Die paradys lê in die Amasone

Reënboog (Foto: Marianne Styan)

In die middel van die Amasone, op die grens van drie Suid-Amerikaanse lande lê sekerlik die wêreld se grootste en mees asemrowende natuurlike verskynsel: die Iguazu-watervalle.

Die valle verdwerg die meer bekende Niagara-valle in Noord-Amerika en is heelwat groter as die Victoria-valle in Afrika.

Die hoeveelheid water wat die Iguazurivier oor die sowat 275 watervalle afspoel, is genoeg om vyf Olimpiese swembaddens per sekonde vol te maak, ʼn bonatuurlike mag van water wat ʼn mens weer laat besef hoe nietig ons is.

In die oud-Amerikaanse presidentvrou Eleanor Rooseveldt se woorde, toe sy dit beleef het: “Arme Niagara”.

Die valle is vandag een van die Sewe Natuurlike Wonders van die Wêreld. Saam met ons eie Tafelberg.

Niemand weet presies hoe die Spaanse ontdekker, Alvar Cabeza de Vaca in 1541 gevoel het toe hy die eerste Westerling was om op dié wonderwerk te sien nie, maar die impak as jy deur die reënwoud se bome loop en skielik die massiewe skeur in die aarde sien waaroor derduisende liters water storm, is een wat ʼn lewe kan herdefinieer.

Garganta del Diablo (Foto: Marianne Styan)

Die hoogtepunt van die valle is die Devil’s Throat oftewel Garganta del Diablo, ʼn onheilspellende beskrywing vir ʼn majestueuse lewenservaring. Dis die plek waar die water van drie kante af na benede stroom teen só slag dat die sproei ʼn permanente wolk van mis oor besoekers gooi. Binne sekondes is jy papnat waar jy staan op nabygeleë besigtigingsplatforms wat op die rivier gebou is.

Dit is ook juis hier waar die grens tussen Brasilië en Argentinië geleë is. Dit verdeel die Iguaçurivier in die Hoёr en Laer Iguaçu.

Waar die rivier laer af by die Paranarivier aansluit, vorm dit ook ʼn derde grens met Paraguay.

Alhoewel die grootste gedeelte van die Iguaçurivier se kronkel in Brasilië lê, is die grootste hoeveelheid watervalle aan Argentynse kant. Die beste is om beide kante van die valle te besoek, aan Brasilië se kant sowel as Argentynse kant. Eersgenoemde gee ʼn breë perspektief en laasgenoemde ʼn meer direkte in-jou-gesig-ervaring.

Brasilië se parkgeriewe is mooier en beter toegerus en laat jou so bietjie voel of jy in ʼn Disney-temapark is.

Vanaf die ingang kan jy óf stap óf met die bus ry wat elke 10-15 minute vertrek en by al vier die “stasies” stilhou. Die stasies sluit in die boot-ekskursies (ekstra koste), die nabygeleë hotel, die staproetes na die valle en ʼn restaurant.

Foto: Marianne Styan

Die staproete is ʼn staal/hout-stapstellasie wat teen die hange van die vallei geleë is. Besoekers kry al langs die pad gereeld asembenemende uitsigte van die watervalle terwyl jou pad na onder kronkel waar jy uiteindelik in die middel van die rivier eindig, met ʼn panoramiese uitsig op die Garganta del Diablo.

Vir panoramiese foto’s is hierdie kant die beste. Omdat daar net een staproete is, kan hierdie kant van die park maklik in ʼn halwe dag gedoen word of teen ʼn rustige pas – in ʼn volle dag – wat die beste sal wees om die mooi natuurskoon behoorlik te beleef.

Ons verblyf was in Brasilië, in die klein grensdorpie Foz do Iguaçu. Die volgende dag is ons met ʼn taxi oor die grens na Argentinië. Die park is heelwat groter en het baie meer opsies, alhoewel die geriewe nie só mooi was as oorkant die rivier nie.

Die beste advies is om so vroeg as moontlik te gaan en daar te wees as die park oopmaak. In plaas van ʼn bus het hulle ʼn treintjie wat jou kan neem na waar jy wil wees of jy kan weer die pad per voet aanpak. Die eerste trein van die dag is die beste om te vat, aangesien dit direk loop na die Garganta del Diablo. Om die massas toeriste by Garganta del Diablo te vermy en ʼn wonderlike ervaring te geniet sal ek voorstel om hierdie trein te haal.

Foto: Marianne Styan

By die stasie volg mens die staal-, hout- en betonstaproetes wat oor die rivier geleë is. Die oordonderende klank van die vallende water word al harder soos wat ʼn mens nader kom. Wat jy eers sal sien is ʼn pragtige mistigheid wat uitstyg bo die boomtoppe. Die reusewolk lei die pad en nes Moses se volgelinge word ʼn mens gelei in die regte rigting.

Op hierdie punt sou dit slim wees om reeds ʼn waterdigte jas of poncho aan te trek.

En dan. Skielik. Die gat in die aarde waar die water van drie kante af ingesuig word en teruggespoeg word.

Die stellasie is letterlik reg bo dié belewenis geanker, binne-in die wolk mis. Onthou om kameras in plastieksakke toe te maak of minstens gereeld droog te maak!

Die geraas en krag van die watermassa wat na benede stort is onbeskryflik. En tog is daar plaaslike swaeltjies wat vreesloos rondom die watermassa baljaar, die valle bied hulle ʼn watergordyn waaragter hulle hul nessies veilig (en nat) kan bou. Hoe besonders.

En twee Bybelversies kom sonder moeite in my gedagtes op. “Selfs die swaeltjie het ʼn plek by U altaar…” en “Wees stil en weet, Ek is die Heer…”

Omdat ons so vroeg daar was en daar amper niemand anders was nie kon ons lekker lank hier spandeer en foto’s neem en sommer net die mooi indrink.

Later raak dit egter ʼn gestamp-en-stoot om die beste foto te kan neem en het ons al druppende teruggestap na die trein. Die lekker warm temperature in Suid-Amerika verseker egter dat ʼn mens vinnig droog word.

Ons het die treintjie teruggeneem na die hoofstasie toe vanwaar ʼn mens die ander twee staproetes kan ontdek.

Foto: Marianne Styan

Die boonste roete loop hoofsaaklik bo-oor die watervalle en het inligtingsborde wat jou meer vertel van al die verskillende name en oorspronge van die verskillende valle. Met die onderste roete besef ʼn mens weer opnuut jy’s in die Amasone. Jou pad kronkel tussen die bome deur en jy sien baie meer natuurlewe hier. Kleurvolle voëls, eksotiese ape en Quabis – vreemde dog oulike diertjies wat, soos ons blou-ape, ʼn oorlas van hulleself kan maak.

Net soos by die Brasiliaanse kant is hier aandenkingswinkeltjies en restaurante.

Na baie oorweging het ons besluit om tog nie ʼn bootrit na die watervalle te neem nie. Daar is ʼn ekstra koste aan verbonde en behalwe vir die opgewondenheid om dit vanaf ʼn boot te kan sien, het ons gevoel ons het baie mooier uitsigte op die watervalle gekry deur die verskillende staproetes.

Soos wat ek wegry van hierdie natuurlike wonder voel dit vir my of ek ʼn eenhoring gesien het: te mooi om te kan beskryf, te onwerklik om te glo dit was waar en tog iets wat jy weet jy nooit weer in jou hele lewe sal vergeet nie.

• Ons het van Rio met Latam-lugdiens tot by Iguazu-ughawe gevlieg en het oorgeslaap in ʼn pragtige reisigershostel in die dorpie.
• As tyd min is, oorweeg gerus om van ʼn plaaslike toeragentskap gebruik te maak. Hulle neem jou direk per taxi na al die belangrikste plekke, selfs oor die grens.
• Eg tradisionele Suid-Amerikaanse etes kan – baie bekostigbaar – in die dorpie geniet word.

Lees gerus ook hier en hier.

4 Kommentare

Louise ·

Agenee man, dit laat mens met n leemte in jou hart.
Veral as jy besef dis heel moontlik nooit haalbaar nie.
Dis absoluut prentjie mooi, kan maar net begeur (mens mag mos af en toe)!!!!!!!

Willemien ·

Ietwat van aardrykskunde foutjie hier. Die Amesone is in die Noorde van Brasilië en die watervalle in die suide van die land. Het die voorreg gehad om beide te besoek toe ons vir 2,5 jaar in Rio de Janeiro gebly het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.