Luister: Nuwe wind waai vir Sonja se ‘Harlekyn’

Sonja Herholdt kuier by Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

ʼn Nuwe wind waai nou 45 jaar ná die bekendstelling van die sangeres Sonja Herholdt en liedjieboer Anton Goosen se 1979-treffer “Harlekyn”.

Dié jongste verwerking deur DJ Sensasie is tans op alle digitale platforms beskikbaar en sit ʼn ekstra doef-doef-huppel in die ou harlekyn se stap.

“Dit is ʼn groot present wat nou my kant toe gegooi is,” vertel Sonja in die Maroela Media-ateljee.

“Daar word nou nuwe energie in die lied gespuit, maar die geheim is om balans tussen vernuwing en nostalgie te behou, en ek dink Chris van Sensasie Musiek het dit uitstekend reggekry.”

Die idee om nuwe lewe in een van haar grootste treffers te blaas het gekom van haar platemaatskappy, EMI, wat deesdae deel is van Universal. Dít nadat daar besluit is om al haar ou albums af te stof en “uiteindelik”, soos Sonja sê, op digitale platforms beskikbaar te stel.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit maak my vreeslik opgewonde, en ek beskou dit as ʼn voorreg dat verskeie generasies nou my musiek kan ontdek óf herleef.”

Sonja het “Harlekyn” die eerste keer in 1979 opgeneem as titelsnit van haar vierde en gelyknamige album. In 1980 is hierdie album bekroon as die beste Afrikaanse langspeelplaat van die jaar.

Sy onthou hoe die liedjie destyds as “te woes” vir sekere van haar aanhangers bestempel is.

“Mense het tóé nie dadelik gebyt aan ‘Harlekyn’ nie, dit was glo té wulps vir ʼn Sonja Herholdt-liedjie in hulle oë, maar ek weet hulle gaan nou sommer dadelik hap na die nuwe een!” sê sy met haar kenmerkende, jolige lag.

Die engelstemsangeres gesels ook haar vennootskap en vriendskap met Anton Goosen – wat vir haar ʼn rits treffers soos “Jantjie” en “Waterblommetjies” neergepen het.

“Ek onthou toe ek die eerste keer by Anton in Randburg gaan kuier het in die 1970’s en deur sy musiekboek geblaai het. Hy het verby ‘Jantjie’ geblaai, maar ek het dadelik iets daarin raakgesien.”

Sy verwys skertsend na haar verhouding met Anton se liedjies as dié van ʼn stiefouer en stiefkinders. “Ek het nie die liedjies self gebaar nie, maar vir hulle lief geword asof hul my eie is. Daardie lirieke en melodieë is volgens my tydloos.”

Dié duo se mees onlangse KKNK-produksie saam, Blommetjie gedenk aan my, waarin die voormalige Freshly Ground-hoofsanger Zolani Mahola ook te sien is, is vanjaar boonop vir ʼn Kanna-toekenning benoem.

“Die oudste en mees nostalgiese liedjies is altyd die gewildste by optredes. Mense verlang deesdae terug na eenvoudige tye en grootwordjare. Nostalgie het krag en kan positiwiteit aanblaas in ʼn wêreld wat dikwels hopeloos is. Ek glo dit is wat die nuwe ‘Harlekyn’ nou ook kan doen.”

Wanneer daar oor haar loopbaan, wat volgende jaar amptelik oor ʼn halwe eeu strek, gesels word, plaas dié legende haar hand oor haar hart.

“Ek wil vir die publiek dankie sê vir die afgelope 50 jaar se ondersteuning en dat hulle deur die jare hul harte vir my oopgemaak en oopgehou het.

Die sangeres vier volgende jaar 50 jaar in die bedryf. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“As dit nie vir hulle was nie, sou ek nie nou hier gewees het nie. Ek sien dit as ʼn geleentheid, en my stem is ʼn gawe waarmee ek my doel kon uitleef om ʼn verskil te maak.”

Op 72 is sy bedrywiger as ooit, met tyd wat tussen haar produksie Tydloos en die musiekmotiveringsprogram Pêrels verdeel word.

“Dit is veral vir die vrou wat onsigbaar voel en die kosbare pêrels in haar moet herontdek. Vroue moet hulself ook bietjie eerste stel, want ons verloor onsself in die proses van almal se behoeftes bo ons eie sit. Jou drome is wat jou aan die lewe hou,” vertel sy oor Pêrels.

Een van haar eie drome wat nog gekoester word, is om ʼn konsertopname te verfilm ter viering van haar 50 jaar in die bedryf, kompleet met ʼn simfonieorkes, “sou ons borge en begroting daarvoor kan inwin,” verduidelik sy.

Natuurlik is dit nie net vroueharte nie, maar ook kinderharte wat Sonja s’n vinniger laat klop.

Haar opvoedkundige kinderprogram Sonja en Tjokker dra die sangeres ook dikwels deur moeilike dae, en sy skerts dat dit selfs haar “introvert-man” selfvertroue gee as hy die Tjokker-pak dra.

“Mense onderskat dikwels hoe moeilik dit is om kindervermaak aan te bied. Kinders kan dwarsdeur jou sien, jy kan hulle nie sommer flous nie. Daardie gesiggies tel mens ook vinnig op as jy die dag nie goed oor jouself voel nie. Mens word dan weer jonk in hulle teenwoordigheid.”

Sy erken egter dat dit nie altyd vir haar maklik is om aanhoudend haar pad in ʼn veranderde bedryf te vind nie.

“Ek was geseënd met ʼn wonderlike loopbaan, vol hoogte- en laagtepunte. Daarsonder groei mens nie, en nou kan ek dít wat ek geleer het met ander deel.”

  • Luister boaan na die volledige onderhoud.
  • Maroela Media het uitgevind wat Sonja se gunstelingtreffers is. Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.