Woord: kosmetiek; maskara

Argieffoto

Argieffoto

Woord:
kosmetiek

Betekenis:
kuns om die skoonheid van die liggaam te behou of te verhoog

Waar kom dit vandaan?
Die beroemde Griekse filosoof en wiskundige Pitagoras (c. 580 – c. 500 v.C.) het die wêreld die kosmos genoem na aanleiding van die volmaakte orde daarin, veral in die natuur en die seisoene en gereelde verskyning van die sterre, jaar na jaar. (Die kosmos in ons tuine of met herfs in die veld word so genoem omdat dit die ronde vorm van die wêreld het).

Van kosmos “orde” het die Grieke die werkwoord kosmeein ontwikkel wat “ordelik maak” beteken het. Daaruit het die byvoeglike naamwoord kosmetikos ontwikkel: “bedrewe in rangskikking of versiering”. Veral laasgenoemde het die vrouenasie beetgepak en hulle het hulle aangesigte aansienlik versier om dit in orde te probeer bring.

Die aanwending van middele om ‘n valerige meisietjie in ‘n skoonheid te verander, kom uit die grysheid van die verre verlede. Die antieke Egiptiese skoonhede het kohl gebruik om skaduwees om hulle oë aan te bring – en dit is dan ook prominent in Egiptiese afbeeldings van vroue. Kohl kom uit Arabies en is die woord vir ‘n poeier van fyngedrukte antimoon. Vroeër kon ‘n mens dit om die oë van klein Indiese seuntjies sien.

As die pleister te dik aangeplak is, was maskara die dame se voorland (sien maskara hier onder).

Woord:
Maskara

Betekenis:
Grimering van die oogwimpers

Waar kom dit vandaan?
Afhangend van die dikte van die aanwending kan dit die Spaanse “masker” beteken, maar as dit oordrewe is, kom die oorspronklike Arabies (maskhara) in die spel, naamlik “voorwerp van bespotting, frats”.

Dié interessante brokkie is in Anton F. Prinsloo se boek, ‘n Dief aan die kers – skelm woorde deur die eeue gepubliseer.
Uitgewers: Pharos
Prys: R250-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois Havenga ·

Waarom is dit so noodsaaklik vir dames om hul gesigte in te kleur en allerhande vals goedjies aan hul gesigte te sit? Is hulle dan regtig so lelik??

Francois Havenga ·

Waarom is dit so noodsaaklik vir dames om hul gesigte in te kleur en allerhande vals goedjies aan hul gesigte te sit? Is hulle dan regtig so onaantreklik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.