Lesersbrief: Sondagmymering

Alta Van der Merwe van Pretoria skryf:

(Foto: Kai Sun/Unsplash)

Ek hou daarvan om Sondagoggende sommer vroeg al kerk toe te gaan. Daar is vir my ʼn nodige soort afskakel aan die sit in die half leë kerk.

Met die tyd leer ʼn mens jou gemeentemense ken en weet jy al aan die voetval in die paadjie wie dit is wat nou arriveer het. Jy kan ook maar jou horlosie dophou. Daar is families wat Sondag na Sondag op die nippertjie inkom; uitasem gejaag. Volgende Sondag is dit dieselfde storie: dis weer ʼn geblaas en gestoei voor die laatkomgesin met een gesamentlike sug daar skuinsvoor in die kerk tot rus kom. Maar die laatkommers pla my nie. Die gereelde kerkgangers wat klokslag elke Sondagmôre opdaag pla my ook nie.

Tewens, om hulle almal te sien plek inneem bring ʼn volledigheid aan my Sondag. As hulle die Sondag nie opdaag nie, kou ek vir lank aan ʼn gewonder of een van hulle olik is, of waar hulle vir die naweek heen is.

Die kerkgangers wat my egter verwonder, is die besluiteloses wat nie hulle sit kan kry nie. Net verlede Sondag was daar juis ʼn gesin van drie; pa, ma en seun. Hulle het al vroeg in die paadjie begin skoorvoet loop en dit het gelyk of die pa die ma vorentoe stoot en of ma vir pa probeer vorentoe woel. Uiteindelik bereik hulle ʼn oop ry en weer skrum die drietal. Pa wen en stoot Boetie by die ry in en beduie hy moet aanskuif en gaan sit.

Toe Boetie sit, staan Pa nog in die paadjie en beduie nee, kom hieruit ons sit eerder ʼn bietjie vorentoe. Die seun se wange het verkleur, maar hy het gedienstig uitgeskuif en hulle skrum hom toe drie rye vorentoe. Toe die pa sy seun beduie hy moet inskuif, kyk die ma op in haar man se gesig en dit lyk of sy vra of sy sy kredietkaart vir nuwe skoene kan gebruik, terwyl sy met haar kop wys Boetie moet opstaan sy dink hulle moet liewer in die ry aan die oorkant van die paadjie gaan sit.

Teen daardie tyd het ek self al kleur op my wange gehad, want ek het ophou asemhaal met die eerste meningsverskil oor waar hulle gaan plaasneem. Toe die drietal uiteindelik tot rus gekom het in die middelste blok, was ek pootuit.

Die laaste ding wat my halfuur voor die preek inkleur, is ʼn oopmondverstomming oor hoekom mense direk teen die paadjie gaan sit, sodat mens oor hulle voete moet klouter as die enigste oop plek in die middel van die ry is. Maar hiervoor kry ek nooit ʼn verklaring nie, want teen daardie tyd begin die orrelis speel en daal ʼn gelate kalmte oor my asof dit Dawid is wat vir my op sy harp speel.

Die uur voor die derde gelui op ʼn Sondag is vir my die tyd om my opnuut, tong-in-die-kies, te verkneukel oor die doen en late van mense. Volgende Sondag weet ek sal ek weer goedige binnepret hê met die op-die-nipper-gesin. Sonder die luukse van ʼn skottel om sport te kyk, sal ek ook my sportvermaak hê as ek kyk hoe mense in die paadjie skrum voordat hulle na twee of drie probeerslae ʼn doel aanteken – elkeen op sy eie stoel.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.