Luister: Skeppende Portchie se kuns so kleurryk soos SA

Die kunstenaar Portchie in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

Portchie, ʼn wêreldbekende en uiters suksesvolle Suid-Afrikaanse kunstenaar, het in sy loopbaan reeds byna 19 000 oorspronklike kunswerke geskep. Hy het al ʼn paar internasionale uitstallings aangebied en dit lyk of die gewildheid van sy skilderye jaarliks toeneem.

Oor die jare het Portchie ʼn handelsmerk gevestig en uitgebrei wat vir ʼn wye mark, van studente tot kunsentoesiaste, bekostigbaar en toeganklik is.

Hoewel dit aan die begin nie maklik was om sy voet in die deur te kry nie, met talle galerye wat hom en sy kuns weggewys het, het Portchie moedig aangehou.

Pols ʼn mens hom oor sy beskouing van die sukses wat hy vandag ervaar, meet hy dit nie aan die hoeveelheid skilderye wat hy verkoop het, die geld wat hy daarmee verdien of dat hy wêreldbekend is nie.

Sukses, meen Portchie, is wanneer hy met sy kunstalent mense byeen kan bring, verhoudings kan bou en geleenthede in die sakewêreld kry.

“Dit kom alles neer op geloof,” meen Portchie. Van sy kinderdae hou hy aan die boodskap van die gelykenis van die muntstukke in Matteus 25 vas.

“Wat my geanker hou, is die wete dat God vir my al die instrumente gegee het wat ek benodig om ʼn goeie lewe te lei. Dit is wel my verantwoordelikheid om daardie vermoëns optimaal te benut.”

Sy kleurvolle skilderye roep eenvoudige, alledaagse tonele op, soos iemand wat fiets ry, blomme in ʼn vaas, ʼn marktoneel of mense wat sit en lees.

In sy memoires Portchie: Van Tweeling tot Travalgar Square wat pas by NB-Uitgewers verskyn het, praat hy openhartig oor sy kunswerke, die gebruik en betekenis van kleur, kritiek wat hy oor sy “kleurvolle kinderprentjies” moes verduur en hoe hy mettertyd geleer het om dit te hanteer.

Hy skryf oor die sakelesse wat hy by sy ouers, maar veral sy ma, geleer het, hoe sy pad as kunstenaar mettertyd uitgekerf is, mentors en rolmodelle wat hom gevorm het en dié wat steeds in sy lewe betrokke is.

ʼn Mens lees ook hoe hy in 2023 sy 60ste verjaardag met ʼn uitstalling in Stellenbosch se stadsaal en ʼn reusemakietie by sy huis gevier het. Dié boek is nog een van die maniere waarmee hy op sy lewe terugkyk en dit vier.

Die boek bevat ʼn versameling lewensketse, ʼn kleurbylaag met foto’s van 60 van sy gunsteling-kunswerke en ʼn bylaag met 12 beeldhouwerke wat vir hom uitstaan, asook ʼn paar foto’s wat sy storie help inkleur.

Portchie: Van Tweeling tot Travalgar Square kos R 295 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan die berig na ʼn onderhoud met Portchie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.