop vra, net soos Sameul het: “Hier is ek, u het my geroep”. Jy is dapper om hierdie vraag te vra in ʼn wêreld wat soms stil raak van God, wat weg draai van God.

Wanneer jy gehoorsaam staan, dapper staan voor God, kan niks jou breek nie. Wanneer jy dapper voor God staan en vir hom sê: “Hier is ek gebruik my”, sal Hy jou gebruik ten goede. Jy self kan, saam met God, berge versit. Wees net dapper in jou roeping.

Ek het die voorreg om voor my elke dag te kan sien hoe ʼn man van God lyk. Wanneer ek na my man kyk, sien ek hoe die Here deur hom vloei en hom elke dag ʼn beter mens, pa, broer, seun en man maak. My skoonma het, soos Hanna, hom en sy broer opgedra aan die Here. Op haar eie manier het sy hulle voor die Here se voete geplaas, want alleen kon sy nie alles doen nie. Haar vertroue in God was groot, haar hoop was groot en haar verwagting ook.

Hierdie opdra aan God het van my man ʼn sterk man gemaak wat nou sterk kinders kan grootmaak.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

As ʼn mens dink aan hoe belangrik die Afrikanerman se rol is in ʼn gesin, besef ʼn mens dat dit reeds in sy moederskoot begin. Daar waar hy sy roeping ontvang, daar waar hy geplaas word deur die Here.

ʼn Mens kyk ook oor ons land en besef dat die toekoms vir die Afrikanerman nie meer so blink lyk soos dit in die verlede het nie – daar is hekkies waaroor gespring moet word en struikelblokke wat daargestel word deur die regering en partye wat nie wil hê die Afrikanerman moet suksesvol wees in ons pragtige land nie. Maar ons mans is anders grootgemaak, hulle is dapper grootgemaak – die hoeksteun van ʼn gesonde gesin.

Dit is dan juis belangrik dat ons as ma’s nie net ʼn goeie en gesonde verhouding met ons seuns moet hê nie, maar dat ons ook ons dogters so grootmaak dat hulle eendag hul man sal eer en toelaat dat hy die leiding neem. En hom dan ook ondersteun sodat hy weer die dapper held vir sy kinders kan wees.

Daar rus ʼn Hanna in elke ma, daar skuil ʼn Rut in elke skoondogter, daar leef ʼn Dawid in die hart van elke jong man en daar regeer ʼn God wat genadig en goed is oor ons almal se lewens. Daarom juis sal ons nie gaan lê nie, daarom sal ons dapper in ons roeping staan as ma en as seun.

Die FroueVonds van Solidariteit Helpende Hand het gaan kuier by Sol-Tech om met jong mans te gesels oor hulle verhouding met hul moeders. Dit is besonders om te kan sien en hoor hoe lief hierdie mans hulle ma’s het en hoe groot rol ʼn gesonde verhouding tussen ma en seun speel in die samelewing.

Die FroueVonds wil hier ingryp om dié gaping(s) te vul, die brug te bou tot ʼn beter lewe, die kettings van armoede te verbreek wat dreig om te vernietig, sodat vroue wat deur hierdie goed gekeer word, op die ou einde as gesonde vroue in die samelewing kan funksioneer. Gesonde vroue lei tot gesonde gesinne en gesonde gemeenskappe.

* Die FroueVonds word met opset verkeerd gespel om aan te pas by ons leuse, “want alles loop nie altyd reg nie”.

Om meer uit te vind oor wat ons by Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds doen, besoek gerus www.frouevonds.co.za.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nommer 7 ·

Die vraag is, wat is ‘n Afrikaner, en wat is ‘n Afrikaans sprekende Suid Afrikaner. Vir my is daar ‘n verskil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jong Afrikaner mans is onder baie druk, meer as hul vaders. Tenspyte van goeie opleiding is hulle slagoffers van regstellende aksies en SEB. En dit gaan erger word. Dis pynlik om elke paar jaar afgelê te word of besigheid te sluit en van nuuts te begin nie. Om die anker in ‘n jong gesin te wees is ‘n reuse uitdaging. Eendag sal hulle ook moet help om na hul ouers en skoonouers om te sien. Afrikaners mans word grootgemaak om nie te praat nie. Dis ‘n teken van swakheid. Maar hulle dra die frustasies, vrese en onsekerhede binne hulle rond. Hulle wil nie teleurstel nie. Skep programme om ma se grootseun ook te help.

skurweberg ·

Gaan kyk weer na die twee kinders en die moeder by hierdie monument. Die vrees op die kinders se gesigte is duidelik waarneembaar en die bekommernis op die moeder se gesig kan ‘n mens nie miskyk nie.

Toergids ·

Die moeder kind standbeeld by die Voortrekker Monument is nie Afrikaners nie, die vrou was ‘n Nedelanse verpleegster Cato Rhoda en die kinders is Joseph Goldstein en Bettie Wolk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Toergids, wat vertel jy my nou. Jode? Ek weet wel dat die argitek aan ‘n geheime internasionale organisasie behoort het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.