Op reis deur Egipte: Sakkara-piramides en parkeergebruike

Retha Dreyer in Sakkara, Egipte (Foto: Thomas Dreyer)

Retha Dreyer in Sakkara, Egipte (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Egipte en Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons ry vroegoggend saam met Nadia in haar 1989 Volkswagen Polo na die Sakkara-piramides buite Kaïro. Gisteraand het sy haar motor dubbel parkeer voor haar woonstel, die motor uit rat gehaal, die remme losgemaak, ʼn klip voor die wiel gesit en die kar gesluit.

As iemand anders wil ry, stoot hulle haar motor net uit die pad en sit weer die klip voor die wiel. Dit is hoe almal parkeer. Enige plek, enige tyd, selfs in spitstyd. Geen parkeerplekke of parkeergeld nie. Kaïro is een groot parkade.

Ons ry langs ʼn sytak van die Nyl af. Die strate is vuil. Die Nyl se sytak is vuil. Op een plek het plastieksakke in die Nyl opgedam. Gaandeweg maak die woonstelblokke plek vir plasies. Grasgroen lusern orals waar jy kyk. Reusagtige palmbome.

Ons hou stil by ʼn boer wat vrugte verkoop op sy waentjie. Die grootste aarbeie wat ek nog gesien het, pragtige rooiwang appels, trosse piesangs en stroopsoet nartjies. Ons móét eenvoudig van die aarbeie en nartjies koop.

By die ingang na die Sakkara-piramides is polisie met gewere wat elke voertuig deursoek en ID-dokumente nagaan. By die kaartjiekantoor koop ons toegangskaartjies en ry die woestyn binne.

Sakkara is ʼn begraafplaas vir die Farao’s en edeles van die ou stad Memphis. Die piramide van Farao Djoser is die oudste bekende klipgebou in die wêreld (3600 vC). Anders as die ander piramides is dit in trappe gebou.

Ons stap na ʼn pragtige klipmuur. Elke klip pas presies, sonder sement. Ons stap deur die ingang en staan verwonderd. ʼn Lang gang met pilare strek voor ons uit – die toegangspad tot die grafkelders.

Stap jy deur bevind jy jou in ʼn groot sanderige vierkant. Aan die een kant is Djoser se piramide en aan die ander kante oorblyfsels van pragtige kliptempels. Oral op die begraafplaas is grafkelders gebou.

Sakkara, Egipte (Foto: Thomas Dreyer)

Sakkara, Egipte (Foto: Thomas Dreyer)

Die oudste grafkelder is dié van Koningin Idut uit 2369 vC. Dit is vol gange en kamers waaronder die grafkamer. Die klipgange is versier met muurpanele en die grootste is dié van die mooie Koningin Idut. In die uiteindelike grafkamer het sy gebalsem gelê in ʼn kis wat uit klip gekap is. Vandag rus sy in die Egiptiese Museum tussen die ander koninklikes.

Die ander grafkelders is baie dieselfde, maar verskil van mekaar in die hoeveelheid kamers. Om by Farao Ti (2400 vC) se grafkelder uit te kom, moet jy met kliptrappe afklim, dan deur nou klipgangetjies afkruip totdat jy uiteindelik in die kamer kom waar hy in ʼn reghoekige klipkis gelê het met ʼn groot klipdeksel bo-oor. Ook hy rus nou in die Egiptiese museum saam met die ander koninklikes.

In een van die kamers is twee reghoekige gleuwe in die klipmuur op ooghoogte. As jy daardeur kyk, is alles pikdonker. Ek gebruik my selfoon se flits om deur die gleuf te lig. Binne is ‘n klipkamer met ‘n beeld van Koning Ti wat reguit vir jou kyk. Die beeld is ontoeganklik, geseël deur meester klipbouers 4 400 jaar gelede.

ʼn Koue westewind waai uit die woestyn en ons stap oos van Djoser se piramide verby om skuiling te kry. Onder ‘n klipmuur by die een hoek steek klipafbeeldings van die koning, sy vrou en hulle twee dogters se voete uit. Kompleet asof hulle binne-in die piramide regop staan!

By die hoek van die piramide is ʼn skuins reghoekige klipkamer met twee ooghoogte gate in die een muur. Ons loer daardeur en ʼn beeld van die koning kyk vir ons. Vol stof, maar ongeskonde deur die eeue. Vir 5 600 jaar het mense na hom gekyk uit eerbetoon, aanbidding, of, soos ons, uit nuuskierigheid. Rondom die loergate het duisende hande die klip al wit gevat.

Daar is nog grafkelders, maar die wind uit die woestyn is koud en ons is honger en dit is tyd om terug te gaan. Nadia ry behendig met haar Polo deur die druk verkeer. Hier is omtrent nie verkeersligte nie en geen stoptekens of toegeetekens nie. Jy druk in vir ʼn plek en sorg net dat jy aanhou beweeg. Ander moet vir jou pasop en jy vir hulle.

Driebaanpaaie het soms vyf voertuie langs mekaar, motors, vragmotors, busse, tuk-tuks en motorfietse. Motors ry rakelings by mekaar verby. Vir ons is dit pure chaos. Vir die Kaïro-bestuurders maak alles sin.

Terug by die woonstel in Heliopolis parkeer Nadia haar Polo. Dubbelparkering voor ander. Sy maak die remme en ratte los en sit ʼn klip voor die wiel. Môre sal haar karretjie nog daar wees, dalk net op ʼn ander plek ʼn entjie verder.

2 Kommentare

Basson ·

Baie baie interessant!
Sal graag nog wil lees.
(NS : baie respek aan ‘Nadia’ – ek is ook al deur Kairo (in ‘n bus) en dis onbegryplik hoe mens daar self kan bestuur :) )

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.