Pa begin vensterwassery om blink toekoms vir dogters te gee

Anthony Martin. (Foto: Verskaf)

Anthony Martin se ma Hester, het hom en sy broer op ʼn baie jong ouderdom in ʼn tuinhuisie gelos en by ʼn familielid gaan woon. Wat hierna vir hulle gevolg het, was hawelose kinderjare op die Kaapse vlakte en geen vooruitsig vir die toekoms nie.

“Vir lank het ek net ʼn lewe van armoede, bendegeweld en dwelmgebruik geken, totdat ek begin wonder het hoe dinge buite hierdie omstandighede sal lyk as ek beter keuses sou maak,” vertel Anthony aan Maroela Media.

Vandag, is Anthony gelukkig getroud, hy en sy vrou het twee dogters (12 en 7) en hy is die eienaar van AM Window Cleaners, ʼn vensterwassery in Kraaifontein. Sy memoires, die tweede boek uit sy pen, is ook onlangs as e-boek gepubliseer.

Anthony se grootste behoefte is om gelukkig te wees en standvastigheid in sy lewe te hê. Hy droom en werk om ʼn huis van sy eie te besit.

Eerste treë na ʼn nuwe begin

Anthony het nie skool klaargemaak nie, en voordat hy sy eie onderneming drie jaar gelede begin het, het hy nie ʼn standvastige werk gehad nie. Die keerpunt het gekom toe hy besef dat hy alles in sy vermoë wil doen om ʼn beter lewe en toekomsvooruitsig vir sy dogters te gee as wat hy gehad het.

“So vyf jaar gelede het ek op my bed gesit en teruggekyk oor my lewe. Ek het myself die vraag afgevra: ‘Is hierdie lewe wat ek nou het, al wat daar vir my is? Is dit wat God vir my wil hê?’ Ek het agtergekom dat die meerderheid van die dinge wat in my lewe skeef geloop het, die gevolg van my eie slegte keuses was.

“Vandaar die besef dat as ek nie ʼn ommeswaai gaan maak nie, gaan ek vir die res van my lewe in hierdie omstandigheid of donkerte sit waarin ek vasgevang was.”

So het ʼn nuwe fase in Anthony se lewe aangebreek.

Sy onderneming het begin nadat hy en ʼn vriend, wat sy eie dromwassery bedryf, eendag gesels het. Anthony se vriend het gesê dat baie kliënte wou hulle ruite ook skoongemaak hê, maar die vriend het nie die regte toerusting daarvoor gehad nie.

Daar was ʼn paar uitdagings en oorwegings: Dit was midde ʼn watertekort in die Kaap, Anthony het nie kennis van die veld of sy eie vervoer gehad nie, en daar is geld nodig om so iets te begin.

“Ná ons gesprek het ek ʼn week of wat daaroor gedink en dit oorweeg. Ek het na baie video’s op die internet gekyk om te sien hoe ander mense dit elders in die wêreld doen. Die gedagte dat ‘As hulle dit kan doen, kan ek dit ook mos doen?’ het by my opgekom, en daarna het die planne begin.”

Anthony het R1 000, wat hy met sy eerste boek gemaak het, gevat, toerusting aangeskaf en sy diens in die Kraaifontein-omgewing bemark. Twee maande het verloop voordat Anthony die eerste oproep van ʼn potensiële kliënt ontvang het.

“Dit was erg, want die lewe gaan aan. ʼn Mens moet nog steeds huur betaal, kos koop en oorleef. Daardie dag toe die persoon my gebel het, was ek so opgewonde.”

ʼn Ruk daarna het dieselfde kliënt ʼn vriendin na Anthony toe verwys, en so het die besigheid stelselmatig ingekom. Omdat hy nog steeds nie sy eie vervoer gehad het nie, moes Anthony dikwels etlike kilometers ver loop en sy swaarverdiende inkomste gebruik om vir publieke vervoer te betaal.

Op ʼn dag het daar nóg ʼn draaipunt gekom: Iemand het vir Anthony gevra of hy sy peperduur dakwoning (penthouse) in Groenpunt se vensters sal was. Dit was ʼn kolossale plek wat Anthony drie dae sou neem as hy dit man-alleen moes doen, en daarom het hy slim gedink en werkers genader om hom te help om die taak in een dag af te handel.

Te danke aan dié werk kon Anthony agterna vir hom ʼn motorfiets aanskaf. Dit het hom in staat gestel om meer vensters te was, en minder tyd aan pendel af te staan. Sy onderneming het mettertyd gegroei. Hy het later die motorfiets verkoop en ʼn motor aangeskaf.

“Ek het nie moed opgegee nie. Kliënte wat tevrede is met die goeie werk wat ek doen, het vir ander mense van my vertel. Dit het my eintlik verder gemotiveer om aan te hou.”

In uitdagende tye, veral in die wintermaande wanneer mense nie so gereeld hulle vensters laat was nie, dink Anthony gereeld aan die verhaal van Moses en sy staf wat in ʼn slang verander. Die boodskap wat hy een keer in die kerk gehoor het, gaan daaroor dat jy altyd iets in jou hand het waarmee jy ʼn verskil kan maak.

“Somtyds wanneer dit moeilik gaan, dan besef ons nie wat in ons hand is en wat ons kan gebruik om aan te hou nie. Jy kan ook nie altyd sien wat jy in jou het en wat jou vermoë is nie, omdat jy kan nie verby jou omstandighede kyk nie.

“Wanneer dit moeilik gaan, dan dink ek altyd aan wat in my hand is. Wat kan ek doen of wat ek kan gebruik om geld in te bring. Wanneer daar nie werk vir die vensterwassery inkom nie, dan onthou ek dat ek die vermoë het om stories te vertel en te skryf.”

Hy wil inspireer met stories

Tussendeur het Anthony op die kantlyn probeer om ʼn inkomste met sy skryfwerk te genereer. Met die eerste boek, Poverty-free, het Anthony egter baie geld, boonop uit sy neseier, verloor. Daarna het ʼn kortverhaalbundel, Beast se woede en ander verhale, gevolg, en die jongste boek uit sy pen, Ek is Anthony, Hester se weggooi kind, is memoires oor sy kinderdae.

“Dit is ʼn openhartige vertelling van hoe ek vir baie lank ʼn wrok teenoor my ma gekoester het, omdat sy nie kans gesien het vir my en my broer nie. Die boek gaan veral oor die pad na vergifnis wat ek gestap het.

“Om nie te vergewe nie, bring regtig ʼn donker wolk oor ʼn mens. Ek hoop dat die stories ander mense se harte sal aanraak en dat hulle ook ʼn besluit sal neem om te vergewe, eerder as om iemand te haat.

Sy ma is intussen dood, maar Anthony kan nou oor haar praat sonder om hartseer of kwaad te voel.

“Vergifnis is iets wat tyd vat.”

Anthony, ʼn trotse pa van sy twee pragtige dogters, meen hy is nou op ʼn goeie plek in sy lewe. “Ek is baie gelukkiger in en met myself noudat ek voel ek doen iets wat ek graag wil doen, en wat ʼn verskil in my en my gesin se lewe maak.

“My wens is dat my dogters ʼn goeie opvoeding ontvang, dat hulle nie eendag dieselfde pad stap as wat ek gestap het nie, en dat hulle die lewe anders sal sien. Ek praat nie altyd net van finansiële sekuriteit nie, maar ook dat hulle liefde, omgee en goeie verhoudings sal hê.”

  • Anthony het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om geld in te samel om ʼn huis te koop wat hy aan sy dogters wil nalaat.
  • Sy memoires kos R50 (prys onderworpe aan verandering). Skakel Anthony by 076 329 3594 om die boek te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.