ʼn Werkliheidsvreemde orde?

Tydens president Jacob Zuma se inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria op 9 Mei 2009. (Foto: STEVE CRISP / POOL / AFP)

“Waarop steun die liberaal-demokratiese orde wat in 1994/ 1996 tot stand gebring is? Steun dit op die werklikheid, of is dit eerder op werklikheidsvreemde uitgangspunte gegrond?”

Hieronder word teen die grein van bestaande opinies hierop geantwoord. Ons voer aan dat die grondwetlike orde van 1994/ 1996 helaas nie op die werklikheid gegrond is nie.

In die besonder is die bestaande orde nie ʼn uitdrukking van een van die mees onontwykbare feite in die politieke werklikheid nie, naamlik dat stabiele en funksionele ordes in die moderne wêreld op die gesag en mag van bepaalde kulturele gemeenskappe en gebiede (of ʼn federasie tussen sodanige gemeenskappe en gebiede) rus.

Wanneer die gesag en mag van sodanige gemeenskappe ondermyn word, word die stabiliteit en funksionaliteit van die orde self ondermyn. Die heersende orde (of gebrek aan orde) in Suid-Afrika is ʼn onrusbarende getuie van hierdie feit. Sy huiwering op die rante van chaos is die direkte oorsaak van sy gebrek aan sin vir die werklikheid.

Destydse president Nelson Mandela saam met sy adjunk Thabo Mbeki en ANC-nasionale voorsitter Jacob Zuma by die ANC se 50ste Nasionale Kongres in 1997. (Foto: WALTER DHLADHLA / AFP)

In plaas daarvan dat die heersende orde betekenisvolle magte (en nie net seremoniële magte nie) aan die veelheid van kultuurgemeenskappe en gebiede toeken, word ʼn kunsmatige eenheid deur nuwe elites van onbekwames van bo-af op die werklikheid afgedwing. Geen beloftes wat in die Grondwet met betrekking tot die regte van die individu vervat is, is teen die sentralistiese dwang van die elites bestand nie.

In die verlede kon liberale demokrasieë wêreldwyd daarop aanspraak maak dat hulle suksesvol is. Anders as wat liberale steeds glo, was hulle suksesse egter nie ʼn gevolg van hul liberale en werklikheidsvreemde uitgangspunte nie, maar eerder vanweë die de facto-gesag en mag van spesifieke kulturele kragte en tradisies wat dit onderlê en ook moontlik gemaak het.

Ondanks die bewondering wat die heersende grondwetlike orde by lofsangers uitgelok het (en steeds uitlok), is sy uitgangspunte tydens die afgelope dertig jaar as fiksies ontmasker. Edmund Burke het reeds in die agtiende eeu na dié fiksies as “metafisiese spooksels” verwys.

Watter fiksies?

Ons fokus veral op een so ʼn fiksie, naamlik die liberale opvatting dat die mens ʼn losstaande individu is. En dat die grondwetlike orde as gevolg daarvan op die regte van die individu gegrond moet wees.

Die Cosag-onderhandelingsgroep swart en wit leiers. Hierdie groepering het tydens die onderhandelinge klem geplaas op federalisme en selfbeskikking vir verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika. (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Histories gesproke kan die oorspronge van dié opvattinge na die sewentiende en agtiende eeue teruggevoer word. In dié eeue het liberale (en revolusionêre) gepoog om met die tradisionele opvatting weg te doen dat die mens “van nature” ʼn gemeenskapswese is.

In die liberale denke word die mens vanuit sy natuurlike en historiese gemeenskappe (soos sy gesinne en kultuurgemeenskappe) losgemaak en as ʼn losstaande individu begryp. Ondanks toegewings wat die liberale denke tydens die afgelope dekades ten opsigte van gemeenskappe gemaak het, handhaaf dit steeds hierdie fiktiewe opvatting van die mens.

Volgens die liberale opvatting is die moderne staat ook niks anders as ʼn kontrak tussen losstaande individue nie. In dié kontrak word daar nie ʼn wesenlike rol nie, maar eerder ʼn seremoniële rol aan gemeenskappe toegeken. Gemeenskappe self beskik nie oor wesenlike magte met behulp waarvan hulle byvoorbeeld oor hul eie sake kan regeer nie.

Inteendeel, ondanks sy oënskynlike weerstand teen die sentralisme gee die liberale state bykans sonder uitsondering tot een of ander vorm van bedekte of openlike sentralistiese regering aanleiding. Gemeenskappe en hul eie gesag word telkens weer geneutraliseer of uitgeskakel.

Nelson Mandela onderteken die nuwe 1996-grondwet terwyl die ANC se hoofonderhandelaar, Cyril Ramaphosa toekyk op 10 Desember 1996. (Foto: ADIL BRADLOW / AFP)

Inderwaarheid druis die liberale opvatting in teen die wese van die mens. Om die mens vanuit sy gemeenskappe te haal, beteken om hom in sy wese as mens te verskraal. As mense bestaan ons nie anders nie as in en deur ons gemeenskappe.

In aansluiting by die liberale denke het verskeie Afrikaanse kommentators tydens die 1994-oorgang uitgegaan van die werklikheidsvreemde standpunt uit die liberale denke dat die mens inderdaad as ʼn individu gedefinieer moet word.

Tegelyk het hulle die werklikheidsvreemde punt herhaal dat gemeenskappe geen betekenisvolle plek in die politieke kontrak hoef in te neem nie. Gemeenskappe het geen ‘spesiale regte’ nodig nie, het hulle destyds aangevoer. Volgens hulle was die regte van die individu genoegsaam om gemeenskappe te beskerm.

Pleidooie van destydse kommentators dat gemeenskappe nie net ʼn seremoniële deel van die nuwe politieke kontrak is nie, en dat hulle oor die nodige demokratiese magte moet beskik om so ver as moontlik oor hulself te kan regeer, is as ʼn oorblyfsel uit die ou orde afgemaak.

Vandag gee die fiksies waarin die liberale orde gegrond is tot verskeie spanninge in sy eie mondering aanleiding. Terwyl dit allerlei mooi teoretiese beloftes oor die individu en sy regte maak, lei dit in die praktyk dikwels tot die teendeel. Enkele voorbeelde kan dit verduidelik.

Voorbeeld 1

Ondanks die belangrikheid van die individu in die grondwetlike ooreenkoms druk die regerende elites ironies genoeg die wil van ʼn bepaalde gemeenskap, naamlik van die meerderheid, op almal af. Die individualistiese uitgangspunte van die grondwetlike orde staan magteloos teenoor die meerderheidspolitiek van die elites.

Prof. Danie Goosen (Foto: Verskaf/ Akademia)

Indien die grondwetlike bedeling op die wesenlike erkenning van gemeenskappe en gebiede gerus het, kon dit as konkrete teenwig vir die dwase en voorskriftelike politiek van die elites gedien het. Omdat dit egter nie so is nie, druk die elites hul wil op ʼn gemeenskap soos die Afrikaners af. Waarin is die strakke toepassing van SEB, die aandrang op onteiening en die voorgestelde Bela-wetgewing anders as in diepe vyandigheid teen Afrikaners gegrond?

Indien die staat op ʼn verstandhouding tussen gemeenskappe gerus het, kon die magte op ʼn sinvolle wyse verdeel gewees het. Ironies genoeg is dit wat die liberale denke belowe, naamlik ʼn verdeling van magte. Inderwaarheid gaan die elites uit hul pad om die mag in hul hande saam te bundel en elke aspek van die alledaagse lewe onder hul beheer te plaas.

Voorbeeld 2

Ter verdediging van die liberale denke kan (tereg) aangevoer word dat dit in die verlede gepoog het om die “liberale” beheer van die elites oor die staat met die “demokratiese” inspraak van die gewone burger te kwalifiseer. Dit wou ʼn liberaal-demokratiese orde wees.

Dwarsoor die Westerse wêreld verkeer die liberaal-demokratiese ooreenkoms egter onder spanning. “Liberaal” en “demokrasie” loop vandag wyd uiteen. Nêrens vind dit so ʼn uitdrukking as in “gewone burgers” (die populi) wat in opstand teen die links-liberale elites kom nie. Gewone burgers voel hulself van die politieke ordes uitgesluit… ook hier ter plaatse.

Alhoewel daar heelwat misverstande hieroor bestaan, staan sowel die “linkse” as “konserwatiewe” populisme in Suid-Afrika skerp in spanning met die werklikheidsvreemde en korrupte elites. Dit verteenwoordig die dieper verdelingslyn in die politieke orde. Alhoewel die grondwetlike ooreenkoms van 1994/ 1996 dit nie voorsien het nie, het dit hierdie verdelingslyn moontlik gemaak. Waarom? Omdat dit uit hoofde van sy klem op die belangrikheid van die individu nie behoorlike voorsiening vir die demokratiese inspraak van gemeenskappe gemaak het nie.

Ons sluit af. Wat is die politieke alternatief wat tydens die onderhandelinge van die vroeë negentigerjare vergete geraak en nie aan die bod gekom het nie? Die antwoord is geleë in wat Ruben Alvarado in ʼn onlangse publikasie as die werklike alternatief op die “rasionalistiese individualisme” van die liberale denke beskryf, naamlik die federatiewe tradisie met sy sin vir selfstandige gemeenskappe.

‘n Portret van Johannes Althusius. (Foto: Verskaf.)

Alvarado sluit by ʼn ou tradisie in die politieke denke aan wat Johannes Althusius, ʼn Nederlandse denker uit die vroeë sewentiende eeu, as die vader van die moderne federatiewe alternatief beskou.

In spanning met liberale denkers uit dieselfde eeu het Althusius aanvaar dat die mens van nature ʼn gemeenskapswese is, en dat politieke orde die beste funksioneer as die mag oor verskillende gemeenskappe versprei en nie in ʼn sentrale mag gesetel is nie.

Althusius behoort nie tot die verlede nie. In vele opsigte verteenwoordig sy denke eerder die toekoms van veral politieke ordes wat deur uiteenlopende kulture en gemeenskappe gekenmerk word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moira ·

Ek dink idealisme en identiteits politieke is geskep om mense te vorm met swak kern waardes en verswakte bande met sy voorgeslagte, om sentraal mense se identiteite te kan manipuleer na wat die regering wil he dit moet wees.
Hoe kan jy identiteite beheer as jy nie eers vir mense leer wat hulle identiteit is nie. Hoe kan jy mense teen mekaar laat baklei as hulle nie eers weet dat hulle veronderstel is om vas te sit nie? So baie dinge om vir mense te leer. Vir beheer. Dis n slim toertjie om kulturele mag en kulture te vernietig en dis baie effektief.
Maw ek het jou artikel baie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.