Christelike fiksie wat jou hart aanraak

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

’n Suksesvolle Amerikaanse skrywer van Texas, Linda W. Yezak, som die verskil tussen Christelike en sekulêre fiksie só op: “Christian fiction as a genre uses Christian principles to draw characters away from their hell-bound path, and God always gets the glory.”

Christelike fiksie word nie sommer in die spreekwoordelike boksie gedruk nie. Die stories speel nie noodwendig in Bybelse tye af nie, en die karakters is nie altyd Bybelfigure nie. Trouens, die verhale handel oor ’n magdom verskeidenheid onderwerpe en strek oor verskeie subgenres soos onder meer ook moderne spanningsverhale, speurverhale, liefdesverhale, ens. Dis aangrypende storieboeke waarin lewensgetroue karakters uitgebeeld word wat op eg menslike wyse deur hulle emosies en omstandighede worstel. Hulle lewenspaaie lei hulle tot vaste geloof in God en ’n verhouding met Hom.

Hier volg vier lekkerlees titels deur internasionale skrywers wat in Afrikaans vertaal is:

Die voortvlugtige (Terri Blackstock)

Dylan Robberts, ’n veteraan-soldaat wat aan PTSV ly wat hom ongeskik maak vir polisiewerk, word gehuur om die voortvlugtende Casey Cox op te spoor. Casey se DNS verbind haar met ’n misdaadtoneel en die bewyse teen haar is absoluut verdoemend. Dylan ondersoek haar verlede en besef dat sy óf ’n psigopatiese moordenaar is óf die mees onselfsugtige heldin ooit. Die vraag is: Gaan Dylan vir Casey uitlewer of gaan hy toelaat dat sy wegkom? Sal die waarheid vir Casey vrymaak, of nie?

Uittreksel: “Ek is omring deur mense. My doppie is geklink. Ek laat val die koevoet. Iemand gryp my en gooi my op die grond neer. My oor druk in die sand. Terwyl hulle my boei, roep ek uit: “Dis Laura Daly! Sy is in die kelder. Ek het met haar gepraat! Sy het gesê …” Niemand luister nie. Hulle sleepdra my na hulle kar toe. My hand bloei waar ek dit gesny het. Hulle bondel my by die agterdeur in.”

Meer oor die skrywer: Terri Blackstock is ’n New York Times-topverkoper-outeur. Daar het wêreldwyd al meer as 7 miljoen van haar boeke verkoop.

Die voortvlugtige kan hier aangekoop word.

Verlos deur genade (Jill Eileen Smith)

Hongersnood tref Bethlehem en Naomi en haar gesin pak die lang reis na Moab toe aan. Dáár gaan alles aanvanklik klopdisselboom, maar dan tref die een ramp na die ander hulle. Naomi se man en seuns sterf. Sy en haar twee skoondogters, Rut en Orpa, bly uiteindelik alleen agter in ’n vreemde land. Brandarm en mismoedig besluit Naomi om eerder terug te keer na Bethlehem. Rut dring daarop aan om saam met haar te gaan al lyk dit asof die twee vroue ’n ellendige bestaan as weduwees sal ly. Wag daar dalk ’n tweede kans op liefde vir die jong Rut?

Uittreksel: “Asseblief.” Rut neem Naomi se hande in hare. “Moenie daarop aandring dat ek u verlaat of terugkeer nie. Want waar u gaan, gaan ek, en waar u bly, bly ek. U mense sal my mense wees, en u God sal my God wees.” Sy kyk na die pad wat na die grafte lei waar hulle mans begrawe is. “Waar u doodgaan, daar sal ek doodgaan, en daar sal ek begrawe word. Ek belowe voor die Here dat net die dood ons sal skei.”

Meer oor die skrywer: Jill Eileen Smith skryf topverkoper-reekse soos Wives of King David, Wifes of the Patriarchs en Loves of King Solomon.

Verlos deur genade kan hier aangekoop word.

’n Hart vol hoop (Tessa Afshar)

Lidia is die dogter van ’n handelaar wat materiale kleur en verkoop. Sy is lief vir haar pa al dink sy hy het nie juis ’n sin vir besigheid nie en dat hulle daarom nooit ryk sal word nie. Sy is ook lief vir die grond van haar voorgeslagte en die besondere pers kleurstof wat haar pa ontwikkel het. Verraad beroof haar egter van alles en sy vlug met haar pa se geheime formules om die besonderse purper kleurstof te maak na Filippi waar sy met ysere wilskrag, moed en deursettingsvermoë haar eie besigheid vestig. Hier word sy Lidia die purperverkoopster, een van die stad se toonaangewende handelaars. Vrees en die dinge van die verlede agtervolg haar egter. Maar dan ontmoet sy die apostel Paulus, hoor sy storie van hoop aan en word ’n Christen. Wanneer die verlede haar egter uiteindelik inhaal, moet sy besluit of sy op haar jong geloof gaan vertrou en of sy voor vrees gaan swig. Dit is ’n pragtige verhaal van hoop, harde werk en die seën van vriendskap.

Uittreksel: “Lidia se pers is steeds die heel beste van almal. Twee en dertig jaar het al verloop sedert Eumenes die eerste formule ontwikkel het. Deur dit te waag om te eksperimenteer en deur vas te byt, het Lidia dit reggekry om ’n paar van haar pa se formules te verbeter. Niemand in die stad kom by haar formules se gehalte of kleurvastheid nie. Antiogus kon nog nooit sy afguns ontgroei nie, ook nie sy begeerte om sy hande op haar pers te kry nie.”

Meer oor die skrywer: Tessa Afshar is ’n Christy Award-wenner. Sy het ’n MDiv-graaf verwerf aan Yale en staan voltyds in die bediening.

’n Hart vol hoop kan hier aangekoop word.

’n Nuwe seisoen (Beverly Lewis)

Sallie Riehl wil bittergraag reis voordat sy haar laat doop en by die kerk aansluit, al beteken dit sy moet tydelik van haar ouerhuis in Paradise afskeid neem. Sy kry die geleentheid om ’n somer in Cape May deur te bring waar sy as kinderoppasser vir ’n skatryk gesin werk. Hier ontmoet sy vir Kevin, ’n Mennonitiese jong man wie se kosbare vriendskap baie vir haar beteken. Sy weet sy behoort nie ja te sê toe hy haar op ’n afspraak nooi nie, want daar is iemand in haar tuisdorp met wie sy veronderstel is om mee uit te gaan. Boonop is Kevin nie Amish nie. Gaan haar hart of haar toewyding aan die Amish en haar familie Sallie se toekoms en lot beslis?

Uittreksel: “Haar droom om te reis het gegroei tot ’n begeerte om ’n lewe vry van berou te leef waarin sy ander kan help. Wanneer sy daaroor nadink, smag Sallie na die vryheid om ’n ander lewenspad te kies, maar steeds een wat God verheerlik … sonder dat sy regtig weet wat dit is.”

Meer oor die skrywer: Beverly Lewis is in die Amish-tradisie gebore in Pennsilvanië. Sy het meer as 17 miljoen boeke in druk en haar topverkoperboeke is al in 12 tale vertaal.

’n Nuwe seisoen kan hier aangekoop word.

Bogenoemde boeke word deur die Christelike Uitgewersmaatskappy uitgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.