Luister: ‘Heimwee’ pal boaan topverkoperlyste

Sophia Kapp (Foto: Albert Bredenhann)

Een herinnering wat die woord “heimwee” by Sophia Kapp wek, is gedagtes aan haar oupa-hulle se opstal wat op die plaas Heimwee geleë was.

“Hulle was bywoners op ʼn suikerplaas in die Stanger-distrik en die opstal was ʼn mooi, ou huis met ʼn stoep wat driekwartpad om die huis gevou het,” onthou sy.

Heimwee is ook die titel wat Sophia vir haar jongste historiese roman gekies het en vroeër vanjaar deur Boekdiva Uitgewers uitgegee is. Vandat die boek uitgereik is, pryk dit pal boaan verskeie topverkoperlyste, insluitend dié van Nielsen.

“Die storie gaan ten diepste oor almal se behoefte om ʼn plek te kry waar hulle tuishoort, en dit is nie noodwendig ʼn fisieke plek of die plaas nie. In ʼn moderne era is mense se behoefte aan ʼn tuiskomplek steeds een van die diepste menslike begeertes. Altans, dit is die indruk wat ek uit my gesprekke met mense gekry het,” vertel Sophia in die Maroela Media-ateljee.

Sy meen die sukses van haar verhale lê daarin dat sy stories met temas skryf wat vir Afrikaanse lesers belangrik is. Heimwee is Sophia se tweede roman met ʼn sterk historiese onderbou, naas Kanaän wat in 2020 verskyn het.

“Ek dink ek kan dit regkry omdat ek self tot in my gebeente in Afrikaans is. Met Heimwee het ek byvoorbeeld baie sterk op belewings van my eie familie gesteun. Daar was ʼn broer van my ouma wat self in die Tweede Wêreldoorlog gaan veg het.

“Ek probeer oor goed skryf wat vir Afrikaanssprekendes landwyd van toepassing en belangrik is en die dinge wat my karakters ervaar, is goeters wat my lesers ook sal ervaar.”

Om oor historiese gebeure te skryf, het wel bepaalde uitdagings. Sophia sê een daarvan is die nagaan van feite. “Eintlik is dit so met enige boek wat handel oor ʼn tydperk of omgewing wat jy nie self beleef het nie, en met die verlede is die groot gevaar altyd dat daar lesers is wat daardie tyd self beleef het.”

Tog meen Sophia dat dit broodnodig is om hierdie deel van die geskiedenis neer te pen, terwyl daar nog mense is wat dit eerstehands ervaar het.

“Dit is vir my vreeslik lekker om oor daardie tyd te skryf en wat ek besef het, is dat die mense wat tydens die Tweede Wêreldoorlog geleef het en dit onthou, besig is om af te sterf.

“Ons is met ander woorde besig om eerstehandse inligting van die oorlog te verloor. As ons stories oor daardie tydperk wil skryf en mense wil kan vra hoe die huise, klere en motors gelyk het, moet ons dit nou vra, want een van die dae gaan die mense wat dit self ervaar het nie meer leef nie.”

  • Sophia Kapp het in Maroela Media se ateljee oor haar jongste boek, Heimwee, gesels. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud.
  • Die boek kos R350 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Heimwee aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.