Hennie Aucamp (1934 – 2014)
‘N STUDENT SKRYF AAN SY MEISIE
Watter nut het ironie in eensaamheid?
-Iwan Toergenjef
Ek stuur vir jou dié briefie
al is ons ding nou oor.
Ek dag: jy is tog menslik
en wil dalk van my hoor?
Ek woon hier op ‘n plasie –
Karoo so ver jy kyk –
‘n trein kom deur die leegte
en neem dan weer die wyk.
Distansie bring besinning
en mag ek sê: ook visie?
Ek glimlag oor jou selfsug;
jou passie vir ‘n rusie.
Osmose tussen mense
is moontlik, maar beperk;
emosie kan ooreis word
as dit van één kant werk.
Die oom sal netnou trug wees
met meel en Vrydagpos
(en ek sal glo moet hand gee
met aflaai van die kos).
Jy word vir my weer naamloos:
verlange onbegrens;
en só is liefde sinvol –
nie ingekort tot méns.
Die tante gaan nou kamp toe,
roep “Kiep-kiep” teen die wind;
sal sweerlik weer kom aanklop:
“Nog niks gehoor nie, kind?”
Ag, dêmmit, ek verlang jong,
kom haal my, asseblief!
En straf my tot ek seer kry –
maar bêre net dié brief.
Want dit bevat gedagtes
wat ons twee moet bespreek:
as alles goed gaan, liefste,
dan sien ons oor ‘n week?
Besonders mooi.
Hennie – ‘n groot gees wat ‘n groot leemte gelaat het met sy weggaan! Dankie vir die publikasie Maroela!