Boek: Sophia Kapp se ‘Heimwee’

Sophia Kapp

Mart-Mari is Louisa Louw se oudste dogter, die een wat moes vergoed vir alles wat haar ma nie kon bereik nie. Nou moet sy terugkeer na die familieplaas, Heimwee, om Louisa te begrawe en haar los te maak van die gesin met wie sy nooit kon klaarkom nie. Maar haar planne word omver gegooi deur die oënskynlik onindrukwekkende knutselaar-nutsman-van-langsaan wat sy in ʼn ondeurdagte oomblik betaal om haar voorgee-boyfriend te wees, maar dan van haar eerlikheid oor haar menseverhoudinge en haar hart vereis. En uit die verlede ontvou daar ʼn storie, ontroerend en besielend, wat haar laat besef dat bloed mag kruip waar dit nie loop nie, maar dat liefde, veral die liefde van ʼn ma vir haar kinders, oor die ewigheid heen kan reik.

Heimwee is die jongste roman uit Sophia Kapp se pen. Dit is die eerste boek wat by die nuwe Afrikaanse uitgewery, Boekdiva Uitgewers, verskyn. Dié uitgewery is pas deur Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke in Pretoria, van stapel gestuur.

Oor die skrywer

Kapp is ʼn gewilde skrywer van romantiese en verhoudingsfiksie, met vier ATKV Woordveertjies op haar rak. Sy is ʼn ervare teksversorger en vertaler, en werk tans voltyds as die senior taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), ʼn maatskappy sonder winsoogmerk wat digitale hulpbronne vir die Afrikaanse taalgemeenskap voorsien.

Haar skryfwerk is al as kuns beskryf, en sy skryf vreesloos oor die diepste menslike emosies. Sy skryf oor die liefde tussen geliefdes, tussen ma’s en hul kinders, tussen susters en tussen vriende. Sy glo daaraan dat haar karakters tweede kanse moet kry, en dat hulle volkome gelukkig mag wees wanneer hulle hulle oopstel vir die liefde.

Uitgewer: Boekdiva Uitgewers
Prys: R350,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.