Boekresensie: Die vyfde Aspoester

Die vyfde Aspoester_voorblad (003)

Die vyfde Aspoester is geskryf deur Jan Vermeulen en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Jan Vermeulen se Die vyfde Aspoester het my openlik laat gril en ek moes met tye eers ophou lees sodat my hartklop kon bedaar. Ek kan my min dinge voorstel wat erger kan wees as wanneer ’n slagoffer by haar volle positiewe is en alles kan voel, maar nie kan beweeg nie. Verbeel jou jou groottoon word met ’n vleismes afgesny en nie net kan jy die geweldige brandpyn en elke heen-en-weer gly van die vlymskerp lem met tandjies voel nie, maar jy kan ook sien wat gebeur in ’n spieëltjie! En dis nog maar net die begin van jou lyding … Die vyfde Aspoester begin gepas met die volgende paragraaf: “Word haar grootste vrees waar? wonder sy toe sy deur skrefiesoë ’n skim in ’n ligblou oorpak, kopdoekie en mediese masker oor haar sien buk. ’n Lang, smal lem flikker. Skrik sy onder narkose tydens ’n operasie wakker?”

Dokter Olaf Demeyer, ’n sielkundige en forensiese profileerder, moet nie net die grusame moordtonele probeer ontleed en in die kop van die Aspoester-moordenaar klim nie. Hy moet ook teen sy eie demone veg wat al oor die vyftig jaar by hom spook. Dít alles terwyl hy en sy dogter, Franci, probeer sin maak van die tragiese omstandighede rondom sy vrou, van wie hy al twee jaar lank van tafel en bed geskei was, se sinistere en gewelddadige dood. Dan is daar ook die elektronies vermomde stem wat Olaf in koue sweet laat uitslaan: “Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen?” Olaf moet diep in sy eie donker psige delf as hy wil keer dat Franci die vyfde dooie Aspoester word, ’n lewende soenoffer.

Baie van die karakters in die boek worstel met sielkundige probleme. Sommige as gevolg van verskeie vorme van mishandeling wat hulle as kind deurgemaak het. Dit is duidelik dat gesinsgeweld lewenslank ’n invloed op ’n mens kan hê en ook kan bepaal hoe mens in die samelewing funksioneer. Die vyfde Aspoester ondersoek sake soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing teen die ysigwekkende agtergrond van vier jong meisies se grusaam verminkte lyke. Hulle groottone is onder meer afgesny sodat hul voete in ’n glasskoen kan pas. Die boek is slim geskryf en leidrade word oraloor gelos. Ek het my deur Olaf se agtste sintuig laat lei en kon nie self vooraf die identiteit van die moordenaar ontsyfer nie, al het ek feitlik elke hoofkarakter met suspisie bejeen. Ek was heel verras oor watter gedaante die moordenaar uiteindelik aangeneem het.

Ek het dit ’n bietjie dik vir ’n daalder gevind dat so baie polisiemanne en sekuriteitswagte wat met die Aspoestersaak te doen gehad het, aan diens sterf. Dit laat slegs vir Jasmyn, ’n polisiekaptein en ook die vrou wat Olaf al ’n geruime tyd begeer, oor om die heldin te wees. Ironies genoeg, want sy treiter haarself al lank oor haar man se skietdood en hoe sy hom nie kon help nie. Dit is dalk tog gepas – in die lig gesien van die sestiendaeveldtog om geweld teen vroue en kinders te beveg – dat Jasmyn, as vrou, reeds die leiding neem want ná huistoegaantyd is die span speurders weg en is dit net sy “alleen voor die aansteekbord in die operasionele kamer”. Ek het hier die idee gekry van ‘all talk and no action’.

Die veldtog word hoeveel keer met groot fanfare aangekondig en dan duur die geweld maar net soos altyd voort, want ons as gemeenskap het al só afgestomp geraak om te hoor van nóg ’n vrou of kind wat vermoor is. Vroue moet sélf opstaan en oor en oor laat hoor dat hulle niemand se slaansakke is nie. “When you strike the women, you strike a rock, you will be crushed!” (Die woorde wat op 9 Augustus 1956 deur 20 000 vroue van alle rasse gekreet is tydens hulle opmars na die Uniegebou.)

Vermeulen se skryfstyl wissel tussen ietwat ongewoon tot gemaklik vloeiend en uiters oorspronklik. Ek het sinne soos die volgende oor en oor gelees omdat dit so beskrywend is: “’n Ysnaald sink tussen Olaf se blaaie in” (bl. 168), “Die vlieswolkies van Alzheimer trek plek-plek effens oop, besef hy” (bl. 172) en “Sy oë lyk soos ongewaste vensters” (bl. 243). Maar sinne soos die volgende het my leesritme versteur, want ek wou dit in my gedagtes oorskryf: “Ons het ’n deursoeking by sy huis ook gedoen” (bl. 137), “Van Jenny en Paula se lêers haal hy hulle identiteitsfoto’s af en sit dit in sy bankkaarthouer. Uit die kluis in sy kamer gaan haal hy sy .22 en maak seker die wapen is gelaai” (bl. 148).

Ek moes by tye mooi kophou om te onthou wie al die karakters is en hoe hulle in mekaar skakel. Die spanning in die verhaal bou fluks op en daar is genoeg intrige om mens angstig aan die lees te hou.

Nadat ek die boek neergesit het, het ek vir ’n rukkie lank nog gewonder oor Franci en die vreemde verhouding wat sy en haar ma gehad het. Die boek het nie vir my voldoende klarigheid gegee oor wat Franci met die verskriklike geheime wat sy oor haar ma uitgevind het, behoort te doen of selfs hoe sy daaroor moet voel nie. Franci is ook die karakter wat eg kinderlik tot Jesus bid in haar uur van nood en Hom herinner daaraan dat sy en haar vriendin, Zahn, “op die hawe kospakkies en klere en komberse uitgedeel het”. Sy is ook die een wat om vergifnis smeek by haar pa en haar ma. Ek vermoed dat vergifnis as tema baie subtiel by die storie ingewerk is, want dis eers wanneer mens vergewe dat jy werklik heel word en vry kom. Is dit dan nie juis bitterheid en onvergewensgesindheid wat mens só in boeie hou dat jy jare later steeds ’n gevangene is van omstandighede nie?!

Die vyfde Aspoester het vele interessante fasette – te veel om hier te noem. Die karakters klou aan jou vas lank nadat jy die boek neergesit het. Die verhaal speel in Port Elizabeth af. Jan Vermeulen se debuutroman, Die laaste dans, is ’n grensoorlogroman waarmee hy die kortlys haal vir die Eugène Marais-prys. Hy is ook ’n bekroonde jeugromanskrywer. Ek sien uit daarna om nog werke van hierdie veelsydige skrywer te lees.

Die vyfde Aspoester is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za

 

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae