Daar is ten minste 10 000 redes waarom ’n vakansie by Wessel se oupa nié ’n goeie idee is nie. Sy oupa Zirk bly in ’n groot, grillerige ou huis buite die stad. ’n Tronk is meer pret. Die kamers is donker en dit ruik na visaas en seemeeupoef.
Daar is honderde reëls in sy oupa se huis, en selfs al gehoorsaam jy al die reëls, is ’n hamerkophaai met tandpyn nog steeds vriendeliker as sy oupa.
Toe Wessel se ouers hom dus by sy oupa aflaai sodat hulle op ’n eilandvakansie kan gaan, weet hy die goorste vakansie van sy lewe het pas aangebreek.
Maar iets is nie pluis nie.
Waarom sluip sy oupa snags in die donker rond? Wat steek hy in die geheimsinnige gebou buite in die tuin weg waar Wessel glad nie mag kom nie?
Hoekom het hy party oggende vreemde skrape en bloukolle, asof hy in ’n geveg was?
Daar is net een manier om uit te vind …
Kort voor lank is Wessel deel van ’n wilde pretrit vol superhelde, skurke, supercool tegnologie, agterbakse planne en ongelooflike ontploffings! En dit lyk of die verveligste vakansie van sy lewe dalk die avontuur van ’n leeftyd gaan word …
Oor die outeur:
Superskrywer Jaco Jacobs spog met talle bekronings, waaronder die Alba Bouwerprys, die CP Hoogenhoutmedalje en 24 ATKV-Kinderboektoekennings. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetel-luislang.
Oor die illustreerder:
Nicolene Louw het grafiese ontwerp aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en later haar meestersgraad in illustrasie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Sy woon tans in Pretoria waar sy klasgee en werk as ’n vryskutillustreerder, ontwerper en beeldende kunstenaar. Haar primêre belangstelling is narratiewe illustrasie en die vertel van outentieke stories deur middel van illustrasies en strokiesprente. In 2008 het sy die Scenario-prys by die Internasionale Fumetto-strokiesprentfees in Lucern, Switserland, gewen. Haar werk word gereeld plaaslik en oorsee gepubliseer en uitgestal.
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys:
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke
Ek het my boek!!