Boekresensie: Kinders se Slange van Suider-Afrika

Kinders se Slange van Suider-Afrika deur Johan Marais word uitgegee deur Struik Nature.

Kinders maak in hierdie opwindende gids kennis met 36 van Suider-Afrika se interessantste en mees algemene slange. Die lokteks op die agterblad lees só: “Ontdek die boeiende gewoontes van slange – waar hulle bly, hoe hulle jag, watter gevare hulle trotseer en hoe hulle hulself beskerm. ’n Breedvoerige inleiding tot alle aspekte van slanggedrag ontsluit die wonderwêreld van hierdie dikwels misverstane reptiele.”

Johan Marais, die skrywer van Kinders se Slange van Suider-Afrika, noem in sy boek dat die geesdrif van sy dogter Melissa, wat met reptiele grootgeword het, hom oortuig het dat kinders baie makliker opgevoed kan word en dat slange vir hulle ’n bekoring inhou. Hy hoop dat baie kinders die boek se inhoud sal geniet, oor slange sal leer en hul kennis aan ander sal oordra, veral aan hul ouers.

Dit is belangrik dat kinders van jongs af leer dat álle lewe kosbaar is, ook slange s’n. Talle mense koester ’n onredelike vrees vir slange en daarom word hierdie fassinerende reptiele dikwels voor die voet doodgemaak of hulle nou skadelik is of nie. Reeds met die intrapslag lees ons op bladsy 4: “Slange het ’n slegte reputasie, en talle mense glo dat alle slange skadelik is. Dis nie waar nie. Slegs sowat 20 van die meer as 170 slangsoorte in Suider-Afrika is dodelik en kan tot sterftes lei indien die pasiënt nie dadelik behandel word nie; 29 slangsoorte word as skadelik beskou, maar is nie dodelik nie.”

Propvol goed nagevorste feite en pragtige kleurfoto’s en illustrasies, bied Kinders se Slange van Suider-Afrika ’n leersame leesondervinding waarby jonk én oud baat kan vind. Dit is ook perfek om as naslaanbron te gebruik vir skooltake.

Die grootformaat sagtebandboek beslaan 80 bladsye en spog met ’n deeglike inleiding en sestien afdelings wat verder in hoofstukke opgedeel is. Die afdelings is: Spoegslange; Kobras wat nie spoeg nie; Mambas; Reuseslange en piepkleintjies; Slange wat reis; Geheimsinnige slange; Stootskraperslange; Huisslange; Waterslange; Groen slange; Sand- en grasslange; Die windmakers; Boomlewende slange; Adders; Fiemies oor kos; en Sypikslang. Die hoofstuktitels trek ook dadelik die aandag. Hier is ’n paar: Peters se erdslangetjie; Bibron se blindeslang; Gespikkelde bosslang; Kruismerksweepslang; Savannevoëlslang; Tabakrolletjie; en Swartkop-honderdpootvreter. Natuurlik is daar ook die meer bekende slange soos rinkhalse, kobras, mambas, en adders.

Vrae soos die volgende het my weer en weer deur die boek laat blaai: Waarom vervel slange?; Watter slange maak of hulle dood is?; Het slange ore?; Waarom is ’n slang se tong gevurk?; en Hoe dikwels eet slange? Die verskillende slange word behandel oor hofies soos habitat, prooi, gedrag en voortplanting. Ons leer ook waar slange voorkom, hoe lank hulle word, en wat hulle natuurlike vyande is. Op bladsy 58 leer ons byvoorbeeld die volgende van windmakers: “Hierdie effens giftige slange is snags aktief en, indien hulle versteur word, gaan hulle tekere om die indringer af te skrik; hulle rol op in ’n bol, lig die kop van die grond af op, trek dit plat om die bolip groter te laat lyk, en pik venynig met ’n oop bek. Hulle lyk gevaarlik, maar hul gif het nie juis ’n uitwerking op mense nie – dit werk egter op hul prooi.”

Meer oor die skrywer: Johan Marais is ’n passievolle reptielkenner, omgewingsbewaarder en fotograaf. Daar het reeds talle boeke en artikels uit sy pen verskyn, en hy adviseer ook graag klinieke en hospitale in Afrika oor slange en slangbyt.

Kry jou kopie van Kinders se Slange van Suider-Afrika hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.