Die wenners van Protea Boekhuis se “Verbeel dit! Kinderboek-illustrasie”-kompetisie is bekendgemaak.
Hierdie jaar het Protea Boekhuis weer, saam met drie internasionale uitgewers, ’n internasionale kinderboekillustrasiekompetisie georganiseer. ’n Groep professionele beoordelaars – in Suid-Afrika Piet Grobler, Alida Bothma en Marisa du Toit – het die drie beste inskrywings in elke betrokke land gekies. In Suid-Afrika is 50 uitstekende inskrywings ontvang en die kompetisie was geweldig sterk. Baie geluk aan Angela Banks, Neeske Alexander en Hjalmar Pretorius wat in Suid-Afrika as die wenkunstenaars aangewys is.
Die wenwerk van Angela Banks
’n Illustrasie uit Neeske Alexander se storie ‘Jump’.
’n Illustrasie uit Hjalmar Pretorius se “The Princess and the Squire”.
Hierdie kompetisie is ʼn uitstekende geleentheid om internasionale blootstelling te kry. Die werk van die twintig wenkunstenaars gaan deel wees van ’n internasionale reisende tentoonstelling. Die finale keuse van wenillustrasies gaan ook in ’n internasionale katalogus gepubliseer word en voorgestel word aan die bekendste internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna-kinderboekebeurs in 2018.
Protea publiseer topkwaliteit kinderboeke. Die meeste hiervan is oorsese produksies wat in eerste instansie elders gepubliseer is. Vertaal-en publikasieregte word gewoonlik oorgekoop van internasionale uitgewers, die boeke word vertaal en aan ’n plaaslike mark in Afrikaans en/of Engels bekendgestel. Op dié manier kry Suid-Afrikaners toegang tot van die beste kinderboeke wat internasionaal gepubliseer word. Hierdie kompetisie is egter ’n manier om die teenoorgestelde te doen: om naamlik Suid-Afrikaanse illustreerders en kunstenaars aan ’n internasionale mark voor te stel. Die kinderboekbedryf is beslis ’n internasionale bedryf met boeke wat in verskeie tale regoor die wêreld vertaal word. Vir illustreerders om naam te maak, is dit vandag noodsaaklik om internasionale blootstelling te kry. Protea wil met hierdie kompetisie aan ’n internasionale gehoor wys watter talent daar plaaslik skuil.