Nostalgiese Aussiekaners maak harte oop vir SA kleuters

‘n Volgepakte Joondalup-ouditorium. Foto: Verskaf.

Honderde Suid-Afrikaners wat nou in Australië woon het die afgelope naweek byeengekom om Kersliedere in hul moedertaal te hoor en sing. Terselfdertyd het hulle ook sommer duisende rande vir Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema ingesamel.

Die musikant en pastoor Joe Vermeulen en sy vrou, Cecile, het verlede jaar die eerste Afrikaanse Kerssangfees in Perth aangebied en dit was so gewild en in aanvraag dat hulle dit vanjaar vir die tweede keer moes aanbied.

“Ons woon al die afgelope elf jaar in Perth en bedien die plaaslike Grace Christian Reformed Church. Oor die afgelope paar jaar het ek nog elke jaar Kersliedere saamgestel en gelei wat ons treffend en met ’n goeie dosis Afrikaanse nostalgie aanbied.

“Ons het dit nog altyd op ’n klein skaal gedoen, maar ná Helpende Hand se besoek aan ons verlede jaar, het ons besluit om groot te gaan om geld vir #StopHonger en ons geboorteland se mense in te samel,” vertel Joe vanuit Perth.

“Daar is niks so lekker soos om Kersfeesliedjies in jou eie moedertaal te kan sing nie. Met die Kerssangfees poog ons om ’n onvergeetlike aand van samesang met topmusikante en -sangers aan te bied sodat konsertgangers die atmosfeer van Kersfees en die betekenis daarvan kan beleef. Dit ’n tyd om nie net te ontvang nie, maar ook aan ander te gee,” sê Joe.

Die span organiseerders het dit verlede jaar reggekry om die Edith Cowan University se Joondalup-ouditorium vol Afrikaners met twee vertonings te kry. Hulle het vanjaar weer eens in ’n japtrap twee vertonings uitverkoop.

Joe Vermeulen groet ‘n gas. Foto: Verskaf.

“Daar was ’n feestelike atmosfeer voor die tyd soos almal lekker Afrikaanse kos soos pannekoek, boerewors, kerrie en rys en poeding geniet het. Daarna het ons afgeskop met ’n trefferprogram gevul met Afrikaanse Kersgesange. Ons het saam gelag, gesing, en vele oomblikke van nostalgie beleef. Dankie aan almal wat betrokke was en die naweek moontlik gemaak het. Julle is kampioene, en het dit alles vir ’n goeie doel gedoen,” voeg Joe by.

Met die konserte is meer as R100 000 ten bate van Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema ingesamel, byna R20 000 meer as verlede jaar. Die geld is uit opbrengste van kaartjieverkope asook donasies verkry.

René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie en woordvoerder van #StopHonger, het Joe en sy span wat die konserte moontlik gemaak het, asook elkeen wat die konserte bygewoon en skenkings gemaak het, hartlik bedank vir hul steun uit die buiteland.

“Helpende Hand sorg tans dat 8 000 behoeftige kleuters elke skooldag by hul skole ’n gesonde bord kos kry. Die behoefte is egter groter en ons het aansoeke ontvang wat al strek om nagenoeg 12 000 kinders daagliks te voed. Dit sou ’n onbegonne taak gewees het as dit nie vir Helpende Hand se ondersteuners, vrywilligers en donateurs was nie. Met hul ondersteuning kan ons sorg dat die geld deur ons gevestigde strukture reg aangewend word om by dié wat dit werklik nodig het, uit te kom. Mag almal in Perth wat hul harte so ruim oopgemaak het ’n wonderlike feestyd beleef. Al is hulle dalk ver van hul geliefdes, is hulle naby in ons harte,” sê Roux.

Besoek www.stophonger.co.za om ’n donasie te maak of ’n plegbelofte af te lê en te onderneem dat daar nie in die aande ’n kind honger gaan slaap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.