Boek: ‘ʼn Kwessie van tyd’ – Doc Marten van der Merwe

Doc Marten van der Merwe

In Doc Marten van der Merwe se roman ʼn Kwessie van tyd word ʼn jong vrou op ʼn stormagtige nag in ʼn Engelse herehuis grusaam vermoor. Sy vat ʼn eienaardige geheim na haar graf en die moordenaar verdwyn soos ʼn skim in die nag. Twintig jaar later by een van die wêreld se mees eksklusiewe perdewedrenne is dit die buiteperd wat onverwags die kroon wegdra. In een van die losies staan Henry Clarke stomgeslaan. Hy het sopas iets onmoontliks sien gebeur.

Op ʼn klein wildplaas in die noorde probeer Jan Brand vir hom so tussen die stof en droogte ʼn nuwe lewe staanmaak. Vir so ʼn jong man het hy al baie geleef. Net as hy dink hy kan die stad agter laat en in vrede begin boer, ontvang hy ʼn uitnodiging van sy skatryk buurman, einste Henry Clarke. Dié wil Brand as privaatspeurder aanstel om ʼn raaisel in die ruitersport op te los. Kort daarna verdaag Brand na Kaapstad, waar ʼn geheim begrawe deur tyd, geld en mag op hom wag, tesame met die mense wat bereid is om te moor om dit so te hou. Jan Brand mag dalk die stof van sy hande af gewas het, maar binnekort gaan hulle vol bloed wees.

Oor die skrywer

Van der Merwe het langer as 30 jaar lank saam met sy vrou as medikus gepraktiseer. Hulle is al bykans ʼn halwe eeu getroud. Die egpaar woon aan die Wes-Rand en het twee kinders, ʼn seun (ook mediese praktisyn) en ʼn dogter wat in Australië woon.

Die skryfgier kom al van jongs af, maar dit is eers ná aftrede dat daar werklik tyd ingeruim is vir die geestesverryking wat skryf bied. Die skryfproses is vir hom vermaaklik; die idee dat ander sy stories kan geniet, heel prettig. Hy kan net hoop dat sy karakters die lesers net soveel plesier sal verskaf as wanneer hulle vir hom in die oor fluister.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R290,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.