Só kom boekbedryf lesers tegemoet tydens inperking

tablet-rekenaar-boek-papier

Foto: Tookapic/Pexels.com

Talle uitgewers en skrywers werk hard om lesers tydens die tydperk van afsondering van billike of gratis leesstof te voorsien.

Die romanskrywer Tosca de Villiers se liefdesromans Emma se Somer en Maryka se sprokie is tot einde Mei gratis op Amazon Unlimited beskikbaar.

Volgens De Villiers skryf sy nie soetsappige stories nie, maar gee aan haar heldinne die eienskappe wat sy in vroue waardeer, naamlik onafhanklikheid en selfstandigheid. Die helde is sterk manne, maar skroom nie om hulle sensitiewe kant te wys nie.

Lapa Uitgewers bied tot 30 April afslag op alle e-boeke aan.

Izak de Vries, bemarking- en kommunikasiebestuurder by dié uitgewery, sê hulle verstaan dat baie mense steeds boeke verkies.

“Koop dan solank ’n geskenkbewys by jou plaaslike boekwinkel. Hulle het jou hulp nou nodig,” pleit hy. “Koop een vir jouself en gaan bederf jouself daarmee wanneer inperking verslap word of gee dit vir iemand wat lief is vir lees.”

NB-Uitgewers, Penguin Random House en Lapa Uitgewers voorsien lesers van boek-uittreksels op hul webwerf. Hoewel dit nie die hele boek is nie, behoort dit lesers ʼn goeie idee te gee van wat om in die boek te verwag.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het intussen aangekondig dat die Taalgenoot se Herfsuitgawe gratis aangebied word.

“As gevolg van die Covid-19-inperkingmaatreëls is die volledige uitgawe gratis beskikbaar vir jou leesgenot,” het die instansie op hul webwerf gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat die onwettige verspreiding van materiaal ʼn strafregtelike oortreding is en ernstige gevolge inhou. Maak dus seker dat die aktiwiteit wettig is voor jy enige leesstof aanvaar of aanstuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.