Boek: Essays van ʼn Christen in ʼn Covid-19-wêreld

Essays van ʼn Christen in ʼn Covid-19-wêreld bevat ʼn versameling oordenkings oor die korona-pandemie. Die magdom inligting wat tans die ronde doen, asook die teenstrydigheid van al die inligting, het daartoe gelei dat Ben Bron hom weer in die grondbeginsels van die Christelike leefwyse moes ingrawe. Veral in die lig van gebeure wat tot dusver ʼn noemenswaardige invloed op hom en sy gesin se lewe gehad het en steeds het.

Vrae oor die belydenis van ʼn Christen en die kerk, die oorsprong van kennis, identiteit en roeping word in ʼn reeks hoofstukke vervat waar onderwerpe soos wysheid, seën, rus en die “reuse” wat ons daagliks (maar veral nou) moet oorkom, behandel word. Daar is ook ʼn indringende hoofstuk oor wat dit beteken om ʼn tempel van die Heilige Gees te wees.

Die vrae word deurgaans met die Skrif as grondslag beantwoord en eindig met drie hoofstukke wat fokus op die Koning (Christus), verootmoediging en gebed.

Die versameling essays is ʼn eerlike en persoonlike reis deur die gedagtegang van ʼn gelowige wat weereens besef dat daar een God, een waarheid en een begronding is.

Oor die skrywer

Bron is ʼn teoloog wat die geesteswetenskappe 16 jaar lank bestudeer het. Sy tersiêre studies sluit kwalifikasies in sielkunde, opvoedkunde, literatuur, musiek en teologie in. Hy is tans besig met sy meestersgraad in teologie by die Greenville Presbyterian Theological Seminary in Suid-Kalifornië in Amerika, wat in samewerking met Wycliffe Theological College moontlik gemaak word. Bron is reeds die afgelope 20 jaar ʼn klassiekekitaar-onderwyser in Pretoria en ook ʼn professionele fotograaf. Bron is getroud en die trotse pa van vyf kinders.

Essays van ʼn Christen in ʼn Covid-19-wêreld kan gratis op Proelium se webwerf afgelaai word. Eksemplare is R65 en kan by Augustine Bookroom in Pretoria en die Good Neighbours Bookstore in Johannesburg gekoop en bestel word.

Die boek is ʼn selfpublikasie wat in samewerking met Fontein Uitgewery en ʼn boetiek-boekbindery in Johannesburg moontlik gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.