Perfek vir ʼn warm somersmiddag as die kinders van die skool af kom. Die kinders hou van die soetigheid van die vrugte en Ma kan gerus wees dat hulle iets gesond eet. Dis ʼn wen-wen situasie vir almal.
Lewer 4 -6 porsies
Bestanddele:
Vir die slaaisous
- 1 x 110 g-blikkie grenadellapulp of die pulp van 4 grenadellas
- gerasperde skil en sap van 1 lemoen
- gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
- 30 ml wit balsemiekasyn
- 15-20 ml suiker
- sout na smaak
- 125 ml kanola-olie
Vir die slaai
- 4 hande vol vars roket of slaaiblare van jou keuse
- 1 braaihoender – ek maak gewoonlik twee hoenders as ons Sondae braaihoender maak
- 250 g aarbeie, gewas, stingels verwyder en in kwarte gesny
- 250 g pitlose sultanadruiwe, gewas en gehalveer
- 100 g fetakaas
- ‘n paar vars kruisementblare, ertjielote of bronkors vir garnering
Metode:
Vir die slaaisous
- Giet al die bestanddele, behalwe die olie, in jou voedselverwerker en meng.
- Gooi die olie geleidelik in ‘n dun straaltjie by totdat die slaaisous verdik.
- Verkoel totdat jy die slaaisous benodig.
Vir die slaai
- Plaas die slaaiblare op ‘n mooi plat slaaibord. Sny die hoender in kleiner stukke en pak op die slaaiblare.
- Voeg die aarbeie, druiwe, fetakaas en kruisement by en sit voor met die verkoelde slaaisous.
- Voeg die ertjielote of bron kors by die slaai – dit gee ‘n heerlike tekstuur aan die slaai en Iyk boonop mooi.
- Bedien met vars broodrolletjies of volgraanbrood.
Bron: Maklike Maaltye uit Nina se kombuis
Uitgewer: Random House Struik
Dit is siek om hoender met aarbeie en grenadilla te eet! Is skoon naar…………..