Elize Perrin
Ek het ‘n vriendin verloor. Ons het mekaar nooit ontmoet nie. Ek kon haar nooit in die oë kyk nie, maar sy het my met ‘n stukkie van haar hart vertrou.
Ons is saamgesnoer deur moord: haar dogter, my broer. Vir drie jaar was ons deel van mekaar se lewe. Ons het albei, soos baie ander, ervaar dat die lewe soms skewe spore in jou hart trap.
Verlede jaar kon ek die hofsaak in die hooggeregshof bywoon waar twee oortreders lewenslank gevonnis is vir die daad wat hulle gepleeg het. Sy sal nooit die “voorreg” hê nie. Ek kon haar hoop vir geregtigheid aanvoel. Hoewel die oorsaak van haar hartseer aan hul familie bekend is, het omstandighede veroorsaak dat hy nog nie voor die regbank kon staan nie. Ek sou haar ‘n hofsaak wou gun. Hoewel dikwels pynlik en traumaties, is dit tog ‘n treetjie op die pad na genesing en berusting.
Sy is vroegoggend op 28 Januarie oorlede. Sy was moeg. Dit was haar laaste boodskap aan my, net nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Ek dink sy was meer emosioneel as fisies uitgeput. My laaste image aan haar het gelees: “Die son verdwyn, maar God se liefde sal steeds oor jou skyn.”
Haar son op aarde het wel onder gegaan, maar in haar nuwe tuiste is dit vol Lig. My wens is dat die Lig van liefde en vrede oor haar hartsmense, wat agterbly, sal skyn. Nie net oor hierdie familie nie, maar oor almal in ons land wat so seer het.
dankie vir die skrywe….hoor jou hart asook die van jou vriendin – ‘n ouer kom baie baie swaar oor ‘n kind se dood – eintlik nooit. Vrede vir jou! xx
Baie mooi skrywe…dankie….met die Here se genade word dit wel beter….hulle is vir ons net geleen….en sal hulle weer sien……sterkte vir almal in dieselfde bootjie…..God sal ons nooit alleen los….dit belowe Hy tog duidelik….ons moet net nie Sy hand los nie!!
Jy sal altyd onthou word, Annetjie. Sterkte ook aan jou Elize