Max kry wéér sy neus voor

Max Verstappen is weer op sy stukke in Miami. (Foto: X/F1)

Die neus van Max Verstappen se blitsige Red Bull sal vir ʼn sewende keer op ʼn streep heel voor op die F1-wegspringrooster staan.

En indien die geruite vlag weer eens in Miami vir die verdedigende wêreldkampioen geswaai word, sal dit sy vyfde oorwinning van die seisoen wees.

Die Nederlander het reeds met die blitsren-louere in dié Florida-stad weggejaag en hy is die enigste renjaer wat met meer as 100 punte op die amptelike jaerspunteleer spog.

Om Verstappen se wegspringlopie in perspektief te plaas – Alain Prost was in 1993 die laaste renjaer om héél voor vir die eerste ses wedrenne van ʼn seisoen weg te spring.

Charles Leclerc en Carlos Sainz in hul Ferrari’s is egter op die Red Bull-ster se hakke, gevolg deur Sergio Perez.

Volgens Verstappen het hy ʼn bietjie met sy bestendigheid in die kwalifiserende rondes gesukkel.

“Dit was moeilik om die perfekte balans te vind. Dit was nie die lekkerste ronde van my loopbaan nie en ek het met tye ʼn bietjie met my selfvertroue gesukkel, maar ons spring eerste weg en dit is die belangrikste,” het hy gesê.

Die renmotors spring vanaand om 22:00 (SA tyd) weg en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Wegspringrooster vir Miami:

  1. Max Verstappen (Red Bull): 1:27.241
  2. Charles Leclerc (Ferrari): 1:27.382
  3. Carlos Sainz (Ferrari): 1:27.455
  4. Sergio Perez (Red Bull): 1:27.460
  5. Lando Norris (McLaren): 1:27.594
  6. Oscar Piastri (McLaren): 1:27.675
  7. George Russell (Mercedes): 1:28.067
  8. Lewis Hamilton (Mercedes): 1:28.107
  9. Nico Hulkenberg (Haas): 1:28.146
  10. Yuki Tsunoda (RB): 1:28.192

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.