Die wêreld het mal geword

Deur Gerhard Olivier

(Foto: Andrew Stutesman/Unsplash)

Dis die jaar 2024, die menslike spesie het sy hoogtepunt bereik, of het hy?

Vir millenniums lank het die mensdom sogenaamd verbeter en gegroei. Met nuwe, beter en meer innoverende metodes vir byna elke aspek met betrekking tot die mens se lewe is dit moeilik vir enige regdenkende individu om die sogenaamde groei te ontken, maar tog is groei moontlik laaste op die lys wat die mensdom bereik het sedert ons bestaan in die tuin van Eden.

Dalk is dit eerder die teenoorgestelde van groei wat oor die jare in werking getree het.

Die mensdom het glo op die punt gekom waar hulle verveeld is met hul self en hulle lewens en het dus oorgeskakel na verregaande vorme van vermaak net om die lewe op te kikker en te ontsnap van die teisterende gedagtes van ellendigheid.

Vir jare lank is die doelwit vir die mensdom om beter en meer doeltreffende metodes van handel rakende die daaglikse lewe te ontwikkel om sodoende meer volhoubaar te kan leef. Vandag is die doelwit van die algemene persoon om geluk te vind waar dit nie gevind kan word nie.

Indien ʼn persoon van 100 jaar gelede sou getuig van wat vandag aan die gebeur is, sou dit hulle laat betwyfel of dit enigsins die moeite werd was om ʼn toekomstige generasie te gelewer het.

Die een geneesmiddel wat vir vorige generasies gedien het as ʼn hulpmiddel of riglyn om op die regte pad te bly en morele waardes en standaarde volgens te stel en dus nie mal te word nie, naamlik, geloof, word daagliks in vandag se lewe ʼn meer onberoemde gesprek.

Dit lei daartoe dat die mens uiteindelik die geleentheid sal hê om hulle eie onvoldoende en mislukkende metodes te volg tot vrede of dan geluk, maar ongelukkig sal dit lei tot presies die teenoorgestelde uitkomste.

Gerhard Olivier (Foto: Verskaf)

Die mens het die geleentheid om te wees wat hy of sy wil wees. Dis indien die hy ʼn hy wil wees en nie ʼn sy nie en indien die sy ʼn sy wil wees en nie ʼn hy nie. Dit is die punt waar die wêreld van ons gekom het na duisende jare van ontwikkeling en sogenaamde groei.

Geloof dien in die oë van die mens nie meer as ʼn voldoende riglyn nie aangesien dit teen die beginsels van die hedendaagse mees beroemde geloof, naamlik Wetenskap, is. Wetenskap tref ongelukkig nie voorsiening vir morele kwessies nie. Sonder dit sal die wêreld gevolglik verder agteruit gaan.

Die belangrikste aspek van ʼn persoon in vandag se lewe, volgens die norm in vandag se lewe, is verondersteld om jy en jouself te wees. Hierdie lei tot die volgende struikelblok in die pad, naamlik, selfsug. Met die eie ek wat belangriker word elke dag, word die eie ek meer ontevrede met hom/ haarself as gevolg van meer fout wat gevind word binne een self. Vanaf talle ‘selfies’ wat geneem word binne ʼn dag tot en met duisende rande wat spandeer word op jouself deur jouself vir jouself met honderde armoediges om elke hoek en draai wat dit aanskou.

Vanaf jou biologiese samestelling as mens verander tot en met verslaaf wees aan jouself, is alles eenvoudig komponente wat bydra tot die waansin van hierdie wêreld. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat die menslike spesie nie hulle hoogtepunt bereik het nie, maar eerder ʼn ander prestasie, naamlik, die wêreld wat hulle mal gemaak het.

  • Gerhard Olivier is ‘n tweede jaar-onderwysstudent by Aros en werk ook deeltyds by ‘n naskool.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Gerhard, jy dink dis nou erg. Teen 2099 gaan dit erger wees. Ek sien jy swot onderwys. Teen 2099 gaan daar nie meer menskike onderwysers wees nie. Ook nie menslike rekenmeesters, prokureurs, argitekte, politici, programmeerders, joernaliste en regters nie. Dokters en ingenieurs gaan bloot net hulpwerkers wees. Maar menslike ambagsmanne gaan nog bestaan. Die rol van die mens gaan verander. Ons moet gereed wees.

Pieter ·

Republikein ek vermoed jy verwys na AI, dis vandag se Crypto. Menslike onderwysers gaan vir altyd nodig wees net soos die ander beroepe wat jy daar genoem het. Nie lang gelede nie sou VHS, toe die internet en na dit Youtube video’s ook onderwysers vervang. Niks kom naby ‘n goeie onderwyser nie. Kinders in mense nie rekenaars nie.

Dit gesê hou geloof uit skool uit en my mens wetenskap is nie ‘n geloof nie!! Wat op aarde?

Pieter ·

Ek dink jy kan sê dat mense wat op hulle morele trone sit en vir ander mense sê hoe hulle lewe is verkeerd is eerder ons probleem. Waarom maak dit jou so kwaad dat mense geld op hulself spandeer om hulself mooi te maak en hulself nou en dan afneem. Dis goed doen wat jou gelukkig maak, jy het een lewe moet dit nie mors nie.

Dis veral snaaks want dit kom uit die mond van iemand wat blyk te glo in absolute moraliteit, iets wat nie bestaan nie. Waar ek moes dink oor hoe ek die posisies wat ek hou moet verdedig wys jy na jou geloof en noem dit ‘n dag en dan maak jy of jy beter is.

Jy bly in een van die beste tye om lewendig te wees gaan en geniet dit.

OW ·

Interessante skrywe.Die wêreld het beslis nie mal geword nie.Daar is ‘n persentasie indiwidue wat wel mal is. Jy praat van die tuin van Eden.Dit is presies daar waar alles vir die mens begin skeef loop het.Die mens moes die seën ontvang het van die Goeie Gewer,maar besluit toe om te vat wat hom nie toe kom nie,maar soos die tye gekom en gegaan het,het miljoene mense wel hulle hoogtepunt bereik,maar die wat volhard het,om die verkeerde te doen,sal vir hulle eie lot verantwoordelik wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pieter, Elon Musk het ander planne. Die mens se interaksie met tegnologie gaan ingrypend wees. Wat onderwysers betref, ‘n nie-mens onderwyser is seker beter as een wat kinders met stoele gooi of gunsies vra. Mens-onderwysers sal net beskore wees vir die bevoorregtes, of skole waar godsdiens deel is van die opvoeding.

Vriendelike Frikkie ·

Gerhard, Lees bietjie deur die geskiedeninis van die mensdom. Jy reken die wêreld het nou eers mal geword. Dit is al die siening van die vroegste tye af. Lees in jou Bybel van al die “mal” goed wat aan gegaan het. Die wêreld is lankal “mal” . Sê dankie vir jou ouers en opvoeding dat jy dit eers op hierdie ouderdom ervaar. Jy sou dalk jou polse afgekou het as jy jonger was. Die malligheid is dieselfde, dis net die tye wat verander het. Maar bo-op alles, die lewe bly ‘n lied.

Pieter ·

Republikein, ek is een van die mense wat werk in die veld. Dis 90% hype.

Republikein in die Wes Kaap ·

Heng Pieter, is ons al in 2098. Die tyd hét gevlieg. Laat my dink aan AT&T of IBM wat in die 1950s gesê het daar sal ‘n mark wees vir hoogstens vyf rekenaars. Daar sou nie genoeg plek wees om die goed te installeer nie. Of ‘n beroemde Engelse snydokter wat in die 1860s gesê het dat die mediese wetenskap sou nie verder vorder nie. Dinge gaan skrikwekkend vinnig ontwikkel. Behalwe in Nederland natuurlik.

Pieter ·

Republikein en ek kan jou verwys na al die kere wat iemand groot gepraat het oor die “volgende groot ding” en verkeerd was. Dink Crypto, Hyperloop ens. Luister ek kan nou ‘n basiese KI model kodeer in Python, ek verstaan hoe dit werk en dis waarom ek weet. Van die LLMs is inderdaad indrukwekkend maar die manier wat daar oor gepraat word en wat die tegnologie werklik tot in staat is is wêrelde uitmekaar.

Dis partykeer goed om nie alles te glo wat uit van die maatskappy kom nie.

Pieter ·

Republikein, moenie worry oor my nie dinge gaan ook nie baie vinnig ontwikkel in die Wes Kaap as jy jou sin kry nie.

annie ·

Wat ‘n wyse en slim jongman! Soveel insig! Jou ouers is seker trots op jou en jy op hulle.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pieter, die DA is ons grootste struikelblok.

Nicolaas ·

Baie goed gesê Gerhard. Die wêreld is inderdaad besig om mal te word, en ek is bevrees met hoe hierdie malligheid van deesdae die toekoms gaan beïnvloed, veral ons jeug. Kyk byvoorbeeld na hierdie Bela wet wat nou in die pyplyne is, en dit is net een voorbeeld uit derduisende wat genoem kan word. Ons kan net bid dat dinge beter sal gaan, anders gaan ons beslis oorrompel word deur hierdie malligheid, sterkte vir jou en jou toekoms, jou siening is reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.