Uitdrukking: Iemand wys waar Dawid die wortels gegrawe het

Argieffoto (Foto: SplitShire, Pixabay)

Uitdrukking:
Iemand wys waar Dawid die wortels gegrawe het

Betekenis:
Iemand berispe, op sy plek sit; wys dat jy sy/haar meerdere is

Waar kom dit vandaan?
Dawidjieswortel (ook dawidjiewortel) is ʼn plantsoort wat baie giftig is vir diere, maar Leipoldt praat ook van ʼn Van der Merwe wat sy vrou “met kattekruie en dawidjiesgoed vergewe het” (dawidjiesgoed is ʼn ander naam vir dawidjiewortel).

As jy nou vir iemand wys waar dawidjiewortel gegrawe (ook begrawe) is, dan kan dit dalk letterlik beteken dat jy hom inlig oor die gifplant, of hom waarsku dat hy met gif speel. Die vervorming van dawidjiewortel tot Dawid die wortel lyk voor die hand liggend, veral as iemand wat nie die plant ken nie, die naam daarvan hoor. Die Dawid van die gesegde is eg Afrikaans; Nederlands het Abraham wat die mosterd gaan haal.    

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.