30 jaar gelede: vreedsame afskeiding van Slowakye

Die vlag van Slowakye (Foto: Artur Widak/NurPhoto/NurPhoto via AFP)

Op 1 Januarie 1993 het nog ʼn nuwe staat in Europa tot stand gekom, naamlik Slowakye. Eintlik het twee nuwe state ontstaan, want die staat waarvan Slowakye afgeskei het, Tsjeggo-Slowakye, het ook opgehou om te bestaan en die ander deel het voortaan as die Tsjeggiese Republiek bekend gestaan.

Dit was in ʼn tyd waar, kort na die einde van die Koue Oorlog, selfbeskikking die wagwoord was – veral in Oos-Europa. Alle voormalige kommunistiese state het hulle diktatoriale regerings verwyder, meestal vreedsaam, soms ook deur gewelddadige opstande. In Tsjeggo-Slowakye het die verandering na ʼn demokratiese bewind redelik vreedsaam verloop. In die sogenaamde fluweelrevolusie van November 1989, kort na soortgelyke gebeure in Pole, Hongarye en Oos-Duitsland, het grootskaalse, maar vreedsame betogings, die kommunistiese bewind laat besef dat hulle tyd verby is. ʼn Vreedsame oorgang is onderhandel, wat reeds in Desember 1989 tot ʼn nie-kommunistiese regering gelei het.

Soos wat die land gedemokratiseer het, het ook die strewe na selfbeskikking van die afgeskeepte deel, Slowakye, wat reeds tydens die kommunistiese bewind ʼn mate van formele outonomie gekry het, toegeneem. Beide dele het hulle eie streeksparlemente gehad, en in Slowakye het Vladimir Meciar premier geword en sy deelstaat toenemend in die rigting van onafhanklikheid gelei. Hy het daarby sowel die Slowaakse nasionalisme en die gevoel van minderwaardigheid teenoor hulle groter Tsjeggiese broedersvolk bedien, asook deur ʼn welsynstaatpolitiek breë steun geniet.

Die aandrang op onafhanklikheid het nie soseer direk uit die bevolking gekom nie, maar indirek deur sterk steun vir Meciar en sy party in die streeksverkiesing. In die verloop van 1992 kon die Tsjeggo-Slowaakse sentrale regering en die streeksregering van Slowakye mekaar nie vind oor die toekomstige federale struktuur en naam van die staat nie. Meciar en die destydse Tsjeggo-Slowaakse eersteminister Vaclav Klaus het toe vreedsaam die afskeiding van Slowakye onderhandel, wat dan aan die begin van 1993 voltrek is.

Daar was wel nooit ʼn referendum oor die onafhanklikheid nie, en dit is nie ʼn uitgemaakte saak dat die meerderheid Slowake destyds hulle eie staat wou hê nie. Immers was Tsjeggië, met die hoofstad Praag, die kragsentrum van die land en daar was vrese dat Slowakye op sy eie afgekoppel sou word van Middel-Europa en in Rusland se invloedsfeer sou beland. Inderdaad was Meciar ʼn vriend van Rusland. Latere regerings vanaf 1998 het egter die land weer eensydig na die Weste uitgerig en dit reggekry dat Slowakye, gelyktydig met Tsjeggië en verskeie ander Oos-Europese state, in 2004 deel van die Europese Unie en Navo geword het en daardeur vas in die Weste geanker was en ook ekonomies gebaat het. Ten spyte van die afskeiding was die verhoudinge met Tsjeggië deurgaans goed. Vandag is die twee lande, saam met Pole en Hongarye, deel van die Visegrad-alliansie binne die EU, wat veral krities teenoor massa-immigrasie staan.

Toe die twee deelstate destyds hulle skeiding aangekondig het, was die verbasing groot. Die persepsie in die Weste was dat die twee volke weinig verskil en beter daaraan toe is in een staat. Inderdaad is beide Slawiese, Christelike volke, maar Slowakye is geen kunsmatige staat nie en het reeds in die verlede fases van onafhanklikheid geken. Terwyl Tsjeggië geskiedkundig sterk historiese bande en later vyandskap met Duitsland het, het Slowakye histories sterk bande met Hongarye gehad.

Die verloop van die geskiedenis het gewys dat die vreedsame skeiding destyds ʼn wyse besluit was. Op dieselfde tyd is die etniese selfbeskikkingstrewe in die destydse Joegoslawië deur die Serwiese meerderheidsvolk onderdruk, wat tot ʼn langdurige en bloedige oorlog gelei het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.