Fluit-fluit, die fluitjie is geblaas en my storie is uit

Deur Milda van Dyk

(Lees graag my artikel “Moenie my sê nie” vir konteks oor hierdie opvolgartikel)

(Foto: Stellenbosch-munisipaliteit/Facebook)

Dis ʼn salige Sondag op my sonnige stoep in Serenahof, my woonstel in Stellenbosch. Die swottings lê sidderend op my lessenaar en wag, maar met Stellenbosch-berg wat voor my uittroon besef ek dat ek moet deel oor waar my hulp in die laaste drie en ʼn half jaar vandaan gekom het.

Die bitsige Stellenbosch-winter (en dus eksamen) is op pad en sover het die Maties hulle gedra (die jaar is dit Pukke wat deurloop).

Die brandmerke van fluitjieblaser wees, is al dowwer en die dankbaarheid slaan nou deur.

Dankbaar vir my mentor wat in ʼn vergadering laat blyk het dat sy my by die balkon wou afskop. Nou sit ek en tee (Maatskappyereg wag, so wyn is uit) drink op die derde verdieping en geniet die goue sonsondergang. Dankie tog ek lê nie aan die onderkant van ʼn balkon nie.

Dankbaar vir ʼn prim wat my gewaarsku het dat sou ek vir leierskap staan, ek geteister gaan word in die koukus met bitsige politiek-gedrewe vrae wat mik om my karakter af te kraak. Ek het dus vrede gekies en weggebly. Leierskap het in die slag gebly, maar karakterbou kon seëvier.

Dankbaar vir ʼn vriend se raad, toe ek angstig opsoek is na ʼn woonstel om uit die kil koshuiskamer te kom, wat lei “just wait, good things take time”. Ek kan getuig, die goeie het in goeie tyd gekom.

Dankbaar vir ʼn kamermaat met heel ander waardes wat my tog kon laat skater as sy giggelend na ʼn laat aand in die kamer in strompel.

Vir ʼn op-die-nippertjie-koshuis-vriendin wat in my beskuitblik kom induik wanneer dit haar pas en my laaste koshuisdae vermaak het.

Milda van Dyk (Foto: Verskaf)

Dankbaar vir Minerva se netbalspan waar ons sonder politiek die koshuisgees kon ervaar (en boonop die toernooi wen).

Vir my orgidee wat my drie jaar lank geleer het om te blom waar ek geplant (of laat staan) is, met of sonder water (let wel: die dag toe ek uit die koshuis trek het haar koppie geknak).

Dankbaar vir die tannies en ooms se bemoedigende Facebook-kommentaar op my vorige artikel. Dankbaar vir StudentePlein se groeiende missie en visie. Vir my taal en sy mense wat nie skroom om trots te wees nie. Vir ʼn gesin van regsgeleerdes wat vuur en vlam agter my staan.

Dankbaar vir ʼn God wat elke dag teenwoordig is in die prag van dié Akkerdorpie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Elkeen se koshuiservaring verskil. Van wonderlik tot walglik. Dit was dalk my keuse om my bek te rek oor my taal en ek moes die gevolge dra. Tog, sal ek dit weer en weer doen.

Ek wens vir elke huidige en toekomstige Matie-koshuisstudent en aspirant-koshuisleier ʼn voorspoedige koshuislewe toe. Mag jy nooit stilbly vir die onreg nie. Mag jy die durf hê om self-opofferings vir jou taal en waardes te maak. Mag jy staande bly op jou balkon.

Fluit-fluit (die fluitjie is geblaas) en my storie is uit. ʼn Glasie (of teetjie?) op die Heuwels Fantasties se woorde: so baie om voor dankbaar te wees.

  • Milda van Dyk is ʼn 4de jaar-student in BRekLLB by die Universiteit Stellenbosch.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.