Boek: ‘Die troebadoer’ – Marié Heese

Marié Heese

Die ou koning van die eilandkoninkryk het gesterf en Theodorus, die seun van ʼn jonger broer van die koning, het ná ʼn jarelange burgeroorlog die troon gegryp. Estrella, die wettige troonopvolger, en haar seun, Edrik, het gevlug. Hoewel die oorlog verby is, regeer die nuwe koning deur middel van die swaard. Oral is soldate en padblokkades waar tolgeld betaal moet word. Die godsdiens van die Moederheer word verbied en alle kloosters is gesluit. Die helfte van die boere se oes word opgeëis. Terwyl die volk in die maerte in belas word, is die koning en sy gunstelinge spekvet…

Die troebadoer word in ʼn siekeboeg wakker. Sy een oog en ʼn paar vingers aan sy regterhand is daarmee heen. So ook sy geheue. Hy word deur ʼn sproetgesignon van die Moederheer se kaalvoetorde versorg. Toe hy sterker is, stop sy hom ʼn luit in die hand en raai hom aan om in die pad te val, want as hy teen koning Theodorus geveg het, is sy lewe min werd. Die troebadoer besef dat hy die luit selfs met sy ontbrekende vingers uitstekend kan bespeel en probeer as rondreisende troebadoer ʼn dagloon verdien. Dan sluit ʼn gehawende hond by hom aan en op sy pad na die ooste van die eiland word die geselskap algaande groter. Wat sou die troebadoer se terugkerende geheue oplewer en wat kom hulle op die pad teë?

Die troebadoer deur Marié Heese het pas by Protea Boekhuis verskyn.

Oor die skrywer

Heese is veral bekend vir Die uurwerk kantel wat vir die eerste keer in 1976 verskyn het, en in 2006 en 2015 as klassieke werk herdruk is. Voorts is sy ook die outeur van bekende kinder- en jeugverhale soos Die Pikkewouters van Amper-Stamperland (eerste druk in 1974, heruitgawe in 2008) en Karoo-kantate (2013). In 2013 verskyn Vuurklip, Heese se eerste Afrikaanse roman in 30 jaar en die eerste roman oor die prehistoriese tyd in Afrikaans. Haar roman oor die vormingsjare van die kunstenaar Gianlorenzo Bernini, met die titel Maestro, het in 2016 verskyn. Verskeie van haar kortverhale is in versamelbundels opgeneem. In 2019 het die opvolgkinderverhaal Peter Pan en Laurie in Afrikaans en Engels by Protea verskyn.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.