Lesersbrief: Vlieg nou, betaal later

Johann Stander skryf:

(Argieffoto: Unsplash)

Ons het hom geken as Riem, maar sy van was Barnard, as ek reg onthou. Hy was ons boekhou-onderwyser in die klein Laeveldse hoërskool waar ek ʼn leerling was.

Riem, soos sy bynaam sê, was lank en maer en seningrig. Nie alle leerlinge of mede-onderwysers het van hom gehou of by hom aanklank gevind nie, oor sy sêgoed. Hedendaags sou ons meen hy het nie die nodige filters nie. Dog, was daar geen onsekerheid oor wat hy bedoel het nie.

Doerie tyd het ons nog in rye, seuns en dogter afsonderlik, buite die klas gestaan, gewag tot die onderwyser jou opdrag of toestemming gee om in die klas in te gaan. Dogters altyd eerste met sy gewone opdrag: “Rol in dikkes”. Vir die wat nie wou leer nie: “Met dié punte gaan jy vir die res van jou lewe til slaan”. En wanneer die dubbel periode boekhou aan die einde van die dag verby is: “Sleep weg julle karkasse!”.

Op sy manier het hy ons ook lewenslesse geleer, veral in sy vakgebied. Die een wat my bygebly het, was sy les van “Vlieg nou, betaal later”.

Destyds het die SAL ʼn reklameveldtog gehad om mense so ver te kry om van hul oorsese vlugte gebruik te maak. En ja, dit is reg gespel, SAL – die Suid-Afrikaanse Lugdiens, met die oranje, wit en blou vliegtuie waarop die vlieënde springbok gespog het, die dae toe ons nasionale lugredery nog môg spog. Daai tyd kon baie min mense bekostig om oorsee te gaan vakansie hou en was dit ʼn grootse statussimbool vir die wat kon.

Toe loods SAL hul “Vlieg nou, betaal later”-program – mense kon oorsee vlieg en gaan vakansie hou en dan wanneer hulle terugkom begin afbetaal aan die kostes. Van ons dorp se voorste mense het lang trane gehuil met die afbetalings van hulle vakansies, lank nadat die opwinding en spogwaarde van hul vakansie verby was.

Riem was streng anti-skuld, volgens hom was skuld net vir die aankoop van bates soos ʼn huis of produksie-eenhede. En baie beslis nie vir luukshede en “vertoongoeters” nie. Kredietkaarte was vir hom van die bose. Gereeld vir ons gepreek om nie vlieg-nou-betaal-later-mense te wees nie, maar eerder betaal-nou-vlieg-later-mense.

Latere jare, toe die akademici en ghoeroes slim raak oor “instant gratification vs delayed gratification” het ek gedink Riem was sy tyd vooruit. Tot ek dit weer bedink en besef dat my oupa wat net na die Anglo-Boereoorlog gebore is, wat nie hoërskool toe gegaan het nie, wat met ʼn span osse geploeg het en hom self ryk geboer het, het hierdie beginsel verstaan. Die wete – eintlik is dit bloot net gesonde verstand.

ʼn Beginsel wat ons deur ons lewe toegepas het, en nou, later jare, kan ons baie en ver vlieg. Baie meer as wat ons doen, want nou is daar vlieg-nou-betaal-later-mense wat hulp nodig het. En ek het ʼn beter verstaan vir die oudste broer van die “verlore seun”.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Goeie raad deur Riem,wat vandag nog gebruik word.Dit is by ons ingedril as kinders,deur ons ouers.Altwee van die verlore seun,se seuns was hoogmoedig,om verskillende redes,maar altwee se sondes is vergewe deur die Outeur Jesus Christus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.