‘Lekker Weskus’ se Dawid leef kosdroom langs see uit

Dawid Botha van ‘Lekker Weskus’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Minder as twee jaar gelede was Dawid Botha nog ʼn professionele foto- en videograaf wat troues van bekendes soos springbok Steven Kitshoff afgeneem het.

Deesdae is hý eerder voor die kamera as die skepper van die gewilde sosialemediablad “Lekker Weskus”.

Op dié blad maak hy hartsresepte, dikwels oor ʼn vuurtjie, met prentjiemooi tonele van die Weskus in die agtergrond vir sy derduisende volgelinge.

Vandag bestaan “Lekker Weskus” boonop nie net uit video’s nie, maar ook produkte en gaan binnekort selfs ʼn kookboek en restaurant insluit.

Dít alles danksy ʼn eenvoudige snoekbraai.

“Dit was alles heeltemal per toeval en totaal en al onbeplan,” vertel Dawid vanaf ʼn stoep wat oor die Weskus-waters uitkyk.

“My party trick was nog altyd my radiostem, en ek besluit toe een aand om by ʼn snoekbraai in Churchhaven ʼn video te maak terwyl ek besig is, aangesien ek reeds al die toerusting gehad het. Ek het my radiostem oor die beeldmateriaal gegooi en die video op TikTok geplaas met geen verwagtinge nie.”

Binne enkele ure het nagenoeg 10 000 kyke ingestroom, en ná ʼn maand het Dawid se TikTok-volgelinge op 20 000 en sy trefslae op meer as 300 000 gestaan.

Dít was November 2022. Vandag volg meer as gesamentlik 100 000 mense sy Weskus-kosavonture op verskeie sosialemediaplatforms.

Van garage pies-liefhebber na fynproewer

Die George-boorling skerts dat kookkuns ʼn nuutgevonde talent is en nie van nature deur sy are vloei nie.

“Ek was maar ʼn tipiese garage pie-tipe man, ek sou enigiets eet. My arme ma is ook nie lief vir kos maak nie. Sy’t dit gedoen omdat sy moes, nie omdat sy wou nie,” sê hy laggend.

Dawid het sy geboortedorp in 2019 vir Kaapstad verruil, maar sê hy het vinnig besef hy hoort op ʼn klein dorp. Nou noem hy Velddrif aan die Weskus sy tuiste.

“Die rye, die verkeer … Alles was net te veel in Kaapstad. Hier is daar werklike gemeenskappe, en almal ken mekaar. Jy mag nog op die strand vuur maak, mense gaan biblioteek toe, en daar is boonop nie ʼn verkeerslig nie. Dis net anders.”

Elke dag begin met ʼn stappie op die strand, dikwels met dolfyne wat in die vlakker waters speel.

Dawid leef nou elke dag sy nuwe passie uit. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ek moet myself soms knyp om te dink dat hierdie my werklikheid is,” sê hy en wys na die byna ongerepte strand agter hom.

Vir sommige sleutelbordkrygers is Dawid nog steeds ʼn sogenaamde “inkommer”, veral wanneer hy sy eie geur aan ʼn kenmerkende Weskus-dis gee.

Opmerkings oor sy stem, voorkoms en kookvernuf het hom boonop amper sy voorskoot en mikrofoon finaal laat ophang.

“Ek moet myself soms moed in praat, veral as iemand my help en ek nie myself kan afneem nie. Dis tipies daardie geval van mens kan uit 100 kommentaar 99 mooi boodskappe kry, maar daardie een waarin jy sleggesê word, sal die meeste by jou vassteek,” verduidelik Dawid.

“Ek het in die begin teruggekap, maar het besef dis nie die moeite werd nie. Die tannies is snaaks genoeg dié wat baie vriendelik is. Dis maar meer die ooms wat inklim by die kommentaar – elke man glo mos sý manier van braai is die beste,” terg hy.

Afrikaanse kookkunsgemeenskap verwelkom hom met ope arms

Dawid bieg dat hy by tye steeds met bedrieër-sindroom (imposter syndrome) worstel, ondanks die feit dat groot name in die plaaslike kookkunsbedryf, soos Suid-Afrika se eie Michelin-ster-sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen en Innisop en Kokkedoor se Bertus Basson, graag vir hom ʼn plek aan tafel dek.

“Toe Bertus my deur TikTok gekontak het en vra om saam met my kos te maak, was ek vreeslik op my senuwees. Ek het gevoel asof hy reg deur my gaan sien omdat ek nie professioneel opgelei is of ervaring het nie.”

Nou kuier Dawid en dié gewilde koskenner, wat hy ook as mentor beskou, graag oor en weer.

“Ek onthou hoe selfbewus ek was omdat ek nie die mesvaardighede van ʼn sjef het nie, toe sê Bertus dat sy ma ook nie professionele vaardighede het nie, maar vir hom van die lekkerste kos in die wêreld maak. Dan voel mens sommer dadelik beter oor jouself.”

Byna elke dag begin vir Dawid langs die see. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy is ook al as gas na twee eksklusiewe etes van Jan-Hendrik genooi.

“Ek het nie gedink dat iemand soos Jan eens weet wie ek is nie, maar ons het met mekaar deur e-pos begin gesels. Hy’t met soveel lof van ‘Lekker Weskus’ gepraat en graag raad gegee vir my kookboek.

“Ek kon nie glo dat hulle almal so gaaf en vrygewig met hulle kennis sou wees nie. Ek is net hierdie gewone ou wat absoluut niks van professionele kookkuns af weet nie, maar nou met ope arms verwelkom word.”

Ook die komediant en sosialemediapersoonlikheid Mel die Storieverteller het vir Dawid ʼn goeie vriendin geword, soveel so dat hy verantwoordelik was vir die kos by haar feestelike drie dae lange Weskus-troue in Januarie.

“Ons ervaar nogal dieselfde tipe kritiek en pak lekker by mekaar af, maar moedig ook mekaar aan. Sy’s ʼn wonderlike, egte mens.”

Wat dink sy vriende en familie dan nou van al dié soete sukses?

“My ma is my enigste regte fan, sy spog by almal,” sê hy laggend.

“Ek dink die nuwe vriende wat ek deur hierdie ervaring gemaak het, is dalk meer ondersteunend omdat baie ander my nog as die troufotograaf sien.”

Tans word daar wel veel meer kookpotte en kole as bruidspare en blomme deur sy lens vasgevang.

“Ek was 15 jaar lank ʼn fotograaf en doen video’s sedert 2015. Ek het 60 tot 70 troues per jaar gedoen, so dit voel asof ek tot ʼn mate my persoonlike glasplafon bereik het in daardie verband. Ek is nou meer passievol oor ‘Lekker Weskus’ en wil dit my hoofprioriteit maak.”

Sy aptyt vir nuwe uitdagings is nou opnuut bevredig met die nuwe moontlikhede wat deesdae aan sy deur kom klop.

“Dis seker nou my loopbaan-ekwivalent van ʼn midlife crisis, maar ek is iemand wat die heeltyd wil groei en nuwe dinge wil leer. Ek wil nie eendag wakker word en in my veertigs wees en nog steeds troues afneem nie. Daar’s niks fout daarmee nie, maar dis nie meer my droom nie.”

Tans is sy groot fokusareas twee reekse wat hy vir YouTube wil opneem en natuurlik die ontwikkeling van sy eie Weskus-restaurant.

“Die idee is om egte Weskus-disse te bedien wat net bietjie opgekikker is. Geen skuimpies of vreemde blare nie, maar tog ʼn bietjie verfyning,” verduidelik hy.

Watter ‘Lekker Weskus’-dis sal gaste dan nou eendag eerste moet probeer?

“Beslis my rosé-mossels en paprika-en-knoffelbotter-snoek. Die rosé-mossels alleen het ʼn belegger oortuig om die restaurant oop te maak. Dít behoort vir jou genoeg te sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.