Boek: Bundel soos eenpersoonopvoerings in teater

Fanie Marais 

Klein Teater, die jongste digbundel wat deur Cordis Trust Publikasies uitgegee is, word deur Fanie Marais as “die verwoording van eenpersoonoptredes tydens ʼn enger leeftyd” beskryf.

Die bundel bevat 176 kort gedigte oor Marais, uitvoerende trustee van die Cordis Trust, se intense waarnemings oor die afgelope twee jaar.

In die voorwoord skryf hy dat sy lewe die laaste paar jaar enger geword het.

“Die droomwêreld van onbeperkte horisonne van geleerdheid, reis, loopbaan- en gesinsvooruitsigte en besittings, wat ek op hoërskool gekoester het, is ruim verwesenlik.

“Teen die einde van 2019 het die dood van my eggenote van meer as 53 jaar die gevoel van afsluiting gebring. Die Teater van die Lewe waarin my bestaan afgespeel het, het in omvang en intensiteit afgeneem.”

Volgens Marais het die Covid-19-pandemie verder bygedra tot die verskraling van sy leefwêreld. “My daaglikse ervaringe het soos eenpersoonoptredes in ʼn klein teater begin afspeel. Die gewaarwordinge wat ek aangeteken het om my bestaan beter te verstaan, in ’n toekomsperspektief.”

In die woorde van Marais word Klein Teater opgedra aan “elkeen wat ʼn klein daaglikse oorwinning oor omstandighede en die self voor ʼn spieël beleef asof dit ʼn eerste plek op ʼn podium is”. Veral vir mense wat van hierdie omstandighede af kan wegdraai met hoop in hulle harte vir die dag se taak, al is dit net om die gordyn oop te trek om lig in te laat.

Die bundel word deur Cordis Trust geoormerk vir bepeinsing en kleingroep-besprekings en word daarom gratis versprei. Besoek Klein Teater se webwerf om die bundel gratis af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.