Vrae oor Volkstaat aan die Weskus

 

Die gedeeltes wat in geel gemerk het is glo van die grond wat die ANW wil bekom. Foto: Facebook

Die gedeeltes wat in geel gemerk het is glo van die grond wat die ANW wil bekom. Foto: Facebook

Die vooruitsig van ʼn “Afrikaner-nedersetting” aan die Weskus het ʼn klomp Afrikaners aan die praat. Talle vrae en ʼn bewering dat dié beplande ontwikkeling slegs ʼn geldmaakfoefie is, gooi egter ʼn skaduwee oor die entoesiasme van dié wat reeds geld daarin belê het. Maroela Media het ondersoek ingestel.

Dit blyk dat die mense agter die projek reeds vir ʼn geruime tyd op soek is na die regte plek om hul sogenaamde Afrikaner Nedersetting te gaan vestig. Hul Utopia is onlangs tussen Lutzville en Nuwerus, noord van die Olifantsrivier, gevind, waar 3000 ha ongerepte plaasgrond lê en wag vir die pioniers.

Beplanning vir die nedersetting is aanvanklik agter die skerms deur ʼn klein groepie bestuurslede gedoen om grondgebied vir die selfbeskikking van die Afrikaner te identifiseer voordat dit bekend gemaak sou word.

ANW (Afrikaner-nedersetting-Weskus) is baie op die resep van Orania geskoei, maar die verskil is dat dit op ʼn koöperatiewe grondslag bedryf gaan word. Orania word bedryf soos ʼn maatskappy, het een van die bestuurslede, wat gevra het om anoniem te bly weens al die “skinderstories” rondom die projek, aan Maroela Media verduidelik. Daar is onder meer vrae oor wanneer die projek nou gaan afskop, wie almal grond mag koop en ander inligting soos of die plaas al gekoop is.

Die span agter die droom sê op hul Facebookblad R10 miljoen is reeds in die fonds beskikbaar. Meer as 200 gesinne het reeds ingekoop en hul geld word in die trustrekening van ʼn prokureur in Gauteng inbetaal. Alle “volksgenote” word in die Facebook-inskrywing ingelig dat planne vir hul nedersetting meer belangstelling as wat verwag is, uitgelok het.

Volgens Nicolene Edwards, ANW se regsverteenwoordiger en een van die bestuurslede, het sy by die projek ingekoop aangesien sy dit as ʼn wonderlike geleentheid beskou.

Foto: ANW/Facebook

Foto: ANW/Facebook

“Van die bestuurslede het gemerk dat ek ʼn prokureur is en gevra of ek namens die groep die geld sal hanteer. Ek het ingestem om dit te doen. Dit het net sin gemaak om my deel van die bestuur te maak, aangesien die geld onder my firma se beheer is,” het sy aan Maroela Media verduidelik. “ANW is dus my kliënt en my doel op die bestuur is suiwer om seker te maak die geld word in veilige bewaring gehou en aan die regte mense betaal.”

ʼn Maroela-leser het Maroela se hulp ingeroep nadat sy geen reaksie op haar navrae aan die kontakdetails op ANW se webblad kon kry nie. Volgens haar het sy 25% van haar deposito vir haar “plekkie in die son langs die Weskus” inbetaal, maar niemand by ANW het daarna op enige van haar navrae gereageer nie.

“Dit was die laaste sien van die blikkantien. Wat nou gemaak?”  wou die bekommerde vrou by Maroela Media weet. “Waar begin mens om uit te vind of dit ʼn slenter is?”

Twee Weskus-setlaars met wie Maroela Media gepraat het, het ontken die projek is maar net nog ʼn geldmaakfoefie soos ʼn Ponzi-skema.

Sedertdien het die leser daarin geslaag om ANW se kontakbesonderhede op hul Facebookblad te kry en sy het bevestiging gekry dat haar deposito wel ontvang is.

“Ek het nog net die deposito betaal en sal wag om te sien wat gebeur, want hulle is nog op soek na die regte plaas,” het die leser vir Maroela Media gesê. “Almal wat nou betaal het, het hul eie idees en daarom sit ek maar op die kantlyn en wag. Ek is net nie seker of dit gaan realiseer nie. Persoonlik dink ek dit was ʼn goeie idee totdat al die logistiek op papierwerk was en nou is dit ʼn baie groter projek as wat hulle gedink het.”

“Dit is van alle waarheid ontbloot,” het een bestuurslid gesê oor die bewerings van ʼn geldmaakfoefie . “Daar is tans geen aanduidings van enige onderduimsheid nie. Alle bydraes word in Nicolene Edwards, die projek se prokureur en ʼn bestuurslid van die projek, se rekening inbetaal en van die mense wat wel besluit het om nie meer deel van die inisiatief te wees nie, se volle bydrae is binne 24 uur na kansellasie van die transaksie aan hulle terugbetaal.”

Hy het gesê vir R10 000 kry ʼn Afrikaner-pionier volle eiendomsreg van 1 ha per aandeel. ʼn Gesin word beperk tot 10 aandele elk. Die kopers kan na hartelus op hul stukkie grond bou en werskaf, “solank dit landbouverwant is en bydra tot die selfbeskikking van almal daar”.

Die foto is ook op ANW se Facebook gedeel.

Die foto is ook op ANW se Facebook gedeel.

Edwards het dié standpunt beaam en verduidelik die manier waarop die projek bedryf word, bied geen geleentheid bied vir iets soos ʼn piramideskema nie. Sy het die volgende redes vir haar standpunt aangevoer:

  • Geen opbrengs word aan beleggers gebied behalwe hul deel van die winste van die bedrywighede nie;
  • Daar is geen voordeel verbonde daaraan om nuwe lede te werf nie; en
  • Niemand word gevra om iets te verkoop nie. Daar is geen druk op enige persoon om enigsins die skema te bemark nie.

“Die projek is dus niks anders as ʼn normale beleggingsgeleentheid nie, waar mense in die moontlike winste van die bedrywighede kan deel en kan deelneem aan die bedryf en bestuur van die hele projek,” het sy gesê.

Edwards wou haar nie oor die lewensvatbaarheid van die projek uitspreek nie, maar sy het bygevoeg elke belegger se geld sal terugbetaal word indien die projek om die een of ander rede nie slaag nie.

Volgens Edwards is die plaas by Lutzville nog nie ʼn uitgemaakte saak nie en steeds net ʼn opsie. Al die lede sal die geleentheid gebied word om uiteindelik te stem oor die geskikte grond.

ANW wil so onafhanklik en selfvoorsienend as moontlik wees deur hul eie kos, water en energie te verskaf. Dit sal hoofsaaklik deur gas, wind- en sonkrag gegenereer word.

Die eerste fase van hul droom is om sowat 1 000 plotte te verkoop om die projek van die grond af te kry. Die koöperasie sal dan die 2 880 ha bedryf en gewasse soos koring, gars en veevoer verbou. Die stigterslede sê op hul Facebookblad daar is geen grondeise op die grondgebied nie.

ANW se bestuurslede, soos op hul webwerf aangedui, is Charl Nel, Fanie Lindeque, Johan Venables, Mia Fourie (kandidaat en sekretaresse), Peter Murray, Brink van Zyl en Nicolene Edwards.

Voordat daar op die grondgebied by Lutzville besluit is, het die ondersoekspan na talle plase aan die Weskus gaan kyk, van Elandsbaai tot Port Nolloth. Die beste vier plase is toe in Oktober verlede jaar aan die bestuur voorgelê, waartydens daar  voorlopig met ʼn verkiesing op die Lutzville-perseel besluit is.

“Koördinate kan nie nou bekend gemaak word nie, omdat ons nog besig is met onderhandelings en dit op die oomblik ʼn sensitiewe saak is,” lui die verklaring op ANW se webblad.

Die plaas is sowat 15km vanaf die see af, “soos die kraai vlieg”. Huishoudelike water  kom van die Clanwilliamdam af, maar die Olifantsrivier is ook ʼn opsie. Die Namakwasands-myn, waar titaan ontgin word, is ook daar naby.

James Kemp, woordvoerder van die Orania Beweging, het by navraag aan Maroela Media gesê hulle is nie amptelik by die projek betrokke nie. “Ons beskik ook nie oor voldoende inligting oor die projek nie. Daar bestaan dus vrae soos hoe die demografie lyk, indien dit landbougrond is wat hulle koop, hoe hulle van plan is om dit te verdeel en te hersoneer, hoe die eienaarskap sal werk en so aan,” het Kemp bygevoeg. “Sonder daardie inligting kan ek nie met ʼn goeie gewete so ʼn projek ondersteun en bevorder nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

Bernard ·

Kom ons veronderstel ek koop in en betaal my R10 000. Ek pak my kar en stop op my 1 hektaar grond met my vrou en kindertjies. Daars NIKS. Nie water nie nie toilette nie nie ‘n dak oor my kop nie NIKS. Waar begin ek? Waar kry ek bakstene, sinke, sement en hulp om my huis se dak op te rig.
Ek het 5 jaar terug vir my ‘n huisie op my plaas kom bou wat aan my skoonpa behoort het en dit het my 6 maande gevat om te voltooi en hier was alles tot my beskikking gewees.

Hoekom gaan koop hierdie mense nie eiendom in Orania nie? Hoekom in die woestyn?

Antoon ·

My vraag is wat bedoel hul met: “Verkieslik nie permanente strukture sodat dit as ‘n nedersetting beskou kan word.”

Andrea van Vuren ·

Bernard, ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat Orania sy deure oopgegooi het vir swartes. Hulle (swartes) het glo ‘n hofinterdik gekry om daar te gaan woon want dis glo veiliger! Ek hoop dis nie waar nie.

Jan Karsten ·

Berhalet Beukes: Wat is fout met die “Amish”. Hulle lewe in vrede met almal, self versorgend en leef naby GOD. Hulle kritiseer niemand of hulle geloof nie en wil ook so gerespekteer word. Is daar fout met hulle omdat hulle nie hulself blootstel aan liberalistiese media en TV en al sulke moderne tegnologie nie. Hulle sit nie met beurtkrag en mense wat vir hulle voorskryf wat om te doen nie. Ek kan sien jy kan nie sonder gerief leef nie, kry vir jou. Ten minste is hulle gelukkig en steur hulle nie aan die wereld se mening nie. Hulle kla nie oor beurtkrag en sulke dinge nie.

John ·

Is dit die daar naby waar die atoomkragstasie se afval geberg word nie?

Stan ·

Ek ondersteun enige vorm van aksie. Te veel mense kla en kerm net maar doen niks konstruktiefs nie! “GOD help those who help themselves”. Hoop julle visie slaag. Jammer julle kan nie die grond by iemand se skoonpa kry nie.

johny ·

Eie grond eie polisie eie regering eie alles dit is al wat sal werk en eie weermag dat trek ek soontoe en sal mijoene betaal

Reinhardt ·

Ag nee man mense. Plaas dat die ouens hul energie konsentreer om die Afrikaanse kultuur te bevorder en meer inklusief te maak, nou maak julle dit meer eksklusief. Het niemand geleer dat daai werk nie? Moet julle weer deur alles gaan?

Loeis ·

Waarom sê jy so, Reinhardt? Wat jy sê is eenvoudig nie waar nie.

Vissie ·

Ek woon in die Weskus-gebied en het nog nooit van so ‘n plan of hierdie mense gehoor nie. Al waaraan ek mense graag wil herinner, is dat die destydse kubus-skema ook in hierdie geweste uitgebroei het. En kyk waar het dit geëindig.

Berhalet Beukes ·

Ek sien my kommentaar is verwyder… Geen probleem… Dan stel ek dit so… Goedkoop is duur koop en hierdie projek gaan mense op die ou end geld kos wat hulle nie het nie… Jy kry niks vir ‘n appel en ‘n ui in hierdie lewe nie…

Sinikus van kusweg. ·

Is daar nie skreeuende konflik van belange daarin dat die prokureur in wie se trust rekening die fondse betaal word ook ‘n bestuurslid is nie??

DewaldS ·

Jy besef natuurlik dat die meeste besighede op die planeet se bankrekening in hulle eie naam oopgemaak word en dat die daaglikse boekhouding deur iemand BINNE die maatskappy gedoen word? Daar is nou vir jou ‘n skreeuende konflik….

Sarie ·

Die gronde by Lutzville kry wel water uit die Clanwilliamdam, maar waterregte word beperk en gereguleer. Baie van daardie reeds bestaande plase kan nog meer uitbrei, maar daar is nie genoeg water nie en die myne vat ook ‘n klomp water. So al genade sal wees as hulle ontsouting van boorgat en fonteinwater doen soos daar by Bitterfontein plaasvind. Daardie wêreld is harde wêreld om in te boer. Ek het daar grootgeword en weet waarvan ek praat.

johny ·

Vergeet van boerdery .Probeer iets oprig om baie baie toerisme te lok.bv waterparke speelplekke .En rig al die boere standbeelde daar op en ander standbeelde.en bv ook soos Disney world.en konferensie plekke en mooi trou onthaal plekke en waar mense kan woeker met intrepeneur sake.En vlooi markte om geld in te samel en baie werksgeleenthede te skep kyk net na du baai in die woestyn operig Groot punt van oefening ons kort oorsese geld mense hou van op vakansie gaan en geld uit te gee Wat ook van geboue oprig om die mense meer te leer van Suid Afrika se geskiedenis en boere geskiedenis ens

Kobus ·

Dit klink ook na n blink plan. Ek hoop al die dinge kan realiseer. Een ding is seker, ons is n skerp opbouende nasie en weet hoe om te handel en organiseer!

JOHNY ·

Suid Afrika mooi opgebou nie buite wereld nodig gekry. Ons kan dit daar ook doen ons afrikane dink darem uit die boks Soos person bo verduidelik see water kan ontsout word en vullishope kan vir ons krag voorsien en windkrag en sonkrag en see krag van die golwe Waar daar n wil is is n weg Hoe se ons boere en die wat saam met hulle wil staan maak n plan .En dan begin ons rainbow nation nommer twee sonder enige koruppsie en ons maak geld dat die biesies bewe en voer kos en produkte in vanaf ons bestaande boere af

Elrie ·

Johny, ek hou nogal van jou idee…..ons het genoeg mense met murg in die bene om dit te kan doen…Ek hoop daarvoor…….

Rynhardt ·

Weer val wittes vir die grootste slenter! Anc gaan nie vir jou n volkstaat toelaat nie! Dit gaan daaroor om geld uit jou te maak en jou te speel.De Klerk was die ware argitek van Volkstaat en dit was later gedryf deur genl.Viljoen en Mulder-broers.Ons mense leer nie uit hul volkstaat-sirkus nie! Kom vinnig uit volkstaat-konsep! Anc gaan jou geen vryheid gee nie! Jy het jou vryheid destyds weg gestem!

Thomas ·

Hierdie is ‘n scam. Hulle vorder geld in om ‘n plaas te koop. Hoe wil die mense ‘n lewe maak op maksimum 10ha grond in daardie dorre streek. Weiveld word verkoop tussen R1000 en R4000 per hektaar afhangende van die gehalte en infrastruktuur soos kampe en waterpunte. Hoekom is die afrikaner so ‘n goedgelowig “sucker”. Word wakker mense hulle speel op julle , kry jou geld terug terwyl jy nog kan.

Renier Engelbrecht ·

Hullle praat van boerdery. Dis harde wereld. Ek boer in Koekenaap 15 km daarvandaan. Groot probleem is water. “N water pyplyn loop van Koekenaap na die myn plus minus 60 kilometer verder. Elke plaas kry n sekere hoeveelheid water. Ter sprake is twee plase waarvan ek eienaars ken. Energie geen probleem. Die son en wind is daar. Beperkende faktor is water. Met min water is boerdery n probleem . Gemiddelde jaarlikse reenval nie meer dan 150 mm. Geen probleem met projek. Water en nogmaals water. Hulle sal met die myn moet konsulteer oor die water. Voorspoed. Dis n harde ongenaakbare wereld.

Renier Engelbrcht ·

Ek boer 15 km van beoogde projek. Energie geen probleem. Daar is wind en son energie. Probleem is water en nogmaals water. Jaarlikse reenval maksimum 150 mm. Boerdery met min water? ek hoop hulle kry dit reg. “N pyplyn voorsien die myn van water 60 km verder. Die twee plase waarvan ek die eienaars ken het n beperkende hoeveelheid water. As daar water is geen probleem maar dis n ongenaakbare wereld. Ek het hier grootgeword. Voorspoed mense.

Wim Kotze ·

Ja-nee Reinier, hierdie span het klaarblyklik nie aardrykskunde op skool gehad nie en hulle het ook nog nie met die waarnemende stads en streekbeplanner by Matzikama munisipaliteit te doen gehad nie.

Kleinbekkie ·

Die grond wat verkoop word, is vir behuising en eerder ‘n plot per persoon. Op die oomblik is die plaas ‘n mengsel van saai-en veeboerdery. Die eienaar van die grond, hy is nie op die bestuur nie, het vir my gese dat die projek nog in die kinderskoene is en dat al die wetlike goed, soos registrasie van ‘n kooperasie en so aan eers gedoen moet word.

johny ·

Soos die ander person se en ek . Ontsout die seewater .Daar is mos genoeg energie

Wim Kotze ·

Die see is net ‘n bietjie vêr weg, en die kuslyn tot by die hoogwater merk behoort aan die staat.

Joh. 3:16 ·

Is dit nie waar die Suidlanders heen sou vlug nie? Of is ek in die vekeerde hoekkie vsn SA? Lyk my ons volk is nou so verdeel, die hele SA raak nou ‘n ‘hoekkie vir eensames’! Tragies my volk…ons vereensaam met ons hardkoppige pragmatisme. Plaas on braai saam en praat bietjie oor die sakie…

joe ·

Mense word wakker dit is n groot scam. Dit sal nooit werk nie ontsouting kos nie n appel en n ui nie. In elk geval word die grond te duur per hektaar aangebied!! @ Johny dit gaan nie werk om n Disney world daar te maak nie,geen pretpark of vlooimark sal daar werk nie dis in elk geval te vrek warm daar als brand vrek. Ek kan maar net lag vir ons Afrikanervolk. Word wakker!!

John ·

Dit klink vir my soos nog ‘n dorslandtrek, met dieselfde oorsake en gevolge. Koop eers die boek oor daardie aangrypende gebeure en die tragiese gevolge. Dit sal ‘n goedkoper en ‘n veiliger onderneming wees. Ons mense bly so lief vir ons ossewaens. En elke keer spring die moeilik saam met ons op die wa.

Armando ·

Ek is te oud vir so iets, anders het ek definitief daarby ingekoop. As die Jode in hulle woestyn dit kon doen, sou ons ook. Voorspoed.

Johannes Meintjes ·

So ‘n landbou-kommune projek verg duidelik baie beplanning en waagmoed, en hoef as niks meer of minder gesien te word as waarvoor dit beoog word, nl. ‘n kulturele voorkeur soos ook bv. Nkandla, Orania, die Koninklike Bafokeng of Kleinfontein. Hoe gouer dit as werkbare voorbeeld tot stand gebring word hoe gouer sal die nimmer-eiendigende kantlynkommentators ook rigting kry (en daar wil gaan bly).

Vissie ·

Ek het hierbo na die kubus-gedoente verwys. Baie jonger lesers sal dit nie onthou nie. Dit was ‘n piramied-skema in die negentigerjare waarvolgens mense geld belê het en deur middel van kamtige kweeksels moes hulle letterlik vrotmelk kweek en dan aan ‘n sentrale punt lewer, en vir alles wat hulle gekweek het, het hulle kamtig geld terugontvang. ‘n Klompie mense het geld teruggekry, maar uiteuindelik het baie, baie sonder ‘n sent gesit. Die hele gedoente het utgeloop op hofsaak op hofsaak, en nou kry ek net so die gevoel hierdie beoogde Weskus-Boerestaat kan dalk ook so ‘n piramiedskema wees waarmee baie mense hul vingers sal verbrand. Daardie stuk aarde waarna verwys word, is van die dorste en die strafste en die onherbergsaamste grond in ons land. Daar is geen water nie, dis ver van die see af, en water kan nie sommer net so goedsmoeds uit die Clanbwilliam-dam soontoe herlei word nie daar sal ook nie somemr net so water uit die bestaande besproeiingskanaal gelei kan word nie. En wie sal op so ‘n lappie grond ‘n bestaan kan uitboer? Nee, die hele ding lyk vir my verdag en ek sou in hierdie stadium almal aanraai om baie goed na te dink voordat hulle hierin belê.

PJ ·

Ek het ingekoop en ook my hulp aan bestuur aangebied. Ek praat glad nie names ANW nie maar hierdie Projek is nog in sy beplanning stadium. Die plaas is maar net ‘n opsie waar na gekyk word. Daar is heelwat mense wat tans baie hard werk om als in plek te kry. Sodra die projek vorm aan neem sal baie van die kantlyn kommentators graag ook hulle stukkie van die projek wil kry maar dan sal dit reeds te laat wees. Die wat so met oortuiging dit graag ‘n “scam” noem het nie ‘n idee waar van hulle praat nie. My ervaring sovêr is dat alles is oop vir alle lede en alle lede word betrek. Mens wat intussen besluit het om te onttrek se geld is terug betaal. Hierdie is gewone mense wat opsoek is na ‘n beter en veiliger toekoms vir hulle kinders. Die wat dit kritiseer en se dit mag dalk nie uitwerk nie mag dalk reg wees, tyd sal leer hoe alles in plek val maar dit maak dit nie ‘n scam nie. As jy in die droom van ‘n veiliger en beter toekoms kan deel en jou deel wil bydra om wel van die projek ‘n sukses te maak word dan deel.

Connie/Graham Bloxham ·

As ons n goedkoper, kleiner plekkie nader aan die see kan kry, sal die inkomste moontlikhede soveel groter wees. En my mening is dat as ons verskeie moontlikhede in ag neem om inkomste te genereer, hoekom moet ons ons blindstaar teen gewas boerdery! Ek sal eerder ‘n visteel skema wil begin om bekostigbare, gesonde proteiene te verskaf aan ons volksgenote en ook uit te voer!!! Dink net aan al die werk wat geskep kan word! Dit hoef ook nie net vis te wees nie!!! Ek dink ook aan Sybokhaarboerdery! Ons kan verskeie produkte van die bokke benut, bv. wol, vel, vleis, melk, botter, kaas, ens om produkte te vervaardig vir gebruik en uitvoere. Ook kan ons die see benut as veilige vakansieplek vir ons volksgenote, al is ons nie naby die strand nie, maar hoe nader hoe beter!!! Watter vakansie ganger sal dit nie MEER geniet om in die oggend wakker te word met die gedruis van die branders in mens se ore en egte boerbeskuit op die balkon saam met koffie en ‘n see uitsig wat nuwe lewe sal blaas in enige mens wat lewensmoeg voel van die gejaagde werkslewe in die stede nie??!!! Groete, Connie

Henk Venter ·

Ek wou ook hierin belê maar nadat ek die stuk, wat in werklikheid as hulle prospektus gesien kan word, deurgelees het, het waarskuwingsligte vir my aangegaan, nie in die eerste plek oor die projek self nie maar wel omdat die prospektus so swak opgestel is. Dit is deurspek van spelfoute, tikfoute, swak sinsbou en die ergste een is seker die verwysing na `n “servitiet” Ek het in meer as veertig jaar in die regsberoep nog nie van so iets gehoor nie en hulle bedoel seker “servituut” Hierdie mense gee voor dat hulle iets vir die Afrikaner wil skep en dan gee hulle nie eers om oor korrekte taalgebruik en die beeld wat hulle daardeur uitdra nie. Daar is `n prokureur op hulle bestuur wat seker eers die stuk kon nagaan en korrigeer of kan die prokureur ook nie spel nie ? Wanneer `n mens in `n nuwe maatskappy of organisasie belê is die prospektus die eerste dokument wat `n mens se oog vang en hierdie een lyk na die werk van onbeholpe onprofessionele mense of mense wat eenvoudig nie omgee nie. As hulle so min respek het vir hulle moontlike beleggers het ek geen vertroue dat hulle die projek suksesvol sal bestuur nie.

Andre ·

Al wat ek se is, as ons mense kan saamstaan, kan ons wondere verrig. Ek sal graag wil deel wees van so n projek met die nodige leiding. Connie jy praat beslis my taal !!!!!

Andrea van Vuren ·

Ek wonder of hierdie ANW projek gaan realiseer. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit Orania is nie meer ‘n blanke volkstaat nie.

De Villiers Hauptfleisch ·

Miskien is die persone wat die prospektus opgestel het nie taalkundiges nie, maar om taalfoute as verskoning aan te bied om nie in die projek te belê nie, is na my mening `n flou verskoning. Ek is van mening dat die prospektus die boodskap en inligting duidelik genoeg oordra vir die wat werklik en opreg belangstel. Sluit aan en lewer `n positiewe bydrae en moet nie net op die kantlyn staan en kritiek lewer nie. Jy kan altyd onttrek as jy nie gelukkig is met die projek nie en jou deposito sal onmiddellik aan jou terug betaal word. Vir diegene wat beweer dit is `n “scam” wil ek net verseker dat julle ver verkeerd is en ek praat van ondervinding.

Henbk Venter ·

De Villiers Hauptfleisch. Jy het nie my kommentaar behoorlik gelees nie en dit is geen verskoning as hulle nie taalkundiges is nie. Minstens kon hulle dan die stuk nagegaan het vir tikfoute en daar is seker baie taalkundiges wat dit vir hulle kon nagaan. Ek beweer nie dit is `n scam nie en ek staan nie op die kantlyn wat my volk se belange betref nie. My standpunt bly staan dat as dit nie eers vir hulle belangrik is om hulle prospektus behoorlik aan te bied nie het ek rede om te glo dat hulle nie so `n groot projek behoorlik van die grond af sal kan kry nie. Dit is ook disrespekvol om sulke swak opgestelde dokumente vir die voornemende beleggers aan te bied en hulle boesem op hierdie manier geen vertroue in nie.

De Villiers Hauptfleisch ·

Henk Venter. Dis baie jammer dat jy nie aangesluit het nie, as regs- en taalkundige kon jy `n positiewe bydrae gelewer het en jouself tuis gevoel het tussen al die kundige en professionele mense wat (ten spyte van die taalfoute) wel aangesluit het. Terloops jy het jou eie naam verkeerd gespel en dit nie agtergekom nie!

Tom Cooper ·

Dit klink alles prysenswaardig, maar net landbouverwante aktiwiteite? Gaan nieman tegnologie verskaf nie? Waar kry almal Internet? Hoe dryf jy deesdae handel sonder tegnologie?

Dit sal die Amish in die skande steek. Voor julle weer die Amish as ‘n wonderlike gemeenskap voorhou, onthou dat hulle getall elke jaar krimp.

Gaan nie werk as julle nie 100% selfstandig kan wees nie. Daardie is ‘n harde wereld. Ek was daar gewees vir sewe jaar.

De Villiers Hauptfleisch ·

Tom, daar sal tegnologie, en meer wees net soos in Orania. Hierdie ANWeskus word gedryf deur `n klomp innoverende mense en jy sal verbaas wees waarmee hulle vorendag kom met dinge soos wind- sonkrag ens. en selfs water uit lug. Die Lutzville plaas is natuurlik nie die enigste opsie nie, die bestuur kyk juis nou “as we speak” na opsies in ander omgewings. Vergeet nou maar die ou Amish storie. Moenie die Afrikaner onderskat nie!!

Nico Swanepoel ·

Dag Almal

Ek wil nou nie enige een se spoed breek nie maar kom ons gestel die grond word bekom en almal pak op om te hervesting, wat keer die staat om daai grond te vat? Volkstaat?? ek hoor wat julle se, hulle het n weermag met heelwat wapentuig, gaan die volkstaat dieselfde he? Wie gaan help? Ek probeer positief wees an bly maar ek sien geen uitweg nie. Niemand staan saam nie, almal is te geheg aan hulle aardse besittings en prober verby die krisis kyk. Almal weet dat die blanke se dae getel is maar klou vas aan n droom dat dinge weer sal verander. Hulle sal NOOIT toelaat dat die land van hulle weg geneem word nie. Feite

weethoeditwerk ·

Soos ek dit verstaan,sal dit op dieselfse prinsiep werk as Kleinfontein. R10 000 per hektaar vir 1 aandeel in die “maatskappy”. Wat sou gebeur as hulle hulself insolvent verklaar? Mense dis n baie groot risiko om so met jou hard verdiende geld( nog erger, pensioen) te dobbel. Let ook daarop, die grond sal heel waarkynlik nie kaart en transport akte hè nie, dit sal nooit werklik aan jou behoort nie. Al wat jy in der waarheid met jou R10 000 koop, is n aandeel. As dinge skeefloop, sit jy met n aandeel in n bankrot maatskappy, en nie met n fisies hektaar waarop jy dalk reeds geld bestee het nie. Ek is ook vir self beskikking, maar nie SO nie. Ek sal wag tot iemand met n beter plan vorendag kom, want ek self het nie een nie. Maar dink eers baie mooi voordat die mense aan jou n weskus droom verkoop, wat dalk in jou grootste nagmerrie kan ontaard. Ek praat van ondervinding.

willem ashton ·

Mense, luister asb. Die nuus [22/2] het vanoggend op RSG gesê Die NOP stel die NOP in sodat die ekonomie aan die gang kan kom. Regtig? sonder krag, water, damme vol riool? ‘n Reus sterf op Witbank [staalwerke 3000 sonder werk] Guptas kopie van die eeu wie is betrokke? Zuma se seun!
Sal ons uit ons foute leer? FW het ‘n geleentheid gehad diversiviseer minderhede, vir die eerste keer in die geskiedenis,ons MAG weg onderhandel! Stop uitvoer van erts, verwerk self skep nywerhede. in- en uitvoere @ hoër pryse Ek koop NIKS van die ander nasies in en om my dorp nie–maklikste om hulle te laat trek! My dorp se mense het geluisterl ‘n paar is weg—–dit is hoekom ek gesê het: Luister! Begin by jou dorp, buurdorp, gesels om die braaivuur, die kerk, sport ens.—-kry die Zumta, China Russia en ander uit die land deur nie hul produkte te koop nie!!! Kyk na die “ander” wat Woolworths gewurg het om Israel se produkte te verwyder. #feesmustfall, #rhodesmustfall ens. Hulle staan saam– en vernietig wat voorvaders met bloed en sweet geskep het! Dis tyd staan saam. Sedert die ontstaan van die AFRIKANERVOLK het hy NOOIT ‘n eie land gehad nie.Net altyd gedeel! As ‘n Kanton stelsel kan werk hoop ek hul slaag!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.