Aan: Die Viserektor: Akademies
Van: Die Rektor
Eerskomende Vrydagmiddag ongeveer 16:00 sal Halley se komeet in die Stellenbosch-omgewing sigbaar wees. Dit is ‘n uitsonderlike gebeurtenis wat slegs een maal elke 75 jaar plaasvind. Sorg asseblief dat al die personeel om 15:45 voor die hoofingang van die Administrasiegebou, Blok B, vergader, waar prof. G.O. Graaff die verskynsel aan ons sal verduidelik. Indien dit reën, sal die komeet nie sigbaar wees nie, en in so ‘n geval moet die personeel in die D.F. Malan-gedenksentrum byeenkom waar ‘n rolprent oor die onderwerp vertoon sal word.
Aan: Die Direkteur: Personeel
Van: Die Visirektor: Akademies
In opdrag van die Rektor sal Haley se komeet Vrydag om 15:45 voor die hoofingang van die Administrasiegebou, Blok B, as verskynsel sigbaar wees. Indien dit reën moet personeel in die D.F. Malan-gedenksentrum byeenkom waar hierdie uitsonderlike gebeurtenis sal plaasvind, iets wat slegs elke 75 jaar gebeur.
Aan: Die Registrateur, Direkteure en Dekane
Van: Die Direkteur, Personeel
In opdrag van die Rektor sal Hayly se komeet Vrydag om 15:45 in die D.F. Malan-gedenksentrum verskyn. Indien dit voor die hoofingang van die Administrasiegebou, Blok B, reën, iets wat slegs elke 75 jaar gebeur, sal die Rektor alternatiewe reëlings tref.
Aan: Alle Hoofde en Voorsitters van Departemente
Van: Die Registrateur
Vrydag om 15:45 sal die Rektor saam met Haylie se komeet in die D.F. Malan-gedenksentrum verskyn, ‘n gebeurtenis wat slegs elke 75 jaar, as dit reën, plaasvind. Die komeet sal in opdrag van die Rektor na die hoofingang van die Administrasiegebou, Blok B, beweeg.
Aan: Alle Personeellede van Kommunikasiekunde
Van: Die Hoof: Departement Kommunikasiekunde
Indien dit Vrydag om 15:45 reën, sal die Rektor en die 75-jarige mnr. Bill Heilie vanaf die hoofingang van die Administrasiegebou, Blok B, na die D.F. Malan-gedenksentrum ry.
Oorspronklik gepubliseer in die boek, Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink en geïllustreer deur Piet Grobler.
Uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, 1998