Wen: Weermagvrou se verhaal van hoop

bid-vrou-son-stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

WAARSKUWING: Die uittreksel bevat kru-taal wat nie geskik is vir kinders of sensitiewe lesers nie.

My man rol stadig om, steek sy arm uit. “Sal jy maar weer my bloeddruk neem?” “Ek sal.”

Sy arm is slap; hy hou dit toe onder die swart frok wat ek hom toe wel vir die heel eerste keer in sy lewe laat aantrek het. Die mou voel klam; die koors was tot op sy arms.

Ek neem sy bloeddruk. Dit is gangbaar, die sistoliese bloeddruklesing dertig mm laer as die vorige aand. Wanneer was die vorige aand? Die hoeveelste Desember is dit nou? Of nee, dit was gister Oujaar, was dit nie?

Ek is grieperig. So begin dit oral: met grieperigheid.

“Jy gaan dit máák, Alec. Jy is mos ʼn ou fighter. Ons gaan hierdie blik-sem saam fight, en dan bou jy ons kliphuis met sy groot stoep klaar.” ʼn Ou fighter. Die allerlaaste ding wat ek ooit wou hê hy moes wees. Die een soort man met wie ek nie kon saamleef nie, nie meer wóú mee saamleef nie.

Ek pak die bloeddrukmeter met sy rubbermansjet terug in die grys toe- ritssakkie. “Ek bring vir ons rooibostee met heuning daarin.”

Hy frons. “Eerder plein kookwater. Ek weet nie wat jy in die tee sien nie. Dit beteken niks, en dit smaak verdomp na niks.”

“Eerder dan ʼn kwartkoppie sterk, swart koffie?” Swart kan tóg dalk die kleur van memories word. Swart koffie vir die ou fighter. Dié wat gaan sterf, knik nie wanneer iemand vir hulle swart koffie aanbied nie.

Die gordyne is nog toegetrek, die kamer ruik steeds na koorssweet, blaasinfeksie en gemors in die longe.

My selfoon lui. Dit is Louis. Mense van ʼn ander huis praat in die agtergrond; ʼn groot hond blaf in ver en naderkomende klankgolwe. “Is Pa nou darem oukei, Ma?”

“Pa het nou net wakker geword.”

“Hel, Ma, so hy gaan nie doodgaan nie? Hoeveel dae hou dit nou al aan? Hoekom gaan julle nie dokter toe nie?” Hy klink bang. Al die bravade, al die afgeefsels van al die onpeilbare jong manne in sy vriendekring se weerstand teen húlle ouers is weg. In die aangesig van die dood word dié in jou gesin wat die deure in jou gesig toegeklap het, weer vlees van jou vlees en been van jou gebeente.

“Die koorsmedikasie en aspirien, die koöperasiegoed en die kruietablette, die oopstoom van die ou klipkop se lugweë, die longoefeninge, die sitvlak-in-die-lug- en die ondertoe-hoes-prosedure het gewerk. Jou pa lyk regtig beter vandag.”

“Ander mense wat op Kersdag siek geword het, is al dood, Ma. Almal het gedink hulle gaan dit máák, maar hulle het nie. Pa bly te lank siek.”

Ek hoor ʼn geluid, ʼn angssnik wat vir niemand se ore bedoel was nie, ook nie vir myne nie. “Dis oukei, my kind,” sê ek vir hom.

“Moet ek nie maar terugkom nie?”

“Om te kom aansteek? Nee, bly waar jy is. Ek kyk mos mooi na Pa.”  Hy vertrou iets aan my toe. “Sê vir Pa hy is… hy is my hero, Ma.”

“Jy kan dit self vir hom sê, my kind. Hy is wakker. Ek gee die selfoon vir  hom, dan kan jy…”

“Wag, Ma. Sê jy dit vir hom, asseblief.”

My seun druk ʼn geluid uit sy ingewande, sy vasgryp aan sy pa, sy berou en sy hoop in my hande. Hy lui af en ek gaan op die stoel aan Alec se kant van die bed sit. Ek is lighoofdig van ʼn hoofpyn uit die hel, en my ooglede druip van ʼn moegheid soos wat ek nog nooit tevore ervaar het nie. Maar ek gee Louis se boodskap af, want hy het nie vir ʼn plaasvervanger gereël nie.

“Oukei,” sê Alec. “Laat ons hoop dit hóú.”

“Laat ons hoop jou beterskap hou. Ek dink steeds jy kort suurstof.” “Hoekom sê Louis dit nie verdomp self vir my nie, Jo?”

“Want julle mans kan mos nie sê wat binne-in julle aangaan nie.”

Hy lê in die middel van die somer in ʼn swart frok na die plafon en staar. “Ek het nog nie juis die idee gekry dat daar iets binne-in Louis aangaan nie.” Hy praat na die plafon toe. Sy woorde slaan daar vas.

Hoe arm het Alec de Winnaar uit die oorlog teruggekom, dink ek. Son der hoop, sonder visie, die kinderlose pa van ʼn vaderlose seun.

Niemand kan so lank siek bly nie. Niemand kan soveel insinkings beleef en oorleef nie. Ek het die motor uit die garage getrek, maar hy wou nie van die bed af opstaan nie.

“Ons moet by die hospitaal kom, Alec! Jy is op ʼn glybaan. Jou hart gaan dit nie hou nie. Dit is omdat ons nie die regte medikasie het nie. Jy moet getoets word, ʼn voorskrif kry. En hoëdruksuurstof of iets. Ek gaan die kinders bel. My pa… my ouers. Jy moet by 3 Mil kom. Asseblief, Alec.”

“Ek kort net rus, ʼn goeie nagrus. Skakel die lig af, jy kort ook rus. Jy is net so siek soos ek.”

Twee uur later skakel ek die lig weer aan. Alec lê so stil soos ʼn dooie. Here in die hemel, laat iets aan hom roer, al is dit net soos ʼn blaar in ʼn bries.

Sy onderlip het in die dwarste geril. Die patrone op ons lippe verskil soos ons vingerafdrukke, soos ons oorlewingsmeganismes, soos ons gene. Hy het vertikale groefies wat oopbars en hom dan grimmig en stom maak. Ek het windinge in sowel my vingerafdrukke as op my onderlip. Wanneer  ek siek of uitgebrand is, stoot die swelling van angioedema diep uit die binneste mukosa op en loop ek met iets soos ʼn lipoom teen my onderlip. Maar ek wil praat.

Ek vat met my vingerpunte aan sy boarm. Hy het meer gespierd in die oorlog geraak en het nie sedertdien sy lenigheid verloor nie. Sy boarmspiere is meer prominent en harder as toe ons jonk was en hy my in die swembad vasgegryp het.

“Is jy wakker, Alec?”

Hy maak sy oë oop, staar my stom aan. Here, laat hom praat! Hy kom orent, hoes. “Ons is toe nie dood nie.”

“Nee, ons is nie. Ek dink die ergste is verby.” Hy sug lank en hoorbaar.

“Ek wil iets vir jou doen, Alec.”

Hy draai sy kop. “Ek is oukei. Ek het niks nodig nie.” “Nie eens my ore nie?”

“Jou wat?”

“My ore. Die oorlog kon nie soos daardie naamborde by Omuthiya be grawe word nie. Ek is hier. Jy kan vir my vertel wat…”

“Vergeet daarvan. Ons oorlog is verby. Lankal al.” “Maar, Alec…”

Hy trek sy arm onder my vingerpunte uit, vou sy hande op sy bors. Hy lê soos Simonsberg by Stellenbosch, maar sonder die fynbos, sonder die geur van boegoe. En sy maag is plat van die werk op Nooitgedacht.

“Praat is nodig, Alec.”

“Verdomp, Jo.” Hy kap die gesprek in twee. Anderkant die Kaplyn was Angola.

En skielik, met die uiereuk van sy sweet en my sweet in die vertrek – ruik die vermenging van twee lankgetroudes se sweet dan só? – onthou ek van Lea se graad 7-opstel. Sy het lank daaraan geskryf, wou dit vir my lees. “Ons moes oor ʼn storm skryf, Mamma. Maar Mamma moenie lag nie.”

“Hoekom sal ek nou wil lag?” “Want dit is ʼn bietjie weird.”

“Dan gaan ek daarvan hou, my kind.”

Sy het met haar opstelboek op die ou rusbank gaan sit, dieselfde een wat  nou met een spykerpoot voor die sitkamervenster staan. “Mamma moenie  lag nie.”

“Belowe.”

Sy het skaars opgekyk terwyl sy lees: Die storm self was regtig verskriklik, met die flitsende weerlig en die harde donderslae en alles. Maar toe ek ná die verskriklike en angswekkende storm buitentoe gegaan het, was dit baie, baie erger as toe dit gevoel het asof die hele huis skud en die dak gaan afwaai.

Want daar was my boom. Daar was my geliefde klimboom. Daar was die dik ou stam waarteen ek soos ʼn groot verkleurmannetjie op en af geloop het. Die dik ou stam was afgeslaan. Die weerlig het dit van die hoofstam af afgekap. Die growwe bas het oral op die nat grond gelê. Die binnekant van die stam was wit soos room. Ek het snikkend na die binnekant van my geliefde klimboom se stam gestaan en kyk en geweet ek sou dié onuitwisbare tragedie vir die res van my lewe onthou. Want die langbeenverkleurmannetjie het haar wonderlike klimboom in die storm verloor.

“My kind!”

“So, dit is oukei vir Mamma?”

Móét ’n mens dit sê? Nie vir enigeen nie, vir Lea wel. Vir die kind wat sou kon grootword om songs te skryf, stories en gedigte.

***

Hierdie uittreksel uit Klankgrens deur Maretha Maartens en Magda Slabbert is goedgunstig deur Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskaf. Klik hier om meer oor die boek te wete te kom.

Skryf nou in

Een leser staan die kans om ʼn eksemplaar van Klankgrens te wen. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 27 Maart om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

En die wenner is

Jeanene Taylor stap met ’n eksemplaar van Klankgrens weg. Baie geluk aan die wenner! Hou Maroela Media dop vir nog heerlike kompetisies en kanse om te wen.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit op 27 Maart om 23:45.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna die wenners per e-pos deur Maroela Media genader sal word.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, hanteer die versending en sal direk met die wenners in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.