‘Die Wonderwese’ kry lewe met vuurblasers, kos uit ʼn boek

Carina Stander lees voor uit Die Bergengel tydens die boekbekendstelling van Die Wonderwese (Foto: Christa steyn/Maroela Media)

“Ek reël vir elkeen van my boeke ʼn boekpartytjie,” vertel Carina Stander. “ʼn Mens skryf baie lank aan ʼn boek en ek voel dis ʼn bietjie soos die geboorte van ʼn kind. Dis iets om te vier.”

En só is Stander se jongste boek, Die Wonderwese, op 7 November met vuurblasers, steltstappers en vere-uitrustings onder die liggiebome van die Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion verwelkom.

“Om ná al die ure se alleen werk en eensaamheid saam met julle, my lesers, partytjie te hou, is baie lekker,” het sy gesê.

Stander het egter een voorwaarde vir dié partytjie gehad.

“Ek hou van temapartytjies en daarom het ek al die gaste gevra om soos karakters uit Die Bergengel of Die Wonderwese aan te trek,” sê sy, en hiermee het sy haar lesers se verbeeldings behoorlik uitgedaag.

Gaste wat dié geleentheid bygewoon het, het haar uitdaging met entoesiasme aanvaar. Die mengelmoes van byderwetse korsette, stewels, mantels en helderkleurige vere het ʼn feestelike atmosfeer geskep wat Stander se verbeeldingslandskap laat lewe kry het.

Ook die versnaperinge was byna “uit ʼn boek”.

“Die sjef van Kleinkaap het gewone bestanddele gebruik om vreemd-wonderlike peuselhappies, soos wat dit in die boek beskryf word, te maak,” het Stander tydens die verwelkom verduidelik. “Daar is ook naamkaartjies en aanhalings uit die boek wat dit komplementeer.” Versnaperinge soos skilpadeiers, fisant gerol in spek en wildspasteitjies is op kreatiewe en kleurvolle wyse opgedis.

Matthys Boshoff, regisseur van die rolprent Die storie van Racheltjie de Beer, het as gesprekleier opgetree en Stander het kort-kort gedeeltes uit die boek voorgelees.

Gespreksvrae het gefokus op Stander se navorsing- en skryfproses, die inspirasie agter haar trilogie en intertekstualiteit met onder meer die Bybel en politiek.

“Ek het getrou gebly aan die natuurwetenskap en reëls van die natuur. Elkeen van Gabriëllië se regio’s is haarfyn beplan,” verduidelik Stander oor die voorafbeplanning. “Landskappe is geïnspireer deur my eie wêreldreise en joernale. Maar ek het ook geweldig baie ander navorsing gedoen – van walvisjag tot amputasie van ledemate, en selfs kultuskulture.”

Ná afloop van die gesprek was daar geleentheid vir vrae uit die gehoor.

Stander se man en ouers het die geleentheid bygewoon.

“Ek onthou hoe Carina haar eerste gedig op agtjarige ouderdom geskryf het,” het haar ma vertel. “Sy het by my aangekom met haar gedig wat in vyf strofes en perfekte paarrym geskryf is. Ek het geen benul gehad hoe sy dit geweet het nie, maar ek het wel geweet dat sy toe reeds ʼn digter was.”

Stander het haar ouers geloof vir die vryheid wat hulle haar gegee het om haar digterlikheid en kreatiwiteit uit te leef.

“Is daar ʼn groter geskenk wat ouers vir hulle kinders kan gee as die vryheid om te doen waarvoor hulle lief is? Ek het groot lof vir my ouers, want sonder die vryheid om myself in kuns te kan uitleef sou ek waarskynlik verslaaf geraak het aan iets anders.”

Stander het nog net twee bekendstellings wat vir Die Wonderwese voorlê. Op 7 Desember word haar boek in Knysna se kunsgalery bekendgestel tydens ʼn solo-uitstalling. Daar is slegs 30 inksketse beskikbaar van karakters en tonele uit die boek.

Op 12 Desember word Die Wonderwese in Somerset-Wes bekendgestel waar Stander ʼn boekvoorlesing sal doen en Joshua na die Reën gaan optree.

Die Wonderwese is die tweede boek in die Bergengel-trilogie. Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R250-00. Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.