Regte reëls, regte uitkomste

Sandton. (Foto: Sandton City/Gauteng.net)

Soos die verkiesing nader kom, is daar te midde van sommiges se werklikheidsvreemde retoriek sekere onweerlegbare feite wat nie daardeur uitgedring kan word nie.

Die 2024 Africa Wealth Report, wat deur die raadgewende firma Henley & Partners in samewerking met hul vennoot New World Wealth uitgegee word, dui aan waarheen dollar-miljoenêrs en -miljardêrs trek – en waarvandaan hulle trek.

Volgens hulle data is Johannesburg, maar meer spesifiek sekere Sandton-woongebiede, steeds die tuiste van die meeste superrykes in Suid-Afrika en Afrika. Dit is egter besig om vinnig te verander. Kaapstad is ʼn groot begunstigde van ryk Gautengse indiwidue (asook besighede) wat semigreer. Die Moederstad is tewens die voorkeurbestemming van miljoenêrs van Europa en Afrika en gaan na raming Johannesburg teen 2030 as die rykste stad op die vasteland verbysteek.

Dis nie al nie. Ander dorpe, streke, lande en stede het gesamentlik meer as 30% groei in hul getal rykes oor die afgelope dekades gesien. Hulle sluit in Mauritius, Rwanda, Namibië en Suid-Afrika se sogenaamde Walviskus (onder meer Hermanus, Bettiesbaai en Rooiels) en Tuinroete (George en omstreke). Nes Kaapstad, is die laaste twee streke in die Wes-Kaap geleë.

Hulle toekoms lyk boonop selfs meer belowend as hul verlede. Luidens die verslag kan plekke soos Swakopmund, Windhoek, Kaapstad, Nairobi en die Walviskus uitsien na ʼn verwagte groei van 85% in miljoenêrs oor die volgende dekade. Die Kaapse Wynlande kan ook in hierdie verband vermeld word.

Nes in die geval van Afrika, is die oorvereenvoudigde siening van Suid-Afrika se probleme gewoonlik slegs op die land en nasionale regering van toepassing. Maar soos Rwanda en sy hoofstad, Kigali, toon, is daar hoop te midde van en ná ʼn tragedie en nuanse is nodig.

Kigali, Rwanda. (Foto: Adrien K/Wikimedia Commons)

Dit gebeur nie vanself nie. Bogenoemde plekke het die regte reëls geskep om hul groei in rykdom én werk te bewerkstellig. Kigali is bekend as ʼn baie skoon stad met wet en orde. Bowendien groei Rwanda teen ʼn gemiddelde 7,5% en die privaat sektor is te danke daarvoor. Dit is ʼn stad en land waar 800 000 mense 30 jaar gelede vermoor is in ʼn volksmoord.

Dit is weliswaar ʼn soort outokrasie – nes Singapoer sedert 1965 – met reëls wat voorkeur aan ekonomiese ontwikkeling en groei bo grootliks futiele verkiesings gee. En dit troef Johannesburg en Suid-Afrika nogtans in terme van groei! Spaar my dus die nonsens van ʼn nuwe daeraad en vryheid wat in 1994 verwerf is.

Ditto die Wes-Kaap, Namibië en Mauritius. As iemand wat sake in al drie hierdie plekke doen en self in die Wes-Kaap woon, is ek deeglik bewus daarvan dat hul reëls oor eiendomsreg en belasting (soos kapitaalwins in die geval van Mauritius) beter as in die res van Suid-Afrika is. Dit lei tot voorspelbaarheid en stabiliteit terwyl die regering net die nodigste reg doen. Nie perfek nie, net beter.

Foto: Kaapstad. (Zoe Reeve / Unsplash)

Kapitalisme – ofskoon in ʼn gemengde stelsel – kan hiervoor bedank word. Die historikus Niall Ferguson identifiseer mededinging, die oppergesag van die reg en werksetiek as drie van die ses “killer apps” wat die Weste se opgang oor die eeue gekenmerk het. Dit is eienskappe wat nou met kapitalisme verband hou.

Napoleon Hill skryf in 1937 (te midde van ʼn dekade van ekonomiese kreeftegang en swaarkry in Amerika) in sy seminale werk Think and Grow Rich oor hoe kapitalisme die VSA ten goede verbeter het ten opsigte van gerief, prys, internasionale handel en keuse. Hy verskaf talle voorbeelde en verklaar dan die volgende:

This is a capitalistic country… we who seek to accumulate riches here, may as well know that neither riches nor opportunity would be available to us if organised capital had not provided these benefits.”

Hy vaar ook uit teen die georganiseerde arbeidsektor, opportunistiese politici en diegene wat “iets vir niks” begeer en lig kapitalisme se grondwaarhede uit:

There is a principle known as the law of economics! This is more than a theory. It is a law no man can beat… Most people living in America like this country, its capitalistic system and all. I must confess I know of no better country, where one may find greater opportunities to accumulate riches.”

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Dr. Greg Mills van die Brenthurst-stigting in Johannesburg, ʼn dinkskrum wat goeie regering in Afrika bevorder, skryf in Why States Recover dat staatmislukking ten minste deels toegeskryf kan word aan regerings, oftewel politieke hiërargieë, wat nie hul greep op rykdom, patronaatskap en magshefbome wil verslap nie. Volgens hom is die impak en snelheid van hervorming afhanklik van die privaat sektor en daarom moet enige afkeur daarin laat vaar word.

Die Wes-Kaap en Mauritius het dit reeds besef en die kontras in talle opsigte met ander streke en lande in Afrika ly geen twyfel nie. Dis hoekom ek wel op 29 Mei gaan stem en andersins voortgaan om geleenthede te soek waar hulle die aantreklikste is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Stem vir die onafhanklikheid van die Wes-Kaap! Maar Kaapstad het geografiese limiete. Water en geologiese uitdagings is ook ‘n faktor. Té veel mense in die metro gaan katestrofiese gevolge hê. Kaapstad behoort eintlik ‘n stadstaat te word, soos Singapoer. Dan sal inwoners hul stad jaloers beskerm.

Kokerboom ·

Republikein: U is reg . Kaapstad het geografiese beperkinge. Onbeheersde toevloei gaan die gebied versmoor wat betref dienste vereistes. Die Kaapse vlakte is reeds tekenend daarvan. Die verskil tussen die heterogene bevolkingsamestelling tussen Kaapstad en Singapoer lê in ingesteldheid, dissipline, werksetiek, trots en toewyding.
So trots soos ek op Kaapstad is dink ek hul gaan toets dop al wens ons vir ‘n positiewe toekoms uitkomste. ‘n Federale bestel kan net werk met afgewentelde magte

annie ·

Nee wat en nee-dankie vir ‘n meta-stad met ‘n krioelende menigte van deurmekaar-rasse wat mekaar verdring in die soeke ha hul droom wat glo in die Kaap versteek word… ‘n soort Babel vol van eie Babel-bouende bergies. Dit sal nie uitwerk soos voorgestel nie. Buiten vir dienste wat nie voldoende voorsien sal word nie, gaan die situasie binne minder as ‘n dekade erg uitrafel en teleurstelling inskop. Verwoede misdadigers sal daarna regeer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kokerboom, miljoeners stroom na die metro, maar op huidige trajek stuur die metro af op ‘n ramp. Omgewingsprobleme, oorbevolking en misdaad gaan die plek in ‘n waardelose mishoop verander. Die meerderheid van die inwoners verlang sekerlik ‘n beter uitkoms. Afstigting moet op voetsool vlak bemark word deur alle pro-afstig rolspelers. Inwoners verwag meer van die burgermeester as politiek-gebaseerde projekte. Stap Een is die afstigting van die hele Wes-Kaap. Stap Twee is die vestiging van die stadstaat. Tussen die twee stappe moet die metro voorberei word deur doelgerigte stedelike ekonomiese en sosiale ontwikkeling om die fondasies vir die stadstaat te lê.

Republikein in die Wes Kaap ·

Annie, in Singapoer het dit nie gebeur nie. Toe Singapoer onafhanklikheid ontvang het na Britse beheer was daar reeds honderde duisende brandarm Chinese, Indiërs en Malaysiërs. Daardie inwoners was ook jaloers. Hulle het die grense gesluit en geweier dat hul nefies en niggies in massas instroom. Daar is genoeg talent in Kaapstad om dieselfde te doen. Dis nie Jozie nie. Terloops, deur niks te doen nie stuur die metro in elkgeval af op ‘n ramp, en daar is weinig wat inwoners kan doen want hulle het geen beheer oor landsbeleid nie.

Pieter ·

Annie sjoe, het jy al ooit in ‘n stad gebly? Ek het hoop vir die toekoms, ek wens ek kon dit vir jou gee.

Pieter ·

Goed ek sal byt. Ek stem grootliks saam met wat jy die keer skryf maar daar is ‘n paar punte waar ek verskil. Jy verstaan dat sommige regerings (jy het ‘n paar genoem) outoritêr is en dat dit positiewe (Singapoer ens) of negatiewe gevolge kan hê. Maar dit lyk of jy die onderwerp van outoritêre maatskappy gemis het. Maatskappy met ‘n monopolie op ‘n belangrike hulpbron het die moontlikheid om mense net so erg te onderdruk as die mees outoritêre regering. Kapitaal het ook die vermoë om mag te koop om wette te verander op maniere wat vir die maatskappy goed is. Nou dit kan goed wees in die sin dat dit makliker is om besigheid te doen of dit kan die vorm aanneem van bv. regulasies wegneem wat ‘n goudmyn vereis om te keer dat mynwater in die watertafel beland. Die negatiewe kant van besighede kom baie meer uit in lande met outoritêre regerings as lande met goeie demokrasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.