3D-tegnologie gee Egiptiese mummie sy stem terug

‘n Skermgreep uit die video deur LiveScience.

Wetenskaplikes het onlangs onthul hoe die stem van ʼn gemummifiseerde Egiptiese priester wat sowat 3 000 jaar gelede geleef het, sou klink deur ʼn 3D-afdruk van sy stembande te maak.

Die enkele klank van Nesyamun se nagemaakte stem klink soos ʼn vokaalklank soortgelyk aan die geblêr van ʼn skaap.

Die navorsing, wat gedoen is deur akademici by Royal Holloway, die Universiteit van Londen, die Universiteit van York en die Leeds City-museum, is Donderdag in die Scientific Reports-joernaal opgeteken.

David Howard, professor in elektriese ingenieurswese by die Universiteit van Londen, beskryf die klank as ʼn vokaalklank wat val êrens tussen die vokale in die Engelse woorde “bed” en “bad”.

Nesyamun het geleef gedurende die politiese heerskappy van Farao Ramses XI, tussen 1099 en 1069 v.C. As ʼn priester in Tebes moes Nesyamun ʼn sterk stem hê vir sy rituele verpligtinge, wat sang sou insluit.

Die span het die mummie van Nesyamun gekies omdat die sagte weefsel in die keel en die stembande redelik ongeskonde was. Hul tegniek werk nie op skeletale oorskot nie.

Sy stem is nagemaak deur ʼn 3D-gedrukte stemkas te vervaardig wat gebaseer is op die stembande van Nesyamun, wat geskandeer is om die presiese afmetings daarvan te bepaal.

Deur die stemboks te gebruik met ʼn kunsmatige larinks, het hulle ʼn vokale klank gesintetiseer wat bedoel is om dieselfde te wees as die stem van Nesyamun.

Dit is glo die eerste projek van sy soort wat die stem van ʼn dooie persoon suksesvol kon namaak. Navorsers hoop om in die toekoms van rekenaarmodelle gebruik te maak om volle sinne met Nesyamun se stem te skep.

John Schofield, professor in argeologie aan die Universiteit van York, het aan die BBC gesê dit was een van Nesyamun se laaste wense om in die hiernamaals gehoor te kan word. Dit het glo deel uitgemaak van sy geloofswaardes.

“Dit is geskryf in sy kis – dit is wat hy wou hê,” het Schofield gesê. “Op ʼn manier het ons nou sy wens bewaarheid.”

Nesyamun se oorskot is by die Leeds City-museum te sien.

Bronne: BBC, CNN

Kyk hier na ‘n video deur LiveScience:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Daar is al vir 26 jaar ‘n gebler heel suid wat ook geen sin maak nie ….

Ag asseblief ·

Dis nou vir jou ‘n loutere klomp snert hierdie. Watter wetenskaplike bewyse is daar dat die sg vorm van jou stembande die klank daarvan bepaal? So dan moet omtrent alle mense verskillende vorm stembande he, want stemme versil so baie. Kunsmatige larinks nogal. En bedoel om die ou se stem na te maak. Die klomp kan maar hulle eie nonsens glo. Hoe weet hulle in elk geval hoe woorde wat in daardie tyd gepraat is, uitgespreek is? En of die mummie destyds in lewe nie ‘n ander probleem gehad het wat sy stem be-invloed het nie bv ‘n siekte. Really …

Kiskar ·

Volgende gaan hulle nou seker ‘n 3D-model van sy brein maak om sy IK uit te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.