Zirk van den Berg wen WA Hofmeyr-prys

Zirk van den Berg (Foto: Brenda Veldtman)

Die wenners van Media24 se boekpryse vir 2020 is Donderdag (18 Junie) bekendgemaak. Dit is die eerste keer in meer as 60 jaar dat die toekennings nie persoonlik oorhandig nie. Weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls is die wenners virtueel aangekondig.

Die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie wat romans, kortverhale en dramas insluit, is vanjaar aan Zirk van den Berg toegeken vir sy roman Ek wens, ek wens.

Die keurders meen dat Van den Berg se roman ʼn kragtige leeservaring bied. Dit word beskou as ʼn verhaal wat die leser se wêreld geruisloos betree, maar jare later nog onthou word. Die keurders was Sonja Loots, Francois Smith en Bibi Slippers.

Ek wens, ek wens vertel die storie van ’n begrafnisondernemer wat gelate sy voorspelbare lewe leef totdat hy ’n terminaal siek kind ontmoet. Die boek is deur Kwela Uitgewers uitgegee.

Kerneels Breytenbach en Etienne van Heerden was saam met Van den Berg op die kortlys. Breytenbach is vir Hond se gedagte benoem en Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Loftus Marais (Foto: Alet Pretorius)

Loftus Marais is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie bekroon vir sy derde bundel, Jan, Piet Koos en Jakob, wat deur Human & Rousseau uitgegee is.

Die keurders verwys na Marais se “verstommende digterlike vakmanskap” en sê onder meer dat nie alle digters die vermoë het om ’n sukses van ’n eenheidsbundel te maak nie. Charl-Pierre Naudé, Andries Visagie en Rustum Kozain was die beoordelaars vir dié prys.

Ander digters op die kortlys was Ronelda Kamfer met Chinatown (Kwela Uitgewers), Hennie Nortjé met Kryt (Queillerie) en Mongane Serote met Sikhahlel’ u-OR: A Praise Poem for Oliver Tambo (Kwela Uitgewers).

Edyth Bulbring ontvang die MER-prys vir jeugromans vir The Choice Between Us, wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. Dit is die tweede keer dat Bulbring dié prys wen.

Fanie Viljoen en Theodore Key deel die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke. Viljoen ontvang die prys as die skrywer van Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies (Human & Rousseau) en Key as die illustreerder van Die hasie van fluweel (Human & Rousseau). Die hasie van fluweel is deur Margery Williams vertaal en deur Linda Rode verwerk. Viljoen en Key is albei vorige MER-pryswenners.

Ander skrywers en illustreerders op die MER-kortlyste was Derick van der Walt met Toring van jasmyn en Fanie Viljoen met Brand (albei Tafelberg) in die kategorie vir jeugverhale. Mari Grobler met Bella en Sebastiaan (Tafelberg) en Dihanna Taute met Die legendariese Lua Verwey 2: ’n Plaas se geraas (Human & Rousseau) is in die kategorie vir skrywers van ’n geïllustreerde kinderboek benoem en in die kategorie vir illustreerders van ’n kinderboek is Vian Oelofsen vir Liewe Heksie en die pampoene deur Verna Vels (Human & Rousseau) en Tumi K Steyn vir Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen (ook Human & Rousseau) by die kortlys ingesluit.

Henriëtte Linde-Loubser, Naomi Meyer en Magdel Vorster was die beoordelaars vir die MER-prys vir jeugromans en Jaco Jacobs, Aldré Lategan en Magdel Vorster het die kategorie vir geïllustreerde kinderboeke beoordeel.

Die Recht Malan-prys vir niefiksie is aan Jonny Steinberg toegeken vir One Day in Bethlehem. Trevor Sachs het die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie gewen met sy debuutroman Lucky Packet.

Meer as 80 boeke wat in 2019 by Media24-uitgewerye verskyn het, het vanjaar in ses kategorieë meegeding. Die gesamentlike prysgeld is R210 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.