Land van Kokanje

'n Voorstelling van Brueghel se skildery, die Land van Kokanje Bron: www.orph.us

Die land van Kokanje is ʼn middeleeuse fantasie toe hongersnood geheers het. Dis ʼn oorvloedige land, ʼn verbeeldingryke land van uitermatige gerief en gemak waar liggaamlike plesiere en gemaksug vrylik beskikbaar is en die slegte lewe van ʼn arbeider nie bestaan nie.

“Kokanje” is eerste in Latyn aangeteken, Cucaniensis, en het ook vroeg al sy verskyning in Middel-Engels en Middel-Frans gemaak. Die woord herinner aan ʼn klein soet stukkie koek wat gewoonlik in Frankryk aan kinders by ʼn fees of ʼn skou verkoop is. Die Hollandse, en dus Afrikaanse, ekwivalent is Luilekkerland. In Duits staan dit ook bekend as die “land van melk en heuning.” Spanje noem dit weer ʼn fools’ paradise en ʼn Sweedse dialek verwys daarna as lubber wat ʼn vet, lui man voorstel.

Netsoos Atlantis en El Dorado is die land van Kokanje ʼn utopia, ʼn fiktiewe plek waar luiheid en ooreet die grootste handelings is. In 1790 het George Ellis ʼn 13e eeuse Franse gedig gepubliseer waar die huise van suiker en koek gemaak is, die strate van pasteitjiedeeg gemaak is, en die winkels goedere verniet weggegee het.

Volgens Herman Pleij, Dreaming of Cockaigne: Medieval Fantasies of the Perfect Life in 2001 het geroosterde varkies met messe in hulle rûe rondgeloop sodat dit sommer baie maklik was om hulle op te sny. Gebraaide ganse en hoenders het sommer direk in jou mond ingevlieg as jy nie te lui was om jou mond oop te maak nie en gaar vis het uit die water gespring en by jou voete geland.

Bron: Robert Barnes

Die weer is altyd matig, die wyn vloei vrylik en alle mense het vir ewig geleef. Kokanje was die middeleeuse arbeider se droom – ʼn land wat verligting gebring het aan die harde werk en daaglikse struweling om liggaam en siel aan mekaar te probeer hou.

Die Grieke en Romeine het ook so ʼn land geken, volgens die skrywer Athenaios (wat ongeveer 200 n.C. geleef het). Athenaios het geskryf dat Kokanje ʼn land is waar die wyn soos reën uit die lug val.

ʼn Neapolitaanse tradisie wat nou na ander lande uitgebrei het wat ook die Latynse kultuur aanhang, het ʼn sogenaamde Kokanje-paal. Dit is ʼn horisontale of vertikale paal met ʼn prys (byvoorbeeld ʼn stuk ham aan die een kant). Die paal word dan met olie of seep gesmeer en tydens ʼn fees staangemaak. Mense probeer dan om dié glibberige paal te klim om by die prys uit te kom en die skare lag hartlik wanneer hulle een-vir-een van die paal afval.

Ons verwys vandag nog in Afrikaans na ʼn denkbeeldige luilekkerland waar niemand werk nie maar almal lekker leef, as die land van Kokanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae