2021: Moed is die entstof vir vrees en onsekerheid

Ernst van Zyl.

Die ontwrigtende 2020 was ’n veeleisende jaar vir ons almal. Baie lewens het ongelukkig onherroeplik verander, nie slegs vir Suid-Afrikaners nie, maar wêreldwyd. My hart bloei vir diegene wat weens siekte en misdaad van geliefdes afskeid moes neem, dié wat hul besighede of werk verloor het of dié wat sukkel om kos op die tafel te sit of die boeke te laat klop aan die einde van die maand.

Maar selfs op ’n maanlose aand skyn die sterre, en geen bewolkte dag verberg die son vir altyd nie (behalwe as jy dalk in Engeland bly!). Die moedigheid met vasbytmentaliteit wat ek gedurende 2020 rondom my onder ons mense gewaar het, was vir my ’n bron van inspirasie. Ek het ongelooflike heldedade van medemenslike vriendelikheid, liefdadigheid en onselfsugtigheid aanskou. Van gemeenskappe wat saamstaan om hulself te beveilig teen misdaad en plaasaanvalle, tot duisende bokse vol noodsaaklikhede wat aan Vrystaatse boere geskenk is ná verwoestende brande, deur mense wat hulle van geen kant af ken nie. Miljoene rande is ook deur mense met oop harte geskenk aan Solidariteit se Noodhulpfonds om die maatskaplike nood wat as gevolg van die Covid-19-pandemie en die staat van inperking ontstaan het, te help verlig.

My oupagrootjie het sy lewe lank geglo dat jou geld nooit sal opraak solank jy ’n tiekiemuntstuk in jou beursie hou nie. Vir konteks: Hy was ’n jong getroude man wat gedurende die Groot Depressie sy Karoo-plaas moes verlaat om in die verre noorde op die goudmyne te gaan werk om die pot aan die kook te hou. As hy ter wille van oorlewing dapper genoeg was om die groot ruim vlaktes en vars, skoon lug van die Karoo te verruil vir ’n bedompige, donker mynskag en daarna kon terugkeer na sy geliefde plaas in Afrika, kan ons ook met aanpasbaarheid en dieselfde deursettingsvermoë die uitdagings van vandag oorkom en aan die ander kant uitkom. ’n Stukkie moed in jou hart moet, soos die tiekie in my oupagrootjie se beursie, jou die onwrikbare geloof gee dat solank jy nooit opgee nie, jou veggees en wil om te oorleef nooit uitgeput sal word nie. Dit verduidelik hoekom ek self ’n tiekie in my beursie ronddra.

In 2021 moet ons krag put uit die heldhaftige dapperheid, vernuftigheid, veerkragtigheid en rotsvas vasbeslotenheid wat ons voorvaders in die donkerste tye van ons geskiedenis aan die dag gelê het. Onthou vir jong Japie Greyling, wat voor ’n Britse vuurpeleton geweier het om sy pa te verraai. Onthou vir Racheltjie de Beer, wat haar eie lewe gegee het om haar boetie s’n te red. Onthou die Voortrekkervroue wat kaalvoet oor die Drakensberge moes loop. Onthou vir Dirkie Uys, wat alleen omgedraai het om saam met sy gewonde pa vir hul mense se vryheid te sterf. Onthou vir Jopie Fourie, wat met moed in sy hart getrou was tot die dood. En onthou die Boere wat bereid was om die magtigste ryk in die geskiedenis aan te vat, omdat hulle geglo het in iets groter as hulself. Vrees en onsekerheid het hulle beslis geteister, maar moed en hoop het hulle, ten spyte daarvan, tog laat opsaal.

Moed is dus nie die afwesigheid van vrees nie, maar eerder die houding dat iets anders meer werd is as dit.

Gaan lees vanaand vir gemoedsrus Psalm 55 voor jy gaan slaap en bêre gerus ’n tiekie in jou beursie. Bewaar en koester daardie brose vlammetjie van hoop in jou hart, want dit sal jou moed gee om staande te bly teen die storms wat woed daarbuite, sodat jy dapper kan leef vir dié en vir dit waarvoor jy lief is. Hou moed, hou koers, behou jou geloof, dink vir jouself en dink vooruit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam Adriaan ·

Ja om hierby aan te vul. Van die twee grootste sondes wat ‘n mens kan pleeg is om te VREES EN NIE TE GLO NIE. Want as jy VREES, GLO jy nie en as jy GLO kan jy nie VREES nie.

Kyk hoe lyk die wêreld vandag agv VREES. Gooi so ‘n bietjie GELOOF by jou daaglikse lewe en sien hoe jou lewe verander.

Marius ·

Ja so moet ons mekaar moed inpraat en motiveer in moeilike tye om nooit op te hou spartel nie. ‘n Mens verdrink slegs as jy ophou swem.
Ons is ook nie alleen in hierdie dal van doodskaduwee nie. Ons moet daar wees vir mekaar sodat dit vir niemand voel of hul alleen in die donker loop nie.
Solank die vlammetjie van hoop bly flikker is daar lig aan die einde van die tonnel.
Blaas hoog die vlam van geloof, hoop en moed in tye van wanhoop, vrees en goddeloosheid.
Afriforum is ‘n baken van hoop in hierdie donker tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.