ʼn Digterlike inval by vanjaar se Windhoek Woordfees

Carina Stander (Foto: Verskaf)

Liefhebbers van die woordkuns kan hulle regmaak vir ’n vuurwarm woordweek vroeg in Augustus wanneer die doyenne van die Afrikaanse digkuns, Antjie Krog, saam met die ewe geliefde Carina Stander by die Windhoek Woordfees in Namibië optree.

Vanjaar vind hierdie fees van 3 tot 10 Augustus plaas, met al die nommers op die program wat in die Operahuis by die Lemon Tree Restaurant in The Village in Liliencrohnstraat, Windhoek aangebied word.

Beide hierdie digters sal in hul skrywersgesprekke op Saterdagoggend 10 Augustus oor hul digkuns gesels. Die wenners van die fees se eerste skryfkompetisie sal ook nog dieselfde aand bekendgemaak word en Krog sal met die afsluiting van die Woordfees van haar gedigte aan die gehoor voorlees.

Krog is volksbesit al van die verskyning van haar eerste digbundel, Januarie-suite, in 1972. Haar beroemde “kaalvoet gedig” aan haar ma bly een van die gewildste gedigte in Afrikaans:
“Ma, ek skryf vir jou ’n gedig/sonder fensie leestekens/sonder woorde wat rym/sonder bywoorde/net sommer/’n kaalvoet gedig…”

Sy het met latere werke soos Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to Be Black (2009) ook ’n reusebydrae tot aktuele diskoerse in Suid-Afrika gelewer.

Die nagevolge van kolonialisme, apartheid en ’n nuwe manier van wees in Suid-Afrika word in hierdie trilogie ondersoek.

As ’n joernalis wat ná 1994 oor die Waarheid- en Versoeningskommissie in Suid-Afrika verslag gedoen het, het sy ’n belangrike rol in die kritieke ontleding van die gebeure van daardie geskiedkundige tydperk gespeel.

Krog gaan in haar filosofiegesprek Donderdagaand 8 Augustus op dié proses terugkyk en besin of die kommissie inderdaad in die postapartheidsera versoening gebring en vir slagoffers van apartheidsvergrype genesing bewerkstellig het.

Stander – wie se nuwe boek, Wonderwese – in Oktober verskyn, bied op 8 en 9 Augustus van 14:00 tot 17:00 ’n poësieskryfkursus vir voornemende digters aan. Dit vind ook by die Operahuis plaas en inskrywings kos N$1000 per persoon.

Ná ‘n meestersgraad (met lof) in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, het haar digdebuut, Die vloedbos sal weer vlieg, in 2006 verskyn. Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg-debuutprys en agt van dié gedigte is in die Groot Verseboek opgeneem.

Die ander nommers op die Woordfeesprogam is die Storievuur (Saterdagaand 3 Augustus) en poppekas vir die jongspan op Woensdag 7 Augustus om 15:30. Dié kinderproduksie word vanjaar weer gratis vir die jongspan aangebied.

Vir meer inligting oor die besoekende kunstenaars, die volledige program, kaartjiepryse en -verkope, kan lesers Windhoekwoordfees.com besoek.

  • Hierdie artikel is met vergunning van die Republikein geplaas. Lees die oorspronklike artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.